News

Geloftedagfeesvieringe in tydkapsule vasgevang vir toekoms

Die Voortrekkermonument wil 185 000 name in ’n tydkapsule bewaar wat oor 15 jaar, met die 200-jaar-herdenking van die Slag van Bloedrivier, bekend gestel gaan word.

Meer as 208 Geloftefeeste word vanjaar regoor die wêreld op 16 Desember gehou.

So sê Anneke Langner, mediabeampte van die Voortrekkermonument

Die Monument se bestuur voel vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar aangesien dit die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte is.

Die bestuur het ook ’n unieke projek van stapel gestuur om 185 000 name in ’n tydkapsule te bewaar wat oor 15 jaar, met die 200-jaar-herdenking van die Slag van Bloedrivier, bekend gestel gaan word.

“Oor 15 of 30 jaar van nou af sal jy kan sien watter van jou familie die geskiedkundige geleentheid bygewoon het. Jy kan dan met trots terugkyk na jou herkoms,” sê Langner.

Sy het ‘n beroep op die publiek gedoen om deel te wees van ” die gesogte groep van 185 000 Afrikaners wat vanjaar hul nalatenskap sal laat.”

toekoms
Martiens Swart (links) en Anton van Vollenhoven in Van Bloedrivier tot Bosoorlog.

Mense wat nog getrou Geloftedag herdenk, word aangemoedig om hul name te registreer op die Voortrekkermonument se webwerf.

Daar is twee skakels, een om ‘n gratis sangboekie vir Geloftedag by die monument af te laai, en die 185 000-skakel vir trotse Afrikaners wat nog Geloftedag vier.

Verskeie produksies en geleenthede sowel as funksies het in Gelofteweek die gedenkgeleentheid op die 16de voorafgeloop.

“Dinner for one” deur Lefra-produksies met Justin Strydom as James die butler, en Elma Potgieter as Miss Sophie, het die gehoor behoorlik aan die skater gehad.

Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ’n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek.

toekoms
Mila Smith.

Van Bloedrivier tot Bosoorlog is ’n toneelstuk van drie ure waar die grootste oorloë van Suid-Afrika in vier bedrywe saamgebind was.

Dié toneelstuk het in Gelofteweek by die Voortrekkermonument op 8 Desember 2023 in die feestent afgeskop.

Ook op die operafront kon operaliefhebbers ‘n vertoning bywoon.

Die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument was ten spyte van die koue Sondagmiddag op 10 Desember stampvol met mense wat die Opera Gala-geleentheid van die FAK kom geniet het.

LEES OOK: Leeuwelpies, verjaarsdaggorilla en nuuskierige kamele sterre van kerspartytjie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button