Mokerhou-slagoffer trek aanrandingsaak teen Bittereinder-leier terug
Die slagoffer van 'n beweerde aanrandingsvoorval in 'n kroeg in die Moot in Desember het sy saak teen die leier van die Bittereinder-beweging teruggetrek.
Die slagoffer van ’n kroeggeveg in die Moot op 2 Desember 2023 het sy saak teen die leier van die Bittereinder-beweging gister teruggetrek.
Hy is na bewering in ’n kroeg in Capital Park oor die kop geslaan deur Francois van der Merwe met ’n 450ml- brandewynbottel en moes die aand na middernag hospitaal toe gaan om steke te kry.
Dit volg na Van der Merwe op Maandag, 29 Januarie in Pretoria in die magistraathof op ’n klag van aanranding verskyn het.
Die slagoffer, wat anoniem wil bly, sê dat hy die aanklaer versoek het om die saak terug te trek.
“Ek voel dat hy sy les geleer het met die voorval en nie weer sy hande in ’n kroeg sal lig nie. Ek hoop ook hy het geleer dat geweld nie ’n oplossing vir alle probleme is nie,” sê die slagoffer.
Die voorval het plaasgevind na ’n woordewisseling tussen die slagoffer en Van der Merwe waartydens die slagoffer by Van der Merwe wou hoor wat sy definisie van die woord “boer” is .
Die slagoffer verduidelik hy het ook die tyd wat Van der Merwe agter tralies deurgebring het in Desember voor sy borgtogsaak, in aanmerking geneem.
“Ek het net gevoel kom ons vergeet en vergewe, en beweeg aan,” vertel die slagoffer.
Nog ’n beweegrede vir die terugtrek van die saak deur die slagoffer, is dat hy opgemerk het Van der Merwe is verlede week in ’n onverwante voorval in hegtenis geneem.
“Ek het opgemerk hy is weer gearresteer en word aangekla van beweerde aanranding. Hierdie outjie is nog jonk en onder 25-jarige ouderdom. Hy is vir die tweede keer in ’n kort tydjie agter tralies. Dit sal hom sielkundig raak. In my geval het die aanklaer en die polisie hom ’n waarskuwing gegee. Ek wil bydra om hom dalk weer ’n kans in die lewe te gee,” verduidelik die slagoffer.
Hy het volkome herstel van die wond wat hy gedurende die beweerde aanranding in die kroeg deur Van der Merwe aangedoen is.
“Ek is ’n agterryflank in menige rugbywedstryd gewees en dit glo ek het my gouer van die hou teen die kop laat herstel,” vertel die slagoffer.
Van der Merwe en ander lede van die Bittereinder-beweging het na Groblersdal in Limpopo gegaan om protes aan te teken teen die inhegtenisname van Piet Groenewald en Stephan Greeff.
Groenewald en Greeff is verdagtes in ’n saak waar hulle beskuldig word van beweerde aanranding van ’n veiligheidswag.
Van der Merwe is voor die hofverrigtinge van Groenewald en Greeff kon begin, in hegtenis geneem.
Hy het die volgende dag in ’n hof verskyn op klag van aanranding en inmenging met die polisie in die uitvoering van hul pligte.
Van der Merwe het na bewering deur die polisiekordon gebeur toe die Bittereinders voor die hof daarop aangedring het dat Greeff en Groenewald op borgtog vrygelaat word.
Hy is steeds in aanhouding en sal later vandeesweek weer in die hof verskyn.
Lees meer oor die klag teen Groenewald en Greeff:
– Kliek hier vir ’n video vanaf die Bittereinders se Facebookblad oor die Groblersdal-optog:
https://www.facebook.com/watch/live/?ref=watch_permalink&v=686746873652898
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
