Gala-aand by Pretoria-oos kinderhuis
Vir die bestuur van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise begin 'n nuwe era met 'n nuwe ambassadeur, musikant Leon Gropp, om fondsinsamelings en motiveringsaksies te begin.

“Al is jy ’n weeskind, is daar ’n paar dinge in die lewe wat niemand van jou kan wegneem nie en een daarvan is die geleentheid om aan jou persoonlike groei te werk en suksesvol te word.”
Só het ’n alumnus van die Jakaranda-kinderhuis, Bennie Ngobeni van Montana, tydens die gala-aand van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis op 7 Maart gesê.
Ngobeni, ’n verkoopsbestuurder by ’n luukse motoronderneming, het vertel van sy grootwordjare in die kinderhuis.
“Almal het bygedra by die kinderhuis om my suksesvol vorentoe te kan laat gaan in die lewe. Dit was egter nie net ’n ondersteuningsisteem nie, maar die personeel en ons donateurs het my gehelp om altyd die groter prentjie te sien,” verduidelik Ngobeni.
Een van die goue lewensreëls wat hy by die kinderhuis se personeel geleer het, was “dat jou naam beteken alles en juis daarom moet jy dit oppas”.
Hy voel die kinderhuis het hom die geleentheid gegee om vir homself ’n pad in die lewe oop te veg en vir homself op te staan.
“Ons het die minimum by die kinderhuis gehad, maar dit was altyd genoeg. Wat saak maak in die lewe was hierdie middele was tot ons beskikking sonder moeite en ’n geveg. Daar was altyd ’n warm bed, kos en ’n skool sowel as mense wat versorg en omgee,” benadruk Ngobeni.
Hy het sy dank ook teenoor skenkers aan die kinderhuise se fondse oor die jare uitgespreek.
Die uitvoerende bestuurder van die twee kinderhuise, Charlene Grobler, het ’n prentjie geskets van die eerste dag toe sy Ngobeni as ’n seuntjie ontmoet het by sy aankoms by die kinderhuis.
“Ek sal altyd die dag onthou. Ek kon sommer sien hier kom ’n soet-stout enetjie, maar ook ’n vegtertjie. Ons is so trots op wat hy bereik het,” sê Grobler.
Sy het haar toespraak vir die aand begin met die frase: “Moeilikheid is ons besigheid.”
Volgens Grobler dink en praat hulle nie by die kinderhuise in terme van families nie aangesien 90% van die inwoners van hul ouers verwyder is.
“Ons praat van onsself as ’n ‘tribe’ want ons wil daarnatoe werk om almal tuis te laat voel,” sê Grobler.
Sy het haar wenslys vir die kinderhuise aan die gehoor voorgehou soos om ’n koffiewinkel by die kinderhuis deur die inwoners te laat bedryf sodat die leerders entrepreneurvaardig kan wees.
“Wat my hartseer maak is wanneer ons ’n inwoner kry wat sê: ‘O, my ma was in hierdie kinderhuis’. Dit beteken vir my ons het nie die siklus van gebrokenheid gebreek nie en dis juis ons doel.”
Grobler het daarop gewys dat slegs sowat 43% van die twee kinderhuise se uitgawes deur ’n staatsubsidie gedek word.
Sy het borge van die aand en skenkers bedank vir hul gulhartigheid om die bedrae aan te vul.
Sanger en TV-aanbieder Leon Gropp is as die twee kinderhuise se Ambassadeur vir die volgende twee jaar aangekondig.
Die pa van drie het op Grobler se vraag oor ’n vertoning van hom wat gaan oor die kategorieë waarin mense mekaar so maklik plaas, gesê hy dink dis hoe mense sin uit hul wêreld maak.
“Maar dit beteken nie ons kan mekaar nie uitdaag om nuut oor onsself en andere te dink nie,” beklemtoon Gropp. “Ons moet mekaar se boksie-denke uitdaag ook oor iets soos kinderhuise.”
Die sowat 200 gaste is deur Grobler en uitvoerende finansiële bestuurder, Ian van Zyl, op die rooi tapyt ontvang.
Die junior burgemeester van Tshwane, Leandry Smith, ’n leerder aan Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, het leiding gegee aan sowat 20 junior stadsraadslede om kelners te speel tydens die skemerkelkies en bediening van die maaltyd.
Die gehoor is deurentyd vermaak deur die skerpsinnige kwinkslae van die seremoniemeester van Potchefstroom, Coppertop en sy orkes GingerSnap.



Lees: NGV-baas sê SA is een stap nader aan die NGV
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.