‘Roos van Roseville’ laat tuinklub se ledetal blom
Gesellige kuierhoekies, kunstige fokuspunte en ekstra groente om uit te deel is die kenmerke van 'n Moot tuinmaker van formaat se geil en groen tuin.
By Ronel Mey kan jy op soveel plekke in haar geil en groen tuin sit vir ’n koppie tee en varsgebakte koek, dat jy wens jy kan ’n hele dag so van hoekie tot hoekie kuier en klets.
Die gulhartige en kunstige onderwyseres in gasvryheidkunde aan die Suiderberg-skool vir leerders met spesiale behoeftes is ook ’n versamelaar van vele stylvolle skilderye, matte en breekgoed.
Jy kuier net so lekker binnenshuis ook.
Vir die tuinmaker van formaat – noem haar maar die Roos van Roseville – was daar egter een groot hartsbegeerte nadat sy en eggenoot Frans ’n paar jaar gelede die ruim huis ingerig en die tuin van vooraf opgebou het.
May wou so graag ’n outydse potteskuur in haar tuin hê waar sy haar versameling outydse ystergieters kon bêre, af en toe rustig ’n blaaskans op ’n sagte bank kon neem, maar ook kleiner tuinwerkies doen soos saad droog en steggies maak.
So gesê, so gedaan.
Dit is hoe dit met haar eggenoot Frans werk. Hy is ’n pensioenaris wie se hande vir niks verkeerd staan nie.
Vandag het Mey in ’n hoek van haar noukeurige en netjiese agtertuin ’n ware krap- en knutselwerkplek.
Netsowel, want sy is voorsitter van die bedrywige Potpourri Huis en Tuinklub in die Moot waar lede temas kies en daarrondom tien vergaderings ’n jaar hou.
By die voormalige Laevelder hoor jy gou hoe haar ma en ouma haar uitkyk op tuinmaak beïnvloed het.
“My passie vir tuinmaak kom van al die jare se toegewyde tuinmaak op ons plaas naby Witrivier,” sê Mey. Haar ouers het met groente geboer.
Mey glo groente groei soms beter in potte in die stad, dat haar gras twee keer ’n week gesny moet word en dat die uitmergelende hitte van die pasafgelope somer verg dat tuine so twee maal ’n dag water moet kry.

Ook belangrik vir haar is ’n tuin vol persoonlikheid waarin kleur en verfraaiing by wyse van standbeelde en sierplante as fokuspunte ’n groot rol speel.
Beskerming van plante en veral vrugte is vir die praktiese planmaker ’n voorvereiste. Tans is die druiwetrosse in haar prieël elk netjies toegemaak met ’n deurskynende haarnet.
“Die voëls kom nie naby die vrugte nie,” verduidelik sy.
Van beskerming gepraat: Die egpaar se twee worshonde is goed geleer en sal nie sommer beddings en plante beskadig nie. Die heerlike omkoopsnoeperye elke middag presies om vieruur vir die tweetjies mag dalk veel hiermee te make hê!
“Aan liefde is hier geen tekort nie,” sê May, ook ’n ywerige musiekliefhebber van veral jazz en blues.
Sy is ook ’n wandelende Geel Bladsye oor restaurante en koffiewinkels in hul area. Met laasgenoemde is ’n groot gunsteling Coffee@Capital.

Sy werk graag soggens in die tuin as dit koel is en glo ook groente en kruie moet gekweek word waar daar merendeels koelte is.
’n Skadunet wat oop en toe gerol kan word, beveilig plante soos spinasie en pietersielie in haar tuin teen die son sodat daar ook altyd ietsie ektra te ete uit die tuin skool toe geneem kan word waar daar behoefte is.
“En daar is altyd vars slaai vir eie gebruik.”
Die krag van die Tuinklub lê vir Mey in die verskeidenheid en uiteenlopendheid van die lede.
“Kundig of onkundig, manlik of vroulik, van elke moontlike beroep en ouderdom, by ons vind jy iets vir almal en daar is projekte te kies en te keur,” vertel Mey.
Sy glo nuwe lede is belangrik vir ander in die klub se groei en verwelkom graag nuwe bloed. Die ledetal is dan ook aan die toeneem.
Onlangs het hulle gaan inloer by ’n natuurlike komposmaker om meer van die nuttigheid daarvan in Pretoria-tuine te leer, asook by ’n heuningplaas om te leer wat die rol van bye in tuine kan wees.
Soos verwag kan word met ’n leier met ’n vrygewige en gul hart vir haar leerders, tuinklublede en gesin, glo Mey die klub moet ook aan die gemeenskap kan teruggee en nie net ontvang van diegene by wie hulle kan leer nie.
LEES: Rietbok-raaisel: “Ons moet nie dinge op die oog af aanvaar nie”
Die klub maak saam met ’n ouetehuis in Pretoria-Noord onderklere vir behoeftige vroue bymekaar en versprei tweedehandse tydskrifte by skole.
“Dis ons gemeenskapvisie om nood raak te sien en te help waar ons kan,” vertel Mey.
Sy ervaar dat so ’n klub ook vir talle lede ’n skans teen eensaamheid kan wees.
“Vir sommiges is ons vergadering en uitstappies hulle enigste ontvlugting van die maand. Ek is bly ons kan ook vir diegene ’n heenkome bied.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



