Pierneefteater vier sy mondigwording
Die geliefde Pierneefteater in die Moot het onlangs Mathys Roets op hul mondigwordingsvieringe verwelkom wat met die teater se opening 21 jaar gelede opgetree het.
Die Pierneefteater in die Moot het op 17 Maart sy 21ste verjaarsdag op ’n innige manier gevier met Mathys Roets wat heel eerste in die teater opgetree het op die pretensielose verhoog.
Agter Roets op die verhoog was plakkate van sy optredes oor die jare.
Roets het teatergangers op ’n filosofiese en nostalgiese reis deur sy jare met optredes by die Pierneefteater geneem.
Hy was veral aangedaan oor plakkate van ander sangers en liedjieskrywers in sy kleedkamer. Groot name oor die jare op die teater se verhoog sluit in Sandra Prinsloo, Wilna Snyman, Patrick Mynhardt, Marga van Rooy, Rina Hugo, Manuel Escorcio en Jannie du Toit.
Hierdie teater op die gronde van die Rietondale High School se eerste vertoning was in 2003 in samewerking met Die Teaterhuisie-teatermaatskappy van Petru Wessels en Carel Trichardt.
Eienaar van die Pierneefteater, Jopie Koen, het juis aan die legendariese teater-egpaar eer gebring as die twee voorlopers in wie se spore sy wou loop.
Sy het die groot aantal konsertgangers teruggeneem na die dae toe Fanus Pienaar die eertydse werkswinkel op die skool se gronde in ’n teater moes omskep.
“Fanus sien kans vir enigiets,” vertel Jopie. Dieselfde kan van haar gesê word.
Met die voorbereiding van die teater in 2003 vir Roets se eerste opvoering, het Koen se ma, Hettie Prinsloo, self die gordyne vir die verhoog en vir die akoestiese versorging gemaak.
Jopie het ook andere ondersteuners uitgelig: Fanie Marais van die Cordis-trust wat ook steun gee vir optredes deur kunstenaars met gestremdhede by die teater en haar broers, Johann en Fred Koen.
Die vieringe is ook bygewoon deur inwoners van ’n tuiste van die organisasie, You Are not Alone, wat omsien na mense met skisofrenie. Die inwoners het ’n uitstalling van hul handwerk gehou.
Johann Koen het ook tydens Covid-19 tesame met Jannie du Toit en Fanie Marais finansieel gehelp om met aanlyn konserte die Pierneefteater se kunstevlam hoog te laat brand.
“As dit nie hiervoor was nie, het ons nie vandag hier bymekaar gekom nie,” sê ’n skugter Jopie.
Jopie het ’n oorkonde van die Cordis Trust sowel as NS Skrywershuis vir haar bydrae tot Afrikaans en die kunste in Pretoria ontvang.
Sy het ook vir Rona Greeff en Rina Jackson vir hul bydraes oor die jare bedank.
Aan karwag Jacob Makhonjwa het sy ’n spesiale woord van dank gerig. Makhonjwa pas al vanaf die bestaansopvoering die karre op.
Tydens die herdenkingsvieringe op 17 Maart was hy weer getrou aan diens met sy foutlose Afrikaans en spontane glimlag.
Roets het met die ikoniese lied van Koos du Plessis “Sprokie vir ’n stadskind” weggespring.
Van meet af aan is die toon gestel vir ’n innige middag vol staaltjies oor ander kunstenaars en uit sy eie loopbaan.
Met sy tweede liedjie “Droomvrou” se meesterlike vertolking het Roets teruggekyk op die lewe van liedjieskrywers soos Lucas Maree en Coenie de Villiers.
Soos altyd met sy optrede is daar so aan die einde van ’n liedjie die spontane seunskindglimlag van hierdie effe inkennige kunstenaar.
Roets het ook die gehoor teruggeneem na sy eerste optredes in Pretoria.
Eers in die huis van iemand op wie hy ’n ogie gehad het en toe in Mei 1996, in die Edelweiss-restaurant.
Hy spesialiseer in oogkontak met sy gehoor.
Toe sy blik so oor die gehoor gly, het hy ’n kunstenaar opgemerk wat gereeld saam hom opgetree het: Anneke Coetzer.
Hy het van die vioolspel en agtergrondsang van Coetzer op sy musiekrekenaar opgespoor soos hulle samesang en haar spel op die Kanadese liedjieskrywer Leonard Cohen se “The Waltz”.
Wat ’n bekoorlike spontane aanpassing van die musieklys vir die middag!
“Ek hou nou nie altyd by wat van my verwag word nie, of dit nou in die lewe of op ’n liedjielys is nie,” het Roets selfspottend kwyt geraak.
Met dieselfde spontaniteit, het Roets tong in die kies vertel hoe hy Cohen na ’n konsert van hom in Toronto genooi het.
“Maar hy was moontlik te besig,” spot hy.
Met sy vertolking van Cohen se ikoniese liedjie “Suzanne” het Roets die gehoor meegesleur. Hy het glimlaggend die welverdiende applous erken.
Hy het ook die gehoor vermaak met die staaltjie van hoe hy sonder enige kommunikasie nadat sy motor naby Richmond gebreek het, 4km op ’n grondpad met sy rolstoel moes aflê, voordat ’n boer se werkers hom op ’n veilighedskamera raakgesien het.
“So ’n skaapdief het hulle nog nooit gesien nie!” skerts Roets.
Hy het op dieselfde amusante manier sy liedjies meesal oor verlange en die dieper dinge van die lewe, met anekdotes vervleg.
Roets se stem het veral tot sy reg gekom met die sensitiewe vertolking van sy eie liedjie “Grassade en katedrale”.
Na verdere stories oor ’n padstal wat mens liewers moet vermy as jy water wil koop naby Oudtshoorn (“want dis suiwer mampoer!”) en hoekom musiekliefhebebrs die FAK se Liedjietuin moet besoek, het Roets begin om sy vriend, wyle Piet van Wyk de Vries, se liedjies te sing.
Die gewilde en produktiewe Afrikaanse liedjieskrywer is verlede jaar kort na sy laaste optrede in die Atterburyteater oorlede aan kanker.
Met sy fynbesnede gelaat aangedaan oor ’n vriendskap wat reeds in die laat negentigerjare begin het, het Roets Van Wyk de Vries se liedjie “Rembrandt” met begrip vir die woorde aangebied.
Dis miskien Roets se uitstaande talent: Sy musikaliteit om aan woorde en note, hetsy in staaltjies of in ’n lied, ’n nuwe betekenis te gee en jou bietjie verder en dieper oor die liefde en die lewe te laat dink.
“Ons het almal stories nodig. Jou eie of die van andere. Stories maak die lewe mooi. En ons het almal die mooi nodig.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.








