Wêreldboekedag fokus op kinders se boekkeuses
Twee jeugboekskrywers glo jong lesers moet boeke lees waarin hulle belangstel.

Op 23 April, Shakespeare se verjaarsdag, word Wêreldboekedag gevier.
Verskeie skole soos Hoërskool Eldoraigne vier die dag reeds op 22 April. Hul leerders gaan soos hul gunsteling-fiksiekarakter aantrek en aan sosialemediakompetisies daarrondom deelneem.
Vanjaar se tema is daarop geskoei om ’n bewussyn te skep dat kinders toegelaat moet word om hul eie keuses oor boeke te maak aangesien sulke keuses die jongklomp makliker goeie en volhoubare leesgewoontes laat aankweek.

Merlyn van der Rheede, noordelike projekbestuurder van die Afrikaanse Taalraad, glo die beste manier om ’n liefde vir lees by ’n kind te kweek, is om as ouer ’n voorbeeld te stel.
“Laat jou kind sien hoe jy dit geniet om te lees deur oor jou eie leeservarings te gesels. Lees ook gereeld vir jou kleuter voor, veral boeke met kleurryke foto’s. Luister na waarin jou kind belangstel en probeer boeke vind wat hierby aansluit. Dit kan help om die leeservaring vir jou kind persoonlik en betekenisvol te maak,” sê Van der Rheede.
Sy beveel aan dat ouers gereeld met hul kinders gesels oor die boeke wat hulle lees.
“Vra hulle wat hulle geniet het van ’n spesifieke boek, wat hulle gedink het van die karakters en die storie, en of hulle nog iets soortgelyks wil lees. Moedig jou kind aan om ’n verskeidenheid boeke te probeer, insluitend verskillende genres, temas, en skryfstyle. Dit kan help om hul verbeelding te stimuleer en hul leesvaardighede verbreed,” verduidelik Van der Rheede.
Vir die Afrikaanse Taalraad is die viering van hierdie internasionale dag belangrik.
“In ’n land soos Suid-Afrika, waar uitdagings soos armoede, ongelykheid en taaldiversiteit bestaan, kan die viering van Wêreldboekedag ’n manier wees om ’n kultuur van lees en kennis te bevorder wat ons nasie kan versterk en ’n meer inklusiewe samelewing skep. Dit kan ’n positiewe impak hê op die onderwysstelsel en ekonomiese ontwikkeling deur ’n bevolking te bemagtig met die nodige vaardighede om suksesvol te wees in hul moedertaal,” sê sy.
Van der Rheede is ten gunste van moedertaalboeke vir kinders.
“Wanneer jy in jou moedertaal lees, is dit dikwels makliker om die inhoud te verstaan en om ’n dieper verbintenis met die karakters te vorm. Dit kan lei tot ’n ryker leeservaring en ’n beter begrip van die wêreld om ons,” verduidelik sy.
Sy is ten gunste van die koms van e-boeke en digitale leesplatforms.
“Die boekbedryf verander en nuwe geleenthede is geskep vir skrywers, uitgewers, en lesers. Selfpublikasie het skrywers ook meer beheer gegee oor hul eie werke en die selfpublikasieplatforms het ’n groter diversiteit van stemme en stories moontlik gemaak,” sê sy.
As kind was haar gunstelingtydskrifstorie Bollie.
“Dit het gehandel oor ’n vindingryke hasie wat altyd een of ander ondeunde plan gehad het. Dan natuurlik was die jeugverhale, Trompie- en Saartjie-boekreekse my gunstelinge,” dink sy terug.
Haar aanbeveling van drie boeke vir kinders en tieners vandag is: Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, deur Marita van der Vyver, Spaghetti tussen jou tone deur Jaco Jacobs en natuurlik die bekende Saartjie-boekreeks deur Bettie Naudé.

Annerle Barnard is die bekroonde skrywer van tienerboeke (spanningsfiksie) soos Sweepslag, Sindikaat en Spel.
Sy glo nie kinders moet gedwing word nie om boeke te lees oor onderwerpe waarby hulle nie aanklank vind nie.
“Ons volwassenes is ook so. Ek lees net die genres waarvan ek hou. My jongste seun lees in die Manga-genre en ek los hom. Dit is beter as dat hy glad nie lees nie,” sê Barnard.
Haar oudste seun weer het besluit hy lees nie weer Afrikaans nie as gevolg van ’n slegte ervaring met sy voorgeskrewe leesboek op skool.

“My oudste is op ’n seunskool. Sy voorgeskrewe boek was ’n tipiese meisiesboek. Die onderwyser het die boek gehaat. My kind het dit beslis nie gelees nie. Ek glo hy het maar YouTube-videos daaroor gekyk om deur te kom,” verduidelik sy.
“Gee vir jou kind wat hy wil lees anders kry hy dalk ’n renons in lees. Dit help nie jy gee vir hom iets waarin hy nie belangstel nie. Hy gaan dit net ignoreer,” voel sy.
Sy glo dis juis oor hierdie rede wat Afrikaanse jeuglesers dikwels eerder Afrikaanse boeke verkies.
“Die jeuglesers het die persepsie Afrikaanse boeke gaan oor clichés. Hulle voel daar is ’n beperking op waaroor Afrikaanse jeugboekskrywers mag skryf en in Engels mag die skrywers enige onderwerp takel,” maan Barnard.

Sandy Schoeman, nog ’n jeugboekskrywer wat onlangs aangekondig is as ’n wenner van die NB Uitgewers-Jeugboekprys met haar boek Chakalaka uit’n blikkie, glo kinders is van die nuuskierigste wesens op aarde.
“Hulle is ook opgaarders van kennis en inligting, maar hulle mors nie graag hulle tyd met iets wat nie hul belangstelling prikkel nie. ’n Verpligte boek mag dalk raak soos die verpligte skoonmaak van ’n kamer. Hulle haat dit en hulle sal dit aframmel met die minste moontlike inspanning sodat hulle iets kan gaan doen waarvan hulle regtig hou,” sê Schoeman.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
