Local newsNews

Inspirerende reis: Twee vriende besin oor hul epiese avontuur

Die duo het staatgemaak op die ondersteuning van plaaslike gemeenskappe en motorfietsklubs, waarvan hul leiding en bystand van onskatbare waarde was.

Twee vriende het onlangs teruggekyk oor hul merwaardige reis van Pretoria na Madrid.

Moot-inwoner dr. Jean Cooper en dr. De Witt Oosthuizen van Australië het verlede jaar die reis oonderneem wat hulle deur die hart van Afrika geneem het.

Dit het onuitwisbare indrukke op hul siele gelaat en ’n onbreekbare band tussen hulle gesmee, meen hulle.

Sien https://www.citizen.co.za/rekord/news-headlines/local-news/2023/11/02/tien-dae-van-rillerpaaie-vir-pretoria-motorfietsryers-op-pad-na-madrid/

Terwyl hulle nadink oor hul opwindende reis genaamd Expedition H2O, het Cooper insigte gedeel oor hul persoonlike groei en die verdieping van hul vriendskap.

Dr. Jean Cooper en dr. De Witt Oosthuizen tydens hul reis.

Die avontuur het hulle deur uiteenlopende landskappe en kulture geneem, maar dit was die warmte en vrygewigheid van die mense wat hulle teëgekom het wat die blywendste herinneringe by hulle gelaat het.

“My gunstelingherinnering is hoe vriendelik die mense was,” onthou Cooper. “Van die aanbied van water tot om ons uit die modder te trek, die plaaslike inwoners se vriendelikheid en bereidwilligheid om te help het ons werklik geraak.”

Die duo het staatgemaak op die ondersteuning van plaaslike gemeenskappe en motorfietsklubs, waarvan hul leiding en bystand van onskatbare waarde was.

“Ons sou dit nie kon doen sonder die plaaslike inwoners wat ons gehelp het nie,” erken Cooper dankbaar.

“Hul insigte en advies, tesame met hul gasvryheid, het ons reis moontlik gemaak.”

Hul reis het nie net fisiese landskappe deurkruis nie, maar ook die dieptes van hul eie siele verken.

Cooper het besin oor die besef van hoe min mens nodig het om werklik gelukkig te wees. “Ek dink iets wat mens agterkom, is hoe baie ons het en met hoe min mens eintlik kan klaarkom en steeds gelukkig wees. Mens word gekonfronteer deur mense wat met baie min regkom en hulle lyk steeds gelukkig,” vertel hy.

Cooper en Oosthuizen se motorfietse tydens die reis.

Ek het agtergekom hoe baie ek het. Ek probeer om af te skaal en meer minimalisties te leef,” voeg hy by.

Hy meen dat die reis hom ook laat nadink het oor wat werklik belangrik is in die lewe. “Materiële goed is nie meer so belangrik vir my soos altyd nie. My gesondheid is weer opnuut vir my belangrik en dit is noodsaaklik om dit te waardeer en op te pas.”

Die reis het ook vir Cooper en Oosthuizen nader aan mekaar gebring, ten spyte van hul kontrasterende persoonlikhede.

“Ons het saam gebly as studente by die Sonop Koshuis, maar ons persoonlikhede verskil baie,” verduidelik Cooper. “Die reis het ons toegelaat om mekaar se sterk- en swakpunte te verstaan en te waardeer, en mekaar in moeilike situasies aan te vul.”

Met die terugkeer na die alledaagse lewe het hul ’n aangrypende herinnering aan die eenvoud en reinheid van hul reis ervaar.

“Die groot antiklimaks was om terug te keer na die alledaagse lewe,” erken Cooper. “Maar die herinneringe wat ons gedeel het ondersteun ons deur die alledaagse roetines.”

Een van vele watertenks wat opgerig is.

Hul avontuur het nie net oor hul eie persoonlike groei gegaan nie; dit het ook ’n tasbare impak gehad op die gemeenskappe wat hulle besoek het.

Hulle kon ’n aantal watertenks in verskeie gebiede oprig danksy die vrygewigheid van hul ondersteuners, wat ’n noodsaaklike hulpbron aan behoeftiges verskaf het.

Terwyl hulle hul ervarings verwerk, skryf Cooper daaroor. “Ek is besig om ’n boek te skryf oor die innerlike reis wat parallel loop met die uiterlike reis, juis om die aspek van persoonlike groei aan te spreek. Ek hoop om teen die einde van die jaar klaar te wees,” deel hy.

Hy spreek sy dankbaarheid uit teenoor almal wat finansieel bygedra het tot die reis. Die fondse was genoeg om 17 watertenks in verskeie gebiede op te rig, wat water beskikbaar gestel het vir 816 mense.

“Enigiemand wat graag wil bydra tot die kostes van ons mees onlangse reis of enige toekomstige avonture is welkom om ons te ondersteun deur middel van BackaBuddy Expedition H2O – Back to basics.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button