Local newsNews

Rubriekskrywer se boek wys die waarde van kritiese denke

Hierdie rubriekskrywer se skalpel sny diep in die wese en geskiedenis van Suid-Afrika vanaf 2016 en neem fyn waar hoe die weefwerk van die samelewing verander na gelang van hoe politieke en maatskaplike winde van verandering waai.

’n Luisterryke boekbekendstelling is op 23 Mei vir die loodsing van oud-parlementslid, radiobaas en prokureur Willie Spies se insiggewende boek, Eie rigting, in Pretoria gehou.

Geliefde radio-omroeper, Sarina Bosman, het van die rubrieke voorgelees en insiggewende vrae deur koerantredakteur, Barnard Beukman, is aan Spies tydens ’n bespreking voor ’n gehoor van meer as 100 gerig.

Musiek is deurgaans deur die tweemangroep Deca se Herman en Douw Steyn verskaf.

Die boek met veral politieke kommentaar en skerpsinnige eietydse waarnemings, bestaan uit 117 rubrieke wat Spies oor ’n tydperk van agt jaar tussen 2016 en 2024 geskryf het.

Spies (56) vertel dat sy agtergrond as regsman bygedra het tot sy ontwikkeling as skrywer.

“Dissipline speel ’n groot rol in die regte en by skryf ook. Natuurlik leer mens ook as regspraktisyn op sekere kritiese manier dink en dit help met die skryfwerk,” glo Spies.

Hy het die Vryheidsfront Plus (VF+) verteenwoordig in die Nasionale Vergadering van 2004 tot 2009.

In September 2009 het hy uit die parlement bedank om sy regsfirma Hurter Spies Inc. in Pretoria te stig. Hurter Spies het sedert 2009 veral burgerregte-litigasie vir burgerregte-organisasies hanteer.

Die boek kry juis sy titel vanaf ’n regsterm: “Eierigting” wat beteken dat jy die reg in jou eie hande neem.

“In ’n grondwetlike bestel is die uitgangspunt dat die burgery kollektief hul reg om hulself te beskerm oordra aan die staat. Wanneer die staat faal en nie meer sy burgers beskerm nie, verander die situasie. Dan raak eierigting nodig,” verduidelik Spies.

Hy is bekend vir die rol wat hy gespeel het as eers besturende direkteur en later as uitvoerende voorsitter van die eertydse Radio Pretoria en nou Pretoria FM. Veral om die stasie op die lug te hou toe radio-owerheid Independent Communications Authority of South Africa in 2012 opdrag gegee dat uitsendings vanaf herleistasies gestaak moes word. Hofaansoeke het gevolg en uiteindelik ’n deurbraak. Uitsaailisensies is aan die herleistasies toegeken.

Koerantredakteur Barnard Beukman en radiobaas van Pretoria FM, Willie Spies het heerlik gesels oor Spies se boek, Eie rigting, tydens die bekendstelling van hierdie stel rubrieke in boekvorm.

Spies se belangstelling in geskiedenis wys duidelik uit die boek se ietwat omstrede inhoud wat wyd strek en talle brandpuntkwessies onder die vergrootglas bring. Hy gee nie om om standpunt in te neem en vasberade daarby te hou nie.

Sy ondersoekende maar spitsvondige blik val op sportmanne soos Federer, politici soos Zuma en Mugabe maar sluit ook Da Vinci en Galileo in.

“Ek hou daarvan om na geskiedkundige gebeurtenisse se lesse te soek en dit te koppel aan wat vandag relevant en in die nuus is. ’n Liefde vir geskiedenis gee jou ’n deernisvolle blik op die verlede,” meen Spies.

Sy kritiese blik val ook op samelewingskwessies van die afgelope paar jaar soos staatsversuim, sosialisme, onteiening en Suid-Afrika as mafiastaat.

“Grepe uit die verlede en uit die geskiedenis veral oor knelpunte raak ook ’n goeie aanwyser oor wat in die toekoms kan gebeur en dit kan mens baat om daarby stil te staan,” glo hy.

Hy span ook sy liefde vir lees en die Afrikaanse letterkunde in deur te verwys na skrywers soos FA Venter, Dalene Matthee en Leon Rousseau.

Die vertel van stories en staaltjies wat die toets van tyd deurstaan het, is vir die gewilde rubriekskrywer ’n voorvereiste.

“Daar is altyd ’n storie agter die storie en hierdie agtergrond tot feite is wat my meesal boei,” verduidelik hy.

Hy hou egter daarvan om sulke gebeurtenisse en anekdotes soomloos met mekaar te verweef.

“My benadering is dat die regte detail met mekaar in verband moet staan om ’n skryfstuk krag te gee,” benadruk Spies.

Die rubrieke ontgin ook die feite en verhale rondom bekendes en onbekendes. Spies skryf oor die Guptas en Bheki Cele, maar ook oor die “onbekende soldaat” en ’n minder bekende standbeeld van ’n verwonde man in Vereeniging.

Spies verwys na sy eie rigtingloosheid in sy lewe in Januarie 2016 na sy egskeiding en vertel hoe die skryf van die rubrieke ook vir hom rigting gebring het.

“Dit het my gehelp om self ’n nuwe pad en ander horisonne te vind.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button