Noodlyn ‘n lewensaar vir geslagsgebaseerde geweldslagoffers in Pretoria
Duisende oproepe uit Pretoria na 'n hulplyn vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld is oor 'n tydperk van vier jaar ontvang.
In ’n verslag oor geslagsgebaseerde geweld wys statistiek daarop dat Pretoria die stad in Suid-Afrika is waarvandaan die tweede meeste noodoproepe gemaak is deur individue.
In die tydperk Januarie 2020 tot Desember 2023, was daar vanaf Pretoria na die hulplyn 90 oproepe per 100 000 inwoners, oftewel 3 640 oproepe in totaal, gemaak.
Die meeste oproepe is vanuit Johannesburg na die noodlyn gemaak: 94 oproepe per 100 000 inwoners oftewel 4 528 oproepe in totaal.
Die TEARS-stigting in vennootskap met die Universiteit van Johannesburg, het die verslag opgestel.
Dit onthul presiese statistieke van die ligging en slagofferprofiele van geslagsgebaseerde-voorvalle in die land.
Die inligting is vanaf die organisasie se Help-at-your-fingertips verkry.

Hierdie hulplyn van die TEARS-stigting vir slagoffers is ’n USSD-diens (*134*7355#) wat inligting via ’n selfoon stuur.
Dit gebeur met behulp van eenvoudige vinnige-gebaseerde tegnologie. Met sulke kortteksdienste word teksboodskappe nie aan die ontvanger of versender se kant gestoor nie en word interaksie bevorder.
Terwyl die bevindinge gebaseer is op 53 004 oproepe wat landwyd oor die tydperk van vier jaar ontvang is, sluit hierdie nommer die oproepe uit wat nie voltooi is nie, wat anoniem wou bly en nie vasgelê kon word nie ter wille van suiwer akkuraatheid.
Die stigter van TEARS, Mara Glennie, sê die navorsingsverslag fokus hoofsaaklik op die tyd, ligging en frekwensie van oproepe vanaf dieselfde nommer, en voorkoms van oproepe gedurende sekere tye van die jaar soos skool of openbare vakansiedae.
Sy glo die verslag is “’n oproep tot aksie om geslagsgebaseerde geweld te prioritiseer”.
Die bevindinge sluit in die weeksdae met die grootste aantal oproepe landwyd oor vier jaar: Sondae (8 541), gevolg deur Dinsdae (8 524) en Maandae (8 332).
Glennie glo sulke data kan organisasies wat geslagsgebaseerde geweld bekamp, help om hulpbronne beter te benut.
“Ook om te bepaal watter soort ondersteuning benodig word en hoe doeltreffend ingrypings is,” sê Glennie.
Sy meen Suid-Afrika sal slegs geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord bekamp deur ’n groter klem, ook in die werkplek, te plaas op voorkoming en reaksie op voorvalle.
“Ons het aanbeveel dat organisasies en werksplekke klagte- en reaksiemeganismes moontlik maak vir werknemers,” verduidelik Glennie.
Professor Corné Davis van die Universiteit van Johannesburg sê die verslag wys die wanbalans van magsverhoudings in gesinne en gemeenskappe is deels die hoofoorsaak van geslagsgebaseerde geweld.
“Sulke geweld raak beide mans en vroue. Dit is egter geneig om vroue spesifiek om ’n verskeidenheid redes te teiken en het ’n buitensporige impak op hulle,” voeg sy by.
Vir meer inligting besoek TEARS se webtuiste by https://tears.co.za/
Lees: Goud én rekord vir plaaslike Paralimpiese ster in Parys
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
