Stigting gee nuwe hoop aan geamputeerdes
’n Ontmoeting tussen ’n prostetikus en sy vrou met ’n man met geamputeerde bene in ’n rolstoel sou die inspirasie word vir ’n organisasie wat geamputeerdes help loop.
’n Toevallige ontmoeting tussen ’n prostetikus en sy vrou met ’n man wie se bene onder die knie afgesit is, het onlangs vrugte afgewerp.
Henk Craig en sy vrou Karen was op pad na Tweefontein om daar ’n pasiënt te besoek, toe hulle Simon Ntshwane teëkom. Hulle het sy besonderhede geneem om hom moontlik mettertyd te help.
Nthswane het op 11 November al die pad van sy tuisdorp na Henk se prostesekliniek in Parkview-sentrum in Pretoria-oos gekom want Craig wou sy belofte gestand doen.
“Ek wou kyk of ons sy lewe kan verander deur hom te help om weer te loop,” verduidelik Craig.
Craig het na Covid-19 al die papierwerk ingedien en logistieke in plek gekry, om sy Orthocross Amputee Foundation te begin om geamputeerdes soos Ntshwane weer te kan help om te loop.
Dit is ’n organisasie sonder winsbejag wat daarop ingestel is om die lewens van geamputeerdes sonder fondse te help om prosteses te bekom.

Die stigting maak geheel en al staat op die vrygewigheid en deernis van maatskappye.
“Dit is my droom om elke dag een geamputeerde te kan help om te loop. Ek dink dit spruit uit my pa, Jace Craig, se voorbeeld. Hy is ’n dokter in die Laeveld. Hy was altyd besig om mense te help,” vertel Craig.
Hy het tot datum meer as 20 geamputeerdes gehelp via die Orthocross stigting. Vantevore het hy dikwels geamputeerdes uit sy eie sak gehelp.
Toe die eise op die Craigs se begroting te groot geword het, het sy wederhelfte, Karen, met die totstandkoming van die stigting gehelp.
Saam trek die twee nou in die tuig. Sy is ’n voormalige skoonheidstegnikus uit KwaZulu-Natal wat nou die fondsinsameling en kommunikasie van die stigting beheer.
Nthswane het beide sy bene verloor nadat gangreen as gevolg van diabetes ontstaan het. Hierdie pa van vier kinders moes agt jaar in ’n rolstoel spandeer.
“Ek sal graag weer wil loop om ook die ander mense by ons organisasie vir mense met gestremdhede in Tweefontein te help,” vertel hy. Nthswane is ’n vrywilliger by die organisasie.

Toe die dag wat hy dalk weer sou kon loop uiteindelik aanbreek, was hy skepties.
“Ons moet maar kyk,” sê hy vooraf.
Maar vir die vriendelike en geesdrifgtige Craig was die uitdaging nie te groot nie.
“Jy is dan ons inspirasie gewees om die stigting te begin!” vertel hy hom toe hy skuins voor 10:00 al die metings begin doen van Nthwane se bene.
Hy verduidelik na ’n amputasie moet die wond eers heeltemaal genees voor die been waar dit afgesit is, in rekverbande gedraai kan word om die swelling uit te skakel.
Sodra die wond gesond is, kan die beenstuk omvorm word om dit op sy kleinste mate te kry vir doeltreffende passing. Dit kan twee tot drie weke neem. Na die proses, kan die pasiënt gemeet en gegips word vir die prostese.
In Ntshwane se geval, is die beenstukke nou al lankal gereed, en die meting en passing neem gou. Daarna stap Craig na sy werkswinkel en begin om die gipsafbeeldings vir die kniekoker te maak sodat hy later die plastiese vorm kan giet.
Hy het reeds die bene en voetgedeelte gebou wat hy in die koker sal inglip.
Ntshwane se nuwe been- en voetstukke, sowel as die beenstukke wat hy vir ander geamputeerdes aan die kniekoker heg, word saamgestel uit komponente vanuit Amerika.
Hier maak ’n oud-Suid-Afrikaner, Lise Brink, via haar organisasie sonder winsbejag, Stepping into Grace Ministeries in Georgia, gebruikte of nuwe kompente bymekaar en stuur dit aan die Orthocross Amputee Foundation vir die maak van prosteses.

Craig skaaf ’n geruime tydjie aan die gipsafbeelding om dit presies reg te kry.
Maar eers moet hy ’n draai by die winkels gaan maak. Hy moet vir Ntshwane skoene gaan koop om aan die prostese se voetstukke te dra.
Eers verneem hy hoe wil Ntshwane hê moet sy eerste paar skoene in agt jaar lyk.
Geamputeerdes wat nie prosteses kan bekostig nie, is in ’n swak posisie, vertel Henk.
“’n Prostese soos wat Ntshwane moet kry kan enigiets van R100 000 tot R150 000 kos. Indien pasiënte ledemate in ’n ongeluk verloor het, wag hulle vyf jaar voor die padongelukkefonds uitbetaal. By staatshospitale is die wagtyd vir ’n prostese bykans drie jaar,” verduidelik hy.
Nadat die been- en voetstukke so om en by 14:00 reg is, neem Craig vir Ntshwane na sy nuwe bene en pas die beenkoker oor die plekke waar sy bene afgesit is.
Met die stukke stewig in plek, moedig hy die nou-nog-ongelowige Tshwane aan om aan die relings van die oefenapparaat vas te hou en sy eerste treë uit die rolstoel te gee in agt jaar.
Die trane blink in Nthswane se oë toe sy hande om die relings vou en hy na vore kan tree. Die oomblik is te groot vir woorde vir almal wat aangedaan toekyk.
Nou begin die ander groot werk vir beide pasiënt en prostetikus.
“Wanneer ’n geamputeerde gepas word met ’n prostese, word daar deeglik met hom gewerk en verduidelik waaraan daar geoefen moet word om met ’n gebalanseerde looppatroon te volg. Pasiënte stuur elke week vir my video’s vanwaar hulle loop sodat ek raad kan gee waar nodig.”
Vir Craig is die ondersteuning tydens hierdie fase belangrik. Anders as talle ander hulporganisasies of hospitale, verskaf die stigting ook persoonlike nasorgdiens en word pasiënte se pad vorentoe met hul prostese noukeurig gevolg.
“Ek glo aan konstante, positiewe kommunikasie tussen prostetikus en pasiënt om die oorgang makliker te maak,” verduidelik hy.
“Geliefdes moet ook baie behulpsaam en geduldig wees.”
Hy sal nog ’n stappie verder wil gaan. “Ons sal ook graag in die toekoms kospakkies elke maand vir pasiënte wil gee. Meeste pasiënte van die stigting het geen inkomste nie of ’n minimale inkomste,” vertel hy.
Vir hom is ’n ondersteuningsraamwerk na ’n amputasie of die passing en dra van ’n prostese vir die eerste keer ook belangrik.
“Om die pasiënt positief te hou, moet ’n veilige spasie geskep word sodat hulle openlik oor die trauma kan praat. Dit is ’n ongelooflike aanpassing om ’n ledemaat te verloor, maar dit is nie die einde nie. Met prosteses in plek, is daar oneindige geleenthede en moontlikhede. Die kuns is om seker te maak dat die pasiënt by die regte mense uitkom om hom hoop te gee.”
Hiervan kan Ntshwane getuig toe hy laatmiddag terugkeer Tweefontein toe as iemand wie se lewe in ’n dag verander is. Hy lewe weer met hoop.
“My hart is om elke geamputeerde weer op die been te kry. Ek besef God het my die gawe en passie gegee om lewens te verander en met genoeg fondse vir die stigting is dit presies wat ek en Karen wil doen,” sê Craig.
Kontak Henk Craig op info@orthocross.co.za of 084 514 6800.
– Kliek hier om Ntshwane se eerste treë na agt jaar in ’n rolstoel te sien gee:
