Local newsNews

Tshwane se besluit om slegs 100 arbeiders in te kontrakteer onregverdig – ontevrede werkers

Die besluit word gekritiseer deur die groep van ontevrede sekuriteitswagte en skoonmakers wat verskeie inkontrakteer-betogings oor die laast paar jaar gehou het.

Die Tshwane metro het sy voorneme om 100 skoonmakers in te kontrakteer aangekondig as deel van pogings om sy interne personeel te versterk en ’n einde te maak aan uitbuiting van werkers.

Burgemeestersraadslid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, sê die eerste stap is om nie net versekerde werkersgeleenthede te herstel nie, maar ook waardigheid onder werkers.

“Met hierdie inisiatief, vul ons nie net poste nie; ons herstel waardigheid, ons verseker werksekerheid, en bou ’n sterker, meer veerkragtige interne arbeidsmag. Die proses sal geleidelik geïmplimenteer word, en ons verwag dat al ons skoonmakers en sekuriteitswagte mettertyd ingekontrakteer sal word. Hierdie inisiatief onderstreep ons onwrikbare toewyding tot billike arbeidspraktyke en die bemagtiging van ons werkers,” sê hy.

Morodi sê verder dat die metro bewus is van die uitdagings vorentoe rakende die inkontraktering van werkers, maar het uitgekontrakteerde skoonmakers en wagte verseker dat die proses integriteit aan die voorpunt van sy bedrywighede sal behou.

“Die behaal van dié mylpaal was nie sonder sy uitdagings nie, maar ons bly standvastig in ons besluit. Terwyl ons struikelblokke die jaar in die bereik van ons doelwitte mag teëkom, het ons volle vertroue dat ons ons visie sal verwesenlik deur volharding en vasberadenheid,” sê hy.

“Aan ons huidige skoonmakers en veiligheidswagte, ons verseker julle dat hierdie proses regverdig, deursigtig en meriete-gebaseerd sal wees, en verseker julle dat slegs gekwalifiseerde persone voordeel sal put uit hierdie geleenthede.”

Lees: Pretoria-leerders en voorste Gauteng-presteerders wat kop en skouers bo ander uitgestyg het.

’n Groep ontevrede werkers is egter steeds nie gelukkig nie.

Die inkontraktering van metro-sekuriteitswagte en -skoonmakers was vir die afgelope vyf jaar ’n voortdurende stryd wat na verskeie betogings gelei het.

In 2018, het die metro besluit om die 4 000 wagte in te kontrakteer maar tot dusver is net die eerste fase, die inkontraktering van 1 302, voltooi.

Woordvoerder vir die groep ontevrede werkers, Hlengiwe Ngwenya, sê hulle is teleurgesteld met die metro se benadering, aangesien dit min doen om die kwessies aan te spreek wat hul in die gesig staar.

“Ons voel dat dit onregverdig is, hoekom is hul veronderstel om aansoek te doen? En slegs 100 van hulle? Almal is nou welkom om aansoek te doen en hulle gaan net wie ook al vat. Hoe is hul veronderstel om te sien wie die skoonmakers is wat nou eintlik vir hierdie werksgeleenthede geveg het? Hoe gaan hulle hul identifiseer? Dis onregverdig en dieselfde geld vir die inkontraktering van sekuriteitswagte. Ons wil nie hê dat die poste so geadverteer word nie,” sê Ngwenya.

Ngwenya voeg by dat die metro liewers fisies na hierdie werkers se verskillende vergaderplekke moet gaan om diegene wat al die jare vir inkontraktering gevra het aan te stel in plaas daarvan om e-posse vir aansoeke te gebruik.

“Dit is nie waarvoor ons geveg het nie, regtig, ons het nie ter wille hiervan buite Tshwane-huis geslaap nie. Dit is nie inkontrakteer nie; hulle is besig om mense aan te stel,” sê Ngwenya.

Lees: Onwettige bouery langs Gautrein-lyn bekommer inwoners

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button