News

Aspergersdag: Daantjie Dinamiet vra begrip

Daar is nog heelwat verwarring rondom die Asperger-sindroom en dit verhoed aanvaarding en begrip glo 'n Asperger-bewusmakingsaktivis.

Min vasvrawenners kan Daantjie “Dinamiet” oftewel Daantjie Badenhorst van die ooste van Pretoria, nadoen wanneer dit by die wen van TV-vasvraprogramme kom.

Hy is immers die welbekende wenner van talle TV-progamme soos Flinkdink (2005) en die Noot vir Noot-reeks (24).

Maar min van sy aanhangers en bewonderaars weet dat die joernalis en oudleerling van Hoërskool Waterkloof en oud-student van die voormalige Technikon Pretoria, ook ’n Aspergersindroom-bewustheidsaktivis is.

Badenhorst vertel graag sy lewensverhaal om groter bewustheid hierrondom te skep.

“Outisme beïnvloed jou volle menswees en laat jou bewus wees van sekere beperkinge. Jy kry diegene daarmee wat laag- funksionerend is. Dan is daar diegene wat hoog-funksionerend is en met sekere dinge sukkel, maar jy kan hul potensiaal ontwikkel,” verduidelik Badenhorst.

Op 18 Februarie op Internasionale Aspergersdag val die klem vanjaar op die aanvaarding van outisme in gemeenskappe sowel as om unieke sterk punte en perspektiewe van individue met Asperger-kenmerke op die outisme spektrum uit te lig.

“Daar is meer aanvaarding vir mense wat anders is. Daar is dalk meer verdraagsaamheid, maar ek ervaar die samelewing het steeds geen ruimte vir individualisme nie,” meen Badenhorst.

Outisme is ’n ontwikkelingsteuring van die brein wat vroeg in ’n kind se lewe begin.

Dit word gewoonlik deur ’n paar eienskappe gekenmerk, onder meer beperkte sosiale interaksie sowel as beperkte verbale en nieverbale kommunikasie, en herhalende en stereotipiese gedrag.

Dit is is ’n spektrumsteuring, wat beteken dit kom in elke mens op ’n ander manier tot uiting.

Badenhorst verduidelik hy leef as hoog-funksionerende Aspergerlyer.

Aangesien sy pa ’n opvoedkundige was, is hy vroeg gediagnoseer met outisme.

Toe hy grootgeword het, was daar min daaroor en die simptome daarvan bekend. Badenhorst glo alhoewel daar meer bekend is, is die bewusmaking steeds belangrik.

Hieraan wil Badenhorst ’n verskil maak.

“Ek het artikels daaroor geskryf, in die binnekring daaroor gepraat en met ouers gesels. My bewegingsrede is: As mense nie iets weet nie, voel hulle bedreig. Hulle weet net: Jy is nie soos hulle nie.”

Sy simptome sluit in ’n intense belangstelling in ’n paar onderwerpe soos motors en musiek, ’n gebrek aan hand- en sosiale vaardighede, en die onvermoë om deurlopend oogkontak te maak.

“Ek het ook die simptome van oor- of onderreaksie as my sintuie te veel gestimuleer word. Ek kan ook nie enigiets met tekstuur hanteer nie,” vertel hy.

Ook in sy verhoudings is daar tekens van die sindroom.

“Dis moeilik vir my om emosie te wys en ek het min ware vriende. Ek was ook nog nooit deel van enige populêre groep nie.”

Ten spyte van sy simptome, het Badenhorst ’n uitgebreide loopbaan in sy lewe gehad waar hy werksgeleenthede aangegryp het. Soos om by die Staatsdrukker in Pretoria te werk, ’n subredakteur by Beeld-koerant te wees, resensies vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings te skryf en om oor motors vir aanlyn publikasies te skryf. Hy het selfs in ’n advertensie vir ’n motor opgetree.

Dis juis met sy eerste lees en deurblaai van die motortydskrif Car wat hy besef het “tale is my ding”.

Deesdae skryf hy minder oor musiek. “Die gehalte van eietydse musiek is so af, veral met Afrikaanse musiek. Ek stel ook nie meer trefferlyste op nie en luister net eintlik musiek op die radio in my kar.”

Hy het vroeg besef hy het ’n aanleg vir musiek. Oor sy handvaardigheidsuitdagings kon hy nie ’n instrument bespeel nie.

Hy kon egter altyd sing. Hy het vir die eerste keer in die openbaar opgetree toe die junior laerskoolkoor, waarvan hy deel was, by ’n onderwyseres se huweliksbevestiging gesing het. Nadat sy stem gebreek het, het hy in die hoërskoolkoor en die Noord-Transvaalse Jeugkoor gesing.

Sy musiek-ambisies is nou veel anders. “Ek wens ek kon liedjies skryf,” sug hy.

Badenhorst is Afrikaanssprekend maar kan ook Engels, Frans en Duits vlot praat. Hy is getroud met Yolanda, en hulle het twee kinders, Dirk en Suzanne.

Hy was enkellopend tot in sy vroeë dertigerjare maar is nou reeds meer as twee dekades getroud. “Ek het nie gedink iemand sal my aanvaar nie.”

Hy vertel as Aspergerlyer was een van sy swaarste tye vir hom sy weermagdae want almal in die weermag is dieselfde en hul optrede is dieselfde.

“Mense verskil, maar as jy verskil van iemand, gee dit jou nie die reg om hom of sy gedagtes sleg te maak nie. Ek doen ’n oproep op ander om Aspergerlyers te aanvaar soos hulle is. Jy kan mense nie dwing om in ’n boksie te pas nie en op ’n sekere manier te dink nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button