News

Metro, AfriForum bestry Pretoria-misdaad saam

Misdaad in Pretoria het sekere brandpunte soos Brooklyn, Mamelodi-Oos en Akasia wys nuwe polisiestatistiek. Die metro en AfriForum vat nou hande om veral misdade soos ysterpenvoorvalle te stuit.

AfriForum het ’n produktiewe vergadering met die metro gehou om strategiese samewerking oor verskeie veiligheidsinisiatiewe te versterk.

Sampie Steinberg, woordvoerder vir die organisasie, sê die vergadering het onder meer gehandel oor praktiese maatreëls om misdaad te bekamp en sleutel-infrastruktuur beter te beskerm in Pretoria.

Steinberg het gemeld dat gesamentlike patrollies op die N4 om ysterpenlokvalle te verhoed een van die gesamentelike operasies is wat beoog word.

“Ons weet dat voorkoming beter is as nasorg en daarom, met die oog op proaktiewe misdaadvoorkoming, sal AfriForum se buurtwagte saam met die metropolisie en ander rolspelers patrollies ry om spesifiek daarop te fokus om ysterpenlokvalle op die N4 te voorkom,” sê Steinberg.

Die veiligheidspanne van die organisasies het bevestig tans word wetstoepassing rondom ysterpenlokvalle en gryp-en-hardloopvoorvalle verder bemoeilik omdat die metro op verskeie paaie in die ooste soos Simon Vermooten-rylaan nalaat om die gras en bosse te sny.

Die kante van paaie word volgens die spanne ’n veilige plek vir misdadigers om die ystervarkpenne op die pad te gooi asook om maklik weg te kom met hul buit uit voertuie.

“Die metro se traagheid om die gras te sny, maak ons buurt se mense bang om in die areas te ry,” wys hy uit.

Die organisasie se takstrukture en buurtwagte het reeds ook verskeie ander hoërisikogebiede waar misdaad plaasvind, geïdentifiseer.

Die veiligheidspanne glo hier kan veral sleutel-infrastruktuur, soos kragstasies en reservoirs, baat vind by verhoogde sekuriteit.

“Ons het ons hulpbronne soos ’n kameranetwerk wat nommerplaatherkenning en bewegingskameras insluit in die gesprekke aangebied om die metro en metropolisie te ondersteun,” bevestig Steinberg.

Hy glo sodoende kan bedreigings vroegtydig geïdentifiseer en die hoof gebied word.

Nog ’n plan is om gedurende 2025 minstens twee veiligheidsteunkringe in Pretoria te vestig.

Hierdie strukture sal samewerking tussen veiligheidsrolspelers verbeter en spoedige reaksie vergemaklik.

Die samewerking tussen die metro en die organisasie sowel as beoogde aksieplanne, strook met die sleutelstrategieë wat op 21 Februarie deur die minister van polisie, Senzo Mchunu, tesame met die misdaadstatistiek vir die derde kwartaal (begin Oktober tot einde Desember 2024) aangekondig is.

Die minister het daarop gewys dat om misdaad doeltreffend te bekamp, het die polisie ’n aantal kernfaktore geïdentifiseer waaraan hulle sal moet aandag gee, soos die gebruik en verbetering van tegnologie en die aktiewe deelname van gemeenskappe, die private sektor en verskeie belanghebbendes.

“Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om hand aan hand met wetstoepassingsowerhede te werk. Misdaad floreer in stilte, en ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om kriminele aktiwiteite aan te meld,” het hy versoek.

Die statistiek toon soveel as 75 mense is in die derde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar per dag in Suid-Afrika vermoor.

Hoewel die getal hoog is, verteenwoordig dit ’n afname vergeleke met dieselfde kwartaal van die vorige boekjaar. Ongeveer 128 verkragtingsake is daagliks in die derde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar aangeteken.

Die statistiek dui ook op verskeie misdaadbrandpunte in Pretoria met die polisiedistrik in Mamelodi-Oos wat in meer as agt misdaadkategorieë genoem word onder die 30 stasies in die land waar misdaad die meeste voorkom.

Verskeie ander polisiedistrikte in Pretoria kom ook telkens onder van die misdaadkategorieë voor. In die Temba-polisiedistrik vind die derde meeste seksuele misdade in Gauteng plaas. Temba is ook onder die land se boonste 30 polisiedistrikte in die misdaad-afdelings seksuele en algemene aanrandings.

In Pretoria-oos word die Brooklyn-polisiedistrik in ses verskillende misdaadkategorieë genoem onder die top 30 polisiedistrikte in die land, sowel as die provinsie, waar misdaad die meeste voorkom.

Die Brooklyn-polisiestasie is nommer drie op die provinsiale misdaadlys vir die aanmelding van algemene diefstal. Hierdie stasie is ook die polisiestasie in Gauteng waar die meeste eiendomsverwante misdaad aangemeld word. Die stasie kry ook vermeldings onder die misdaadafdelinge kommersiële misdaad en winkeldiefstal onder die top 30 in die land sowel as in die provinsie.

Die Garsfontein-polisiestasie is onder die 30 stasies in die provinsie waar die meeste motor- en motorfietsdiefstal aangemeld word.

Ander probleemareas in Pretoria wat landwyd sowel as provinsiaal vermeld word in die lys van Top 30-stasies is Sunnyside (seksuele aanranding, algemene diefstal en motordiefstal) sowel as Pretoria-Wes (diefstal met verswarende omstandighede, diefstal en motor- en motorfietsdiefstal).

Lyttelton-polisiedistrik val onder die top 30-stasies landwyd sowel as provinsiaal onder eiendomsverwante misdaad en motor- en motorfietsdiefstal.

Akasia word in nege misdaadkategorieë landwyd en provinsiaal genoem onder die boonste 30 probleemdistrikte.

Nog Pretoria-brandpunte wat in die statistiek uitgewys word, is Loate, Olievenhoutbosch, Soshanguve, Mabopane, Wierdabrug, Pretoria-Sentraal, Sinoville, Rietgat, Hercules en Silverton.

LEES: Fietspatrollies laat wiel nou in Eersterust

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button