News

Bolhuis nou op spoor van Bougas se moontlike Ponzi-skema

'n Aansoek vir voorlopige likwidasie word deur eienaars en beleggers van die Kleuterzone Groep van Skole word op 18 Maart deur die Pretoria-hooggeregshof oorweeg.

Verskeie kettinggroep-houers, personeel en rolspelers geraak deur die swak finansiële posisie waarin die Kleuterzone Groep van Skole hom tans bevind, het die Pretoria-bobaasondersoeker Mike Bolhuis gekontak om namens hulle ’n ondersoek te doen.

Anthony Boucher, ’n ondersoeker by Bolhuis se maatskappy, het aan Rekord gesê Specialised Security Services sal die potensiële Ponzi-skema-paralelle wat met Kleuterzone geassosieer word breedvoerig ondersoek.

Hulle sal dit ondersoek om die omvang van enige bedrieglike aktiwiteit te bepaal aangesien die ondersoekers oorval is met klagtes van die publiek oor ’n beweerde Ponzi-skema.

So ’n skema is ’n vorm van finansiële bedrog waar opbrengste aan vroeë beleggers betaal word met fondse van nuwer beleggers, eerder as uit wettige besigheidswinste. Dit skep die illusie van ’n winsgewende onderneming, maar die skema stort uiteindelik in duie wanneer daar nie genoeg nuwe beleggers is om die uitbetalings te volhou nie.

’n Aansoek om ’n voorlopige likwidasie van Kleuterzone Operations (Pty) Ltd word op 18 Maart in die Pretoria-hooggeregshof aangehoor nadat ’n belegger van Koster, Anita du Plessis, verlede week so ’n aansoek gerig het.

Sedertdien is ander beleggers se name tot die aansoek toegevoeg.

Daar is nie duidelikheid of die Kleuterzone Groep van Skole die aansoek sal teenstaan nie.

Boucher het bevestig dat met die aanvanklike identifikasie-ondersoek van hul eerste kliënt, is daar bevind dat Kleuterzone meer as R1-miljoen ontvang het van die kliënt, maar nie volgens die skriftelike ooreenkoms terugbetaal is nie.

“Kleuterzone beloof opbrengste aan beleggers wat te goed lyk om waar te wees. Verskeie teenstrydighede is geïdentifiseer in die dokumentasie wat aan ons kliënt verskaf is. Die ondersoek na die aandelesertifikate wat aan ons kliënt verskaf is, lewer nou vir die ondersoek resultate op,” verduidelik hy.

“Ons doen nou ’n volskaalse ondersoek na die besigheidsmodel en die saketransaksies van Kleuterzone as deel van die bedrogondersoek waarvoor ons aangestel is,” bevestig Boucher.

Volgens hom is betalings aan beleggers gestop en gerugte van ’n totale ineenstorting van die sakemodel doen reeds die rondte.

Krediteure wat geld by Kleuterzone belê het, word deur Boucher aangeraai om die korrekte prosedure te volg en met die owerhede saam te werk sowel as om by ’n aanbevole likwidateur te registreer wat verantwoordelik is vir die moontlike likwidasie van Kleuterzone.

Boucher meld dat klagtes en aansoeke om hulp teen Kleuterzone en die stigter van die maatskappy, Anthonie Bougas, van verskeie benadeeldes van regoor die land ontvang is. Eienaars van kleuterskole in die groep en beleggers is bekommerd dat hulle nie meer dividenduitbetalings kry nie.

Kleuterzone-stigter Anthonie Bougas Foto: Kleuterzone-webwerf

“Ons het die papierwerk geanaliseer en is baie bekommerd. Wanneer so ’n skema toemaak, word soveel mense met reuse finansiële skade gelos,” sê hy.

Bykomend tot die klagtes oor Kleuterzone, volgens hom, het hulle ook klagtes ontvang oor moontlike vorige onwettige optrede deur Bougas op ander gebiede en ondersoek hulle ook tans of hy wel uit Suid-Afrika gevlug het en hom in Thailand bevind.

“Baie mense word sleg hierdeur beïnvloed en dis veral die onsekerheid vir mense wat in die skole werk en ouers vir wie die voouitsigte ook nie goed lyk nie.”

Hy glo die likwidasie-aansoek sal waarskynlik deurgaan, deurgevoer en nagevolg word.

“Dit is die wreedste ding wat ’n stigter van só ’n skema ’n belegger kan aandoen. Nie net verloor hy sy belegging nie, maar hy moet gelde terugbetaal wat hy ontvang het,” meld Boucher.

Meer as ’n duisend beleggers kan hierdeur geraak word. Daar is volgens die Kleuterzone-webwerf landwyd meer as 120 skole in die groep.

In Pretoria is daar onder meer skole geregistreer by die groep in Moreletapark, Lynnwood, die Wilgers, Mayville, Villieria, Rietondale, Doornpoort, Monument Park, Wierdapark, Constantia Park, Menlo Park, Pretoria-Noord, Sinoville, Waterkloofrif en Lyttelton.

Rekord het van die eienaars van die skole en skoolhoofde vir onderhoude genader, maar niemand wou kommentaar lewer nie.

Johan Botha van die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum, sê hul lede het reeds talle klagtes en navrae oor die moontlike ineenstorting van die Kleuterzone Groep van Skole gerig.

“Die grootste bekomernis by ons lede is: Gaan ek ’n salaris kry en werk oorhê? Indien die maatskappy gelikwideer word, sal personeel van die kleuterskole soos onderwysers, preferente skuldeisers moet word en aansoek moet rig aan ’n likwidateur om as sulke geregistreer te word,” verduidelik Botha.

Dit is vir hom hartseer dat hul lede, beleggers, gesinne en die kleuters self ernstig hierdeur geraak kan word.

“Kleuterskole is bakens in gemeenskappe en word soos ’n familie vir ouers, onderwysers en kinders. As sulke skole nie meer bestaan nie, ly ’n hele gemeenskap daaronder,” meen hy.

Kommentaar is van die Kleuterzone Groep van Skole sowel as aan Anthonie Bougas per e-pos aangevra, maar geen antwoorde is ten tye van publikasie ontvang nie.

Kommentaar is ook gerig aan die Gauteng Department van Onderwys oor die jurisdiksie van die department in sulke gevalle, maar geen kommentaar is ten tye van publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button