Local newsNews

Julanie J skryf musiek, sing passievol

Hierdie talentvolle Afrikaanse sanger en liedjieskrywer vind inspirasie in alledaagse klanke. Sy is passievol oor musiek se vermoë om stories te vertel en emosies oor te dra.

Selfs wanneer sy die geluid van die flikkerlig hoor of in ’n winkelsentrum stap en na die gegons van stemme luister, wil die vrolike liedjieskrywer en sprankelende Pretoria-oos sanger Julanie Chetty ’n liedjie skryf.

“Ek moet kort-kort nuwe spasie op my foon se geheue koop soos wat ek liedjies en gedagtes daar bêre,” lag die voormalige Kapenaar wat onlangs saam met Refentse Morake in Switserland ’n konsert vir ’n gehoor vol Suid-Afrikaners gegee het.

Chetty staan bekend as Julanie J op die verhoog.

“Dit was ’n wonderlike eer en voorreg om die verhoog te deel en musiek te kan maak saam met Refentse. Ek het so baie by hom geleer en hoe hy dink en voel oor musiek. Dit was mooi om die gehoor te beleef en saam met hulle ons eie musiek te sing. Vir die gehoor was ou nostalgiese liedjies so ’n belewenis soos ‘Mannetjies Roux’ of ‘Sonvanger’,” sê die talentvolle sanger wat naam gemaak het in geestelike musiek sowel as die Afrikaanse kontemporêre musiektoneel.

Julanie J was aanvanklik bekend vir haar gospelmusiek, maar het nou ook meer kontemporêre klanke in haar liedjies en loopbaan vermeng. Haar loopbaan het reeds in 2016 begin met die vrystelling van haar album Spirit Breakout, wat die Top 20 op die iTunes Internasionale Trefferleer bereik het.

“Gospelmusiek is vir my tweeledig. Partykeer sing jy vir jouself en vir die gehoor want daar is sekere tye wat ons as mens nodig het om herinner te word aan wat ons glo. So partykeer moet ons sekere woorde sing om ons eie gees en geloof op te bou. Dan is daar kere wat ons eer aan God wil bring,” verduidelik sy.

Van haar bekende gospelliedjies is “Dalk is Ek” (2019) vanaf haar album Mooi en “Gemaak vir Mekaar” (2020).

“Met geestelike musiek is dit belangrik dat jy verstaan wat jy sê en wat jy glo.”

In 2021 het haar treffer-enkelsnit “Arm” die Jacaranda FM CTM Top 20 vir bykans 10 maande oorheers en die nommereen-posisie vir ’n indrukwekkende 20 weke beklee. In die meer kontemporêre en popmusiek-genre, is haar mees onlangse enkelsnit “Spook by My” in November 2024 vrygestel.

“Ek dink soms ek is meer liedjieskrywer as sanger. Die kleinste dingetjies kan my inspireer. Ek dink ek hou van die idee daarvan dat my musiek ’n storie vertel. Ek verslind boeke en is lief vir lees, maar dink nie ek gaan by die skryf van ’n boek kom nie. Ek voel my eie en ander se lewensverhale, hartseer en pyn en vreugdevolle oomblikke, kan makliker deur musiek vertolk word.”

Julanie J het in Kaapstad as deel van ’n groot gesin grootgeword met ma, Julita Lambrechts, wat self ook sing en ’n musiekpromotor is.

“Om in ’n groot huisgesin groot te word, het baie uitdagings oor my pad gebring. Daar is baie verskillende persoonlikheidstipes onder een dak en jy moet baie vinnig vir jouself ’n spasie uitkerf. Jy kry kans om karakter te bou saam met jou boeties en sussies tydens swaar en goeie tye. Jy leer om vinnig te vergewe want daar is nie tyd om ’n wrok en haat op te bou nie. Dit leer jou om baie vinnig die klein dingetjies agter te los.”

Na ses jaar in Gauteng en in Pretoria het sy haar tuisgemaak in die hoofstad.

“Veral Pretoria het lieflik gou in my hart gekruip, met die mooi jakarandas en vinnige verkeer. Pretoria se mense het ’n manier om jou deel te maak van hul familie en omring jou met liefde en omgee. Hulle is daar vir jou. Indien hulle sê hulle gaan opdaag, doen hulle dit. Ek sal nie op enige ander plek wil bly nie.”

Sy neem deel op 11 April op Moreleta-kampus aan die Praise South Africa-konsert saam met sterre soos Karlien van Jaarsveld en Retief Burger.

“Die konsert is baie spesiaal en na aan my hart om verskeie redes. Ek is baie opgewonde om deel te wees van so groot produksie en bevoorreg om gekies te wees. Ek is kinderlik opgewonde want dit gaan ’n fantastiese konsert wees.”

Julanie J Foto: Verskaf

Sy neem nie haar loopbaan as liedjieskrywer en sanger ligtelik op nie.

“Jy moet jouself die vraag vra, veral as jy op ’n verhoog staan: ‘Waarmee is ek nou mee besig? Sing ek vir die gehoor en myself of sing ek vir die Here?’ Dit is baie belangrik dat jy dit doen met die regte intensie.”

Julanie J het al saam met topkunstenaars in Suid-Afrika, van Lloyd Cele tot Heinz Winckler, opgetree en verhoë gedeel met die crème de la crème van Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars.

“Daar is baie voorbereiding wat in sulke konserte ingaan. Daar is passessies vir uitrustings en dis lekker om te sing as jy mooi voel en lyk, maar ook as kunstenaar gaan baie werk in. Dis nodig want jy wil seker wees van jouself en nie die gehoor of medekunstenaars teleurstel nie.”

Sy is in eie reg ’n begaafde kitaarspeler en pianis. Hierdie musikale vaardighede wys ook in haar komposisies.

“Ek bly kinderlik opgewonde oor die lewe en wat voorlê soos hierdie Praise South Africa-konsert. Dis net die begin van vele sulke konserte.”

Kliek hier vir ’n blik op haar loopbaan: https://www.facebook.com/reel/3526279497677458

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button