News

Woedende Moot-inwoners staan saam teen ondergrondse kabelprobleme

Moot-inwoners het in ’n vergadering om ’n petisie te teken saamgestaan om die metro en provinsiale owerhede aan te spoor om ’n volhoubare langtermynoplossing tot kabel- en substasieprobleme te vind.

’n Petisie deur woedende inwoners van die Moot het binne twee ure op Saterdag 500 handtekeninge behaal op Saterdag, 29 Maart.

In die petisie maak die inwoners ernstig beswaar teen die byna 10 dae wat baie van hulle, veral in Môregloed en Queenswood, sonder krag moes verduur.

Die krag is eers op 31 Maart in meeste van die areas herstel, met individuele geboue soos Huis Hersfblaar, woonstelblokke in Queenswood en individuele huise wat steeds sonder krag sit teen die einde van die maand.

Meer as ’n duisend inwoners het die petisie aanlyn geteken.

Die petisievoerders eis dat onmiddelikke aandag aan die kritieke situasie by die Blesbok-substasie en dié se gevaarlike 11kV MV kabelnetwerk gegee word.

Inwoners beklemtoon in die petisie dat Blesbok se herstel krities is en nie langer kan wag nie.

Hulle voel die 11kV MV kabelnetwerk kan gevaarlik wees met ’n hoë risiko van kabel-uitbrandings of ineenstorting en dat die area as ‘n gevolg vatbaar is om vir maande sonder krag te sit. Dit weens die moontlike verlies van die enigste afneem-transformator by Koedoespoort.

Koedoespoort Substasie word ook genoem en inwoners vra dat dringende aandag aan opknapping geskenk word omdat die batterye nie reg funksioneer nie, met een battery wat heeltemal dood is. Hulle eis ook dat die olie-stroombrekers vervang word waarvan daar nie meer onderdele is nie.

Die petisie is deur inwoner Gillian de Gouveia begin wat besluit het genoeg is genoeg.

Sy het die DA gevra om in te tree en te help om ’n ondersoek deur die metro te loods om ’n volhoubare oplossing te vind.

DA-raadslede Anru Meyer, Frans Smith, and Adriana Randall het die vergadering begin by die Oppiplaas-terrein, maar het ook ’n ope uitnodiging aan ander politieke partye gerig om hande te vat om die probleem saam op te los.

Die petisie sal deur DA-verteenwoordiger Lee-Ann de Jager aan die burgemeester asook provinsiale owerhede oorhandig word na die sluitingsdatum op 4 April.

De Jager sê sy sal ook spesifiek die dokument aan die provinsiale regering se petisiekomitee oorhandig sodat daar toesig gehou kan word oor die proses om ’n volhoubare oplossing te vind.

Die opstellers van die petisie, DA-raadslede Adriana Randall en Meyer, sê dat ’n aantal raadslede het reeds met die burgemeester dr. Nasiphi Moya vergader oor die voortdurende kragonderbrekings.

Volgens Randall, het hierdie vergadering reeds op 28 Maart  plaasgevind.

Tydens die vergadering, het die burgemeester ’n verbintenis aangegaan om bykomende fondse asook mannekrag en onderdele beskikbaar te stel om ’n onmiddellike oplossing te vind om die probleem te verlig.

“Dr. Moya is deeglik bewus van hoe ernstig die probleem is,” beklemtoon Randall.

Sy sê verder dat die hoof van die metro se bedryfsdepartement, Anton Groenewald, het ook belowe dat dienslewering sal verbeter wanneer daar kragonderbrekings is.

“Ons sal hom by sy woord hou,” sê sy.

Die ekstra mannekrag is oor die naweek ontplooi, en sommige van die probleme met die ondergrondse kabels is reeds opgelos sodat daar weer ’n stroom van krag is.

Randall verduidelik dat sommige van die metro se algemene bestuurders vir Streek 3 het sommige van die foute wat gelei het tot die langdurige verlies van krag in vele van Moot se buurte by die vergadering aangemeld.

“Die probleem lê by ondergrondse MV-kabels en infrastruktuur wat verouderd is. Daar was al meer as 17 kabelfoute wat tot die huidige onderbrekings gelei het. Meeste hiervan kan toegeskryf word aan die feit dat die metro al tien jaar lank nie in nuwe infrastruktuur belê het nie,” verduidelik sy.

Daar was egter ook ander faktore wat tot die onlangse onderbrekings bygedra het.

’n Laaigraaf het sommige van die kabels tydens ’n herstelproses beskadig, wat gelei het tot onderbrekings in Koedoespoort, Weavind Park, Kilner Park en Queenswood.

Vanaf 28 Maart, moes 14 uitstaande foute nog aandag geniet wat kragtoevoer aan die Moot voorkom het. Areas rondom Clapham en Queens Corner is veral hierdeur geraak.

Twee fokusareas, wat in die petisie genoem word, word deur die metro se herstelspanne getakel, naamlik die twee substasies Koedoespoort en Blesbok.

Randall sê dit is aan raadslede tydens die vergadering van die 28ste verduidelik dat die 132kV Koedoespoort-substasie slegs op een transformator werk.

Met die herstelplan sal ’n tweede transformator geïnstalleer word, gevandaliseerde kabels vervang word, die Rooiwal-Waltloo-Elandlyn herstel word en ’n gevandaliseerde stroombreker en isolator vervang word. Hierdie herstelwerk sal 1 April begin.

By Blesbok 11KV substasie moet meer beskerming voorsien word sodat die stasie behoorlik kan werk en nie gevandaliseer word nie.

Raadslid Roché Grebe van die Vryheids Front Plus het ook die vergadering bygewoon waar inwoners die petisie onderteken het.

“Ek is bly dat iets soos hierdie op aandrang van die inwoners kon gebeur en dit nou verder gevat kan word op provinsiale vlak. Ek is jammer vir individuele huishoudings maar ook vir instellings soos Huis Herfsblaar wat vir so lank sonder krag moes klaarkom,” sê Grebe.

“Geld sal beskikbaar gemaak moet word in die nuwe begroting vir 2025/26 vir instandhouding van die kabels en substasies in die Moot. Tot dusver, was fondse vir instandhouding en herstel nog altyd onvoldoende en dit is waar die probleem ontstaan,” meen Grebe.

LEES: Lang pad van herstel lê voor vir dogter na Molotopad ongeluk

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button