News

Blou linte aan nie-werkende straatligte herinner metro aan hul mislukkings

In ‘n oudit van nie-werkende straatligte in die noorde van Pretoria is meer as 700 gebrekkige ligte geïdentifiseer.

Meer as 700 straatligte is teen einde Maart in ’n oudit van nie-werkende straatligte in die noorde van Pretoria wyke geïdentifiseer deur blou linte rondom die lamppale te draai.

Leier van die Blou Lint-veldtog, inwoner Mickey van der Westhuizen, sê die gedagte het by hom opgekom.

Die inwoner van Wyk 98 het al hoe meer op inligtings- en sosiale media-groepe waargeneem hoe die rapportering van klagtes hieroor by die metro, nie tot aksie lei nie.

“Die antwoord van enige amptenaar dat ’n probleem by die metro geëskaleer word, is niksseggend,” glo Van der Westhuizen.

Hy het besluit meer direkte aksie is nodig om bewusmaking te skep.

Van der Westhuizen het hande met die DA geneem en die lintmateriaal is gekoop om die Blou Lint-veldtog te loods.

“As deel van die inisiatief sal raadslede en bekommerde inwoners elke nie-funksionele straatlig met ’n blou lint merk, ’n simbool van die krisis van nie-dienslewering van die metro,” sê hy.

Volgens hom sal die gebreekte ligte nie net gemerk word nie, maar data sal daaroor versamel word.

Formele verslae hieroor sal dan by die metro ingedien word om te verseker dat hierdie gebrek aan diensleweringskwessies nie geïgnoreer word nie.

Hy verduidelik dat die toename van misdaad in die strate waar daar bykans niks meer werkende straatligte is nie – veral op hoofroetes soos Daan de Wet Nel-rylaan, Willem Cruywagen-straat en gedeeltes van Rachel de Beerstraat – ’n ernstige probleem geword het.

Hy wys daarop dat die veldtog ook in April na ‘n ander wyk (Wyk 4) deur hom uitgebrei sal word. Hy vra inwoners om by die veldtog aan te sluit en blou linte rondom straatligte wat nie werk nie of flikker te draai en dit aan die plaaslike tak van die DA te rapporteer.

“Elke gemerkte straatlig dien as ’n aanduiding van die regering se mislukking, maar ook as ’n teken van hoop dat verandering moontlik is deur aanspreeklikheid en optrede. Die versuim om straatligte te onderhou, is meer as net ’n ongerief. Dit is ’n ernstige veiligheidsrisiko.

Misdadigers floreer in die donker en inwoners is weerloos,” glo hy.

Hy voel die burgemeester moet leiding oor oplossings vir hierdie probleem gee.

“Die metro moet gedwing word om die werk te doen waarvoor hulle betaal word. Nie almal van ons het geld vir ’n baadjie met ligweerkaatsstrepe om in die donker in ’n straat sonder straatligte te stap nie.

“Jou lewe hoef nie op die spel geplaas te word net omdat die metro nie straatligte wil onderhou of hyskrane beskikbaar het om straatligte te herstel nie.”

LEES: Ondersoek oor R63m vermorsing by Pretoria Stadsaal-opknapping

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button