News

Nuwe Huis van Veiligheid bring hoop by Louis Botha-kinderhuis

'n Nuwe Huis van Veiligheid gaan ‘n broodnodige behoefte in Pretoria aanspreek en ‘n veilige uitkoms wees vir kwesbare kinders wat geen ander onmiddelike heenkome uit hul omstandighede het nie.

’n Groot mylpaal is op 10 April bereik toe ’n splinternuwe Huis van Veiligheid amptelik geopen is op die terrein van die Louis Botha-kinderhuis in Queenswood.

Hierdie instelling, wat geaffilieer is met die Jakaranda-kinderhuis in East-Lynne, het daarmee ’n droom op hul wenslys bewaarheid.

Die netjies-ingerigte tweeverdiepinghuis sal ses dogters en ses seuns huisves, met ’n toegewyde huismoeder en ’n aflos aan diens om na die kinders se behoeftes om te sien.

Die huis is amptelik deur ds. Danie Janse van Rensburg, voorsitter van die Bestuursraad van die kinderhuis, geopen wat die lint by die voordeur geknip het.

Voor : Aflos-huismoeder Johanna Masemola, Debro Nieuwoudt, Natalie Naidu en inwonende huismoeder Sindy Motloung.
Agter: Desiree Vaax, Suzette Kotze, Antasha Brits, Tilize van Deventer, Danny Osche, Martie-Susan Coetzee, en Marilize Delport

Daar bestaan reeds ’n waglys vir kinders wat hier gehuisves sal word.

Die idee vir die huis het ontstaan toe die polisie en buite-organisasies die behoefte aan so ’n fasiliteit aan die bestuur van die kinderhuis verduidelik het. Kort daarna is die wiele aan die rol gesit vir die oprigting en opknapping van die huis.

André Nel, ’n speurder van die Moot wat gereeld werk met sake van kindermishandeling en -verwaarlosing, sê die polisie ondervind groot uitdagings om kinders volgens hofbevele te plaas – veral wanneer hulle buite hofure verwyder word.

“Dis gewoonlik ’n gesukkel, en hang af van waar en hoe die kinders verwyder moet word. Hierdie huis sal in ’n baie dringende behoefte voldoen,” sê Nel.

Hy voeg by dat die Moot-polisie tot 50 verwysings per maand rakende mishandeling en verwaarlosing van kinders sowel as aanranding ontvang.

Die nuwe Huis van Veiligheid op die terrein van die Louis Botha-kinderhuis in Queenswood.
Maatskaplike werker Leoné Jordan

Charlene Grobler, maatskaplike werker van die twee kinderhuise, beklemtoon die belangrikheid van sulke plekke van veiligheid vir kinders wat met Vorm 36’s dringend verwyder word.

“Hierdie kinders ervaar rou trauma. Dis ’n tyd waarin hulle kwesbaar is en spesiale versorging nodig het. Huis 4 op ons terrein sal daardie veilige hawe wees,” sê Grobler.

Die suksesvolle opening is te danke aan samewerking binne die gemeenskap.

Ferdi J. Steyn van Artist Village en sy ondersteuningspan het binne drie maande die huis ingerig en die koskaste gevul.

“Ons het geweet dit is dringend nodig en almal het saamgestaan om dit moontlik te maak,” sê Steyn.

Country-musiekster Cordelia van Zyl het ook haar ondersteuning aan die projek toegesê.

“Ek is self ’n aangenome kind en weet wat dit beteken om vir ’n kort rukkie ’n veilige plek nodig te hê. Elke kind maak saak,” sê sy.

Sanger Cordelia van Zyl

Die inwonende huismoeder, Sindy Motloung, en haar aflos, Johanna Masemola, sal toesien dat die kinders daagliks versorg word gedurende hul verblyf.

Suzette Kotzé, bestuurder van maatskaplike werkers en professionele dienste, beskryf die opening van die huis as “’n mylpaal” en sien uit daarna om saam met die toegewyde maatskaplike werker, Leoné Jordan, ’n verskil te maak.

“Hier probeer ons altyd om ’n plan te maak. Dis goed om die gemeenskap se behoeftes te hoor en daarop te reageer,” sê Kotzé.

Hoewel die staat slegs 43% van die kinderhuis se finansiële behoeftes dek, het die gemeenskap weereens goed saamgestaan om hierdie projek tot stand te bring. Die hele huis is deur borgskappe toegerus.

Die Louis Botha-kinderhuis versorg reeds sowat 300 skoolgaande kinders wat daagliks na en vanaf 27 skole vervoer word. Die toevoeging van nog 12 kinders plaas verdere druk op die reeds-beperkte begroting.

Instansies en besighede wat graag by hierdie lewensveranderende projek betrokke wil raak, word uitgenooi om direk met die kinderhuis kontak te maak by info@louisbothachildren.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button