News

Ekspo vier kreatiwiteit en kameraadskap

Die Houtwerkersvereniging van Pretoria se jaarlikse ekspo het op 24 Oktober by die Nuwe Hoop Skool in Pretoria-Oos plaasgevind. Houtwerk, kreatiwiteit en vakmanskap het 'n liefde vir handwerk en stokperdjie gevier. Die geleentheid het ook fondse vir die skool ingesamel.

Die Houtwerkvereniging van Pretoria se jaarlikse ekspo het op 24 Oktober by die Nuwe Hoop Skool in Pretoria-oos plaasgevind en houtwerk en vakmanskap in die kollig geplaas.

Vanjaar se ekspo het ’n nuwe baadjie aangetrek met die deelname van uiteenlopende handwerkgroepe.

Benewens kabinetmakers, houtdraaiers en houtkunstenaars, het uitstallers met kwiltwerk, Ikebana, bonsai, suikerkunsversiering en edelstene besoekers met hul werk beïndruk.

Houtkunstenaar van veral gekerfde kieries, Tendai Msimang en Nandi Dhlamini. Foto: Elize Parker
Beskrywing: Mense by Expo

Jan Richter, voorsitter van die Houtwerkvereniging van Pretoria, het die sukses van die geleentheid toegeskryf aan die harde werk van die organiseerders, lede en vrywilligers.

“Die items wat uitgestal was, is van hoë gehalte en het getuig van die harde werk, vaardigheid en ywer van ons lede,” het Richter gesê.

Hy het spesiale erkenning gegee aan Corneel du Toit, wat verantwoordelik was vir die organisering van die ekspo, asook die beplanningskomitee en almal wat gehelp het om die geleentheid moontlik te maak.

Die oorhandiging van trofeë aan die kategoriewenners was een van die hoogtepunte.

In die kabinetmakerskategorie het KC Croucamp die Executool-trofee vir die beste item ontvang vir haar drankkabinet. Vyf inskrywings is beoordeel, met vier goue en een bronssertifikaat wat toegeken is.

Bunny Croucamp het die Keith Jones-trofee vir die beste restourasie-item ontvang vir haar sigaarkabinet, wat ’n goue sertifikaat verwerf het.

In die houtdraaierskategorie het Alan Crawford die Phil Irons-trofee gewen vir sy werk getitel “Closed Form” uit olienhout. Die kategorie het 11 inskrywings opgelewer, met twee goue, drie silwer en twee bronssertifikate wat toegeken is.

Mia en Gerhard Prinsloo van Pretoria-oos Foto: Elize Parker

Andy Sutton het die sekretaristrofee vir die beste gebruiksartikel ontvang. Die kategorie het sewe inskrywings gehad, waarvan vyf goud, een silwer en een brons behaal het. Sutton het ook die trofee vir intermediêre houtsneewerk gewen, waar al vyf inskrywings goue sertifikate ontvang het.

Johan Burger is met die Aanhouer Wen-trofee vereer vir die meeste vordering.

Volgens Ben Marnewick was die ekspo ’n belangrike mylpaal vir die vereniging. Hy het vertel hoe ’n groep houtwerkentoesiaste wat aanvanklik in hul motorhuise gewerk het, saamgekom het om die vereniging te begin.

“Hout het ’n siel,” het Marnewick gesê en verwys na die passie wat lede met mekaar deel.

Vandag bring die vereniging kabinetmakers, houtdraaiers en houtkunstenaars bymekaar om hul vaardighede te ontwikkel en hul kameraadskap te versterk.

Erla Cilliers en Clare Wallis van Centurion Foto: Elize Parker

Du Toit het ook sy tevredenheid met die dag uitgespreek. “Ons vier kreatiwiteit vandag!” het hy gesê.

Die ekspo het boonop ’n gemeenskapsgerigte doel gehad. Fondse wat tydens die geleentheid ingesamel is, sal aan die Nuwe Hoop Skool geskenk word.

Die vereniging het reeds gehelp om die skool se houtwerkwerkswinkel weer in te rig, terwyl lede Pierre de Beer en Karel van der Merwe op bepaalde dae houtwerkklasse aan leerders aanbied.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button