News

Kinderhuise wag op staatsgeld, gesprekke aan die gang

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria, verkeer in 'n finansiële krisis weens ’n vertraging in staatsubsidies. Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling bevestig dat onderhandelinge vir 2025/26 se betaling sal voortgaan.

Twee van Pretoria se mees toegewyde kinderhuise – Jakaranda-kinderhuis in East Lynne en Louis Botha-kinderhuis in Queenswood – verkeer in ’n ernstige finansiële krisis nadat die kwartaaltoelae vir die eerste skoolsemester nog nie van die staat ontvang is nie.

Volgens Charlene Grobler, uitvoerende hoof van albei instansies, wag hulle reeds vir meer as 90 dae op die fondse wat ’n gesamentlike R4.5-miljoen beloop: R3-miljoen vir Jakaranda en R1.5-miljoen vir Louis Botha. Hierdie subsidie dek sowat 43% van die instellings se uitgawes.

“Ons het maksimum nog een maand om te oorleef, en ons is reeds in daardie maand,” sê sy. Die kinderhuise huisves saam byna 300 kinders, waarvan baie deur hofbevel aan die instellings toevertrou is.

Verskeie bewusmakings- en promosieveldtogte word deur die kinderhuise aangepak soos om by ope dae van instansies uit te stal om fondse en donasies te kry.

Geen ondertekende diensvlakooreenkoms (SLA) is tot dusver van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontvang nie.

Die woordvoerder van die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Motsamai Motlhaolwa, het bevestig dat die instellings volledig befonds is vir die 2024/25-boekjaar.

“Wat betref 2025/26, is die twee partye in gesprek om ’n oplossing te vind,” sê Motlhaolwa.

Volgens die instellings self het die departement reeds met hulle in verbinding getree.

“Die departement het bevestig dat hulle met ons ’n ooreenkoms sal aangaan om ’n uitbetaling te doen. Daar is sekere papierwerk wat nog afgehandel moet word, maar die uitbetaling sal geskied selfs al is die nodige vorms nog nie volledig in plek nie,” sê Grobler.

Ten spyte van hierdie vooruitsig, ervaar die kinderhuise steeds ernstige druk.

“Die stres is oral voelbaar,” sê Grobler. Alle nie-noodsaaklike programme is voorlopig opgeskort terwyl net kritieke koste gedek word totdat die betaling gedoen sal word.

Charlene Grobler, uitvoerende hoof van beide kinderhuise.

Die kinderhuise bestaan uit ’n aantal huise, plus ’n Plek van Veiligheid vir kinders in dringende nood en ’n deurgangshuis vir jong volwassenes wat nie ’n tuiste het ná hulle tyd in die stelsel nie.

Nietemin probeer die personeel steeds om stabiliteit vir die kinders te verseker.

“Ons probeer om nie hierdie finansiële stres met die kinders te deel nie. Hulle het nie daardie onsekerheid nodig nie,” sê Grobler.

Volgens haar dra die gemeenskap merkwaardig by. Tans word sowat 60% van hul befondsing deur donateurs gedek.

“Ons is ongelooflik dankbaar daarvoor, maar dit vervang nie die staat se bydrae nie.”

Die instellings het deurlopende fondsinsamelingsveldtogte aan die gang: van debietorders tot mentorskappe en vrywilligerswerk.

“Ons het baie behoeftes, maar op hierdie stadium is kontant die dringendste. Kontant is koning. Ons het geld nodig om ons deure oop te hou en die kinders gevoed te hou,” sê Grobler.

Beide instansies is geregistreer as Publieke Voorsieningsorganisasies (PBO’s) en mag Artikel 18A-sertifikate uitreik vir skenkings: ’n belastingvoordeel vir individue en maatskappye wat wil help.

Vir enige hulp of skenkings, kontak charlene@jacarandachildren.co.za.

LEES: Oos-Moot blink uit in PUK-reeks Skaakkompetisie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button