Kleinfontein staan vas: “Selfbeskikking nie rassisme”
Die kultuurgemeenskap verdedig tans hul reg op kulturele selfbeskikking ná kritiek van die MK-party. Woordvoerder Dannie de Beer beklemtoon dat hul bestaan grondwetlik en vreedsaam is. Hulle verwerp bewerings van rassisme en benadruk Artikel 235 as ’n reg, nie ’n skuiwergat nie. MK beplan verdere stappe en wetsveranderinge.
Die debat rondom Artikel 235 en kulturele selfbeskikking blyk nog lank nie afgehandel te wees nie. Wat wel duidelik is, is dat dit die kern van ’n groter gesprek oor identiteit, regte, en die praktiese toepassing van demokrasie in ’n diverse Suid-Afrika raak.
Dit blyk duidelik uit uitlatings deur die uMkhonto weSizwe (MK) Party oor die grondwetlikheid van Artikel 235.
Verteenwoordigers van die MK-party het op 21 April ’n verrrassingsbesoek aan Kleinfontein in die ooste van Pretoria afgelê, waarna die party sterk standpunt ingeneem het teen die toepassing van Artikel 235 van die Grondwet.
Die party beoog om weer ’n besoek aan die gemeenskap van 1 500 inwoners op die 900 hektaar wat Kleinfontein beslaan, te bring. Met hul eerste besoek is hul op ’n toer van die gemeenskap geneem.
“Ja, die MK Party beplan om weer Kleinfontein te besoek. Die aanvanklike besoek was deel van ’n breër proses van openbare konsultasie en grondwetlike aanspreeklikheid,” het die MK Party se hoofsweep in die Parlement, Jimmy Manyi aan Rekord bevestig.
Die party het ook aangekondig dat hulle ’n Privaatlidwetsontwerp in die Parlement gaan indien om wat hulle beskryf as “gevaarlike en verdraaide” interpretasies van Artikel 235 van die Grondwet, wat kulturele selfbeskikking toelaat, reg te stel.
“Ons sal nie toelaat dat sogenaamde kultuurregte gebruik word as rookskerm vir rasse-uitsluiting nie,” het Manyi gesê. “Kleinfontein mag dalk beweer hulle hou by die wet, maar die praktiese uitwerking van hul beleid is rasse-eksklusiwiteit en dit is onaanvaarbaar in ’n nie-rassige demokrasie.”
Hy het verwys na die beslissing van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Van der Walt en Andere v Direkteur-Generaal vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en Andere (saaknommer 76584/2013). Daarin word dit duidelik gestel dat Kleinfontein nie ’n wetlik erkende munisipaliteit is nie, en ook nie enige spesiale outonome status geniet nie.
“As Kleinfontein ’n swart nedersetting was, sou die ANC-regering lankal die Rooi Miere ingestuur het om die plek plat te stoot,” het Manyi bygevoeg. “Die feit dat dit nie gebeur nie, wys die rassistiese dubbelstandaarde wat steeds onder ANC-bestuur voortleef.”
MK sê die huidige formulering van Artikel 235 is te vaag en laat ruimte vir misbruik.
Die beoogde wetsontwerp sal poog om die balans te vind tussen die beskerming van kultuurregte en die verwerping van enige vorm van rasse-eksklusiewe praktyke.
“Ons is nie teen kulturele uitdrukking nie. Inteendeel. Maar daar is ’n wêreld van verskil tussen kultuur en rassisme,” glo Manyi.
MK beklemtoon dat hul optrede nie as ’n strategie teen die ANC gemik is nie, maar eerder ’n saak van beginsel is oor die toekoms van Suid-Afrika se nie-rassige demokrasie.
“As die ANC kies om apartheidstyl-enklawes te verdedig, is dit tot hul eie nadeel,” meen hy.
Hoewel MK tans geen verteenwoordiging in die Tshwane-stadsraad het nie, sê hy hul partystrukture in Pretoria is besig om gevestig te word en dat kiesers kan verwag om geloofwaardige MK-kandidate in toekomstige plaaslike verkiesings in Pretoria te sien.
“Ons fokus is op grondvlakmobilisering en gemeenskapsgebaseerde bestuur,” het hy benadruk.
Dannie de Beer, woordvoerder vir Kleinfontein, het in reaksie gesê dat hierdie bewerings beide ongegrond en onregverdig is en politieke opportunisme in die ergte graad wys.
“Dis politiekery van ’n party wat die ANC wil bykom. Die MK-party wil kiesers se politieke guns koop. Kleinfontein is ’n vreedsame gemeenskap wat gebou is op Afrikaner-kultuur en Christelike waardes,” het De Beer benadruk.
“Hoewel ons doelwitte dikwels verkeerd verstaan word, is ons bestaan beide moreel verdedigbaar en grondwetlik beskerm.”
Volgens De Beer is daar geen teenstrydigheid tussen Artikel 235 en Artikel 1 van die Grondwet nie.
“Die opstellers van die Grondwet het besef dat ware demokrasie en vryheid slegs kan bestaan waar gemeenskappe ruimte gegun word om hul identiteit te behou en uit te leef,” het hy uitgewys.
De Beer het verder beklemtoon dat Kleinfontein nie separatisme verteenwoordig nie.
“Ons is ’n funksionerende gemeenskap wat binne die wet werk, belasting betaal, eiendomsreg respekteer, en demokrasie en vrede handhaaf,” het hy gesê. “Ons is ’n voorbeeld van wat Artikel 235 moontlik maak.”
Hy het ’n “duidelike dubbelstandaard” uitgewys in hoe kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika behandel word.
“Wanneer ander kulture hul reg opeis om hul taal en tradisies te bewaar, word dit met reg gevier as deel van Suid-Afrika se ryk diversiteit. Waarom dan word dieselfde reg, wanneer deur Afrikaners uitgeoefen, met wantroue begroet?”

Hy glo die beskerming wat die Ingonyama-trust in KwaZulu-Natal geniet, toon hierdie dubbele standaarde. Vir hierdie gemeenskap met gesamentelike tradisies en ’n sekere identiteit, het hy verduidelik, word daar telkens deur politici uitsonderings voor gemaak.
“Kulturele selfbehoud is nie rassisme nie. Dis ’n geldige mensereg. Een wat op elke groep in Suid-Afrika van toepassing is, of jy nou Zulu, Xhosa, Venda of Afrikaner is.”
De Beer het sy spyt wel uitgespreek dat die metro nie dieselfde inisiatief tans neem as die MK Party om wel kontak met Kleinfontein te maak nie.
Hy het ’n beroep op die metro gedoen vir dringende samewerking oor die formele erkenning van hul gemeenskap en versoeke om verdere samesprekings.
Ná ’n belowende ontmoeting met die ANC-adjunkburgemeester, Eugene Modise, in Desember 2024, het verdere gesprekke wat vir Januarie 2025 beplan is, nooit plaasgevind nie.
Intussen het Tshwane beweer dat Kleinfontein nie pogings aangewend het om die saak op te los nie.
De Beer het bevestig hierdie aantyging is onwaar en misleidend.
Intussen staar inwoners volgens hom ’n verhoogde erfbelasting van 2 000%, regsaksies en ’n potensiële humanitêre krisis in die gesig sou planne nie deurgevoer kan word om die gemeenskap se stadsbeplanningstatus te formaliseer nie.
Kleinfontein dring aan op hernieude gesprekke, en waarsku teen politieke uitbuiting van die situasie. Meer as 650 huishoudings wag op antwoorde van die ActionSA-ANC-EFF koalisieregering.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
