News

Leisels van Krugergenootskap oorgegee

Meer as net 'n organisasie, verteenwoordig die Krugergenootskap 'n idee – dat vryheid, geloof en waardes ononderhandelbaar is, en dat dit met elke nuwe geslag herontdek en gevier moet word.

Die Krugergenootskap, een van Suid-Afrika se oudste en mees gerespekteerde kultuurorganisasies, het onlangs ’n nuwe voorsitter verwelkom.

Vir die nuwe leier uit die Moot, Louis Engelbrecht, ’n bekende figuur binne kultuurkringe, is daar nog een groot raaisel rondom Paul Kruger wat opgelos moet word.

Dié ywerige bewaringskundige neem die leisels oor by Hannes Noëth, wat ná sewe en ’n half jaar as voorsitter steeds aktief op die direksie sal dien.

Krugergenootskap-voorsitter Hannes Noëth tydens 2024 se vieringe rondom Krugerdag op 10 Oktober in die Helde-akker in Pretoria-wes.

Hierdie oorgang kom op ’n besonder betekenisvolle oomblik in die geskiedenis: vanjaar is die 200-jarige viering van president Paul Kruger se geboorte.

Vir Engelbrecht is hierdie aanstelling veel meer as net ’n posisie.

“Dit is ’n groot eer en voorreg, en ek is trots daarop dat mense vertroue in my het. Dit is ook ’n groot verantwoordelikheid en groot skoene om vol te staan,” sê hy nederig.

Die Krugergenootskap is reeds sedert 1939 aktief besig om Paul Kruger se nalatenskap lewendig te hou.

Jaarlikse vieringe soos Krugerdag op 10 Oktober, en die kranslegging by sy graf op Heldeakker in Pretoria, het selfs tydens die uitdagende Covid-pandemie nie tot stilstand gekom nie.

Engelbrecht sê: “So lank Paul Kruger en sy waardes en sy geloof onthou word, sal hy voortleef in ons harte. Ek bewonder sy onwrikbare geloof aan ons toekoms en sy toewyding tot vryheid.”

Vir hom is dié waardes steeds aktueel in ’n wêreld wat dikwels in stryd verkeer.

Die momentum vir vanjaar se herdenking is opnuut aan die gang.

Engelbrecht en die genootskap sien uit na verskeie vieringe met die tradisionele hoogtepunt wat beplan word vir 10 Oktober, ’n byeenkoms by Kruger se graf, gevolg deur ’n spesiale diens in die Paul Kruger Kerk in Pretoria.

“Al sou hy 200 jaar oud gewees het vanjaar, weet talle mense nog wie hy is,” sê Engelbrecht. “Selfs oorsee is hy nie onbekend nie. Paul Kruger is ’n naam wat ons almal mee grootgeword het en nog van weet.”

Engelbrecht is geen nuweling tot die werk van die genootskap nie.

Hy het reeds aktief deelgeneem aan verskeie projekte en vieringe, en glo vas dat erfenisbewaring nie net iets van die verlede is nie, maar ’n lewende taak.

“Ons kyk nie net met trots terug nie, maar ook met visie vorentoe.”

Hy sien die voorsitterskap as ’n tyd om ook sy eie soeke na verlore erfenisgoed voort te sit.

Een van sy persoonlike mikpunte is om die graf van Kruger se eerste vrou en kind op te spoor: ’n plek wat glo op die plaas Waterkloof, iewers tussen Rustenburg en Krugersdorp, lê.

“Ek weet nie waar die begraafplaas is nie, maar weet min of meer in watter omgewing dit is. Ek het die wêreld daar al platgeloop op soek daarna.”

Hy doen ’n beroep op lesers om inligting met die genootskap te deel indien hulle enige leidrade hierrondom het.

“My wens is dat ons iets van hierdie passie rondom die oudpresident sal kan uitdra na ons mense toe. Ons moet steeds ons erfenisgoed soek en eer. Ek dink daar is nog baie wat ontdek kan word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button