News

Skropsessie in Moot bring hoop en harmonie

Op ’n sonnige Saterdag het Die Moot Projek ’n skropsessie by Ons Tuis in Villieria gehou. Vrywilligers en borge het saamgewerk om die omgewing op te knap en gemeenskapsgees te versterk. Infrastruktuur is verbeter: ’n inspirasie vir volgehoue buurtbetrokkenheid.

Die son het helder geskyn op ’n Saterdagoggend vroeg in Junie toe ywerige vrywilligers van Die Moot Projek bymekaargekom het vir die skropsessie rondom Ons Tuis in Riviera.

Onder leiding van Ronel de Wet, het hierdie gemeenskaps-inisiatief nie net die sypaadjies mooier gemaak nie, maar ook ’n ware gees van samehorigheid geskep.

“Dankie vir almal wat kom werk het en ons borge wat die skropsessie so ’n sukses gemaak het,” sê De Wet.

Die sukses was te danke aan ’n ongelooflike spanpoging soos wat net die Moot kan doen.

Vir die projek aan die voorkant van die ouetehuis, Ons Tuis, in Riviera moes verskeie skenkers en vrywilligers saamkom om veral klippe, plante en tyd vir voorbereiding te skenk.

’n Landskapmaatskappy het die voorbereiding en skoonmaak teen ’n spesiale afslag hanteer en ’n plaaslike hardewarewinkel het waterwyse plante, kompos en klip geskenk en aflewering gereël.

Die Moot-projek se vrywilligers en borge het die kruising by Ons Tuis in Riviera verfraai. Foto: Verskaf.

Daar is ook die anonieme inwoner van Rietondale wat die klippe en ander kostes geborg het.

De Wet is ook dankbaar vir die Ons Tuis-span wat hand bygesit het, veral toe daar wateruitdagings met gebarste pype was.

Hier het raadslede Wayne Helfrich en Anru Meyer vinnige hulp verleen met infrastruktuurprobleme.

Vrywiligers het vir ’n oomblik ’n blaaskans gehad met heerlik voorbereide worsrolletjies.

“Dit is ook met die stilstaan en nabetragting van die oggend se werk so oor ’n eetdingetjie wat mens agterkom hoeveel sin so skropsessie aan jou dag en maand gee,” vertel De Wet.

“Ek glo dit het ’n groot impak gemaak op die kruising.”

Ronel de Wet was die leier tydens die skropsessie voor die Ons Tuis-ouetehuis. Foto: Voorsien

Die metro het ook hul kant gebring om rommel weg te voer.

Johan Oberholster, mede-stigter van Die Moot Projek, sê: “Ronel het hierdie reuseprojek met passie en beplanning aangevoer. Van plante reël tot plastiek onderlaag sny, water emmers bring, en deur self douvoordag daar wees. Dis nie sommer iets wat jy in elke buurt kry nie! Ons moet ook dankie sê aan haar wederhelfte, Wim.”

Oberholster is ook trots op verskeie ander projekte wat deurlopend in Junie deur Die Moot Projek aangepak is soos 580 onwettige advertensieborde wat oor die langnaweek verwyder is.

“’n Skoon buurt begin by verantwoordelike inwoners,” glo hy.

Meer as 60 sakke rommel is uit die kanaal naby die Moot-slothuis verwyder. “En dis maar net een blok!” vertel Oberholster.

Sowat 1 291 sakke rommel reeds uit spruite in die Moot verwyder sedert September 2024.

Dit is ook vir hom ’n riem onder die hart dat Villieria se infrastruktuur ook ’n nuwe kleurvolle lewe gekry het met lamppale wat met behulp van skenkings geverf word en die Pierneefpark-heining wat geverf kon word danksy die Lowe-familie.

Strate en sypaadjies voor die Ons Tuis-ouetehuis is verfraai tydens ‘n skropsessie. Foto: Voorsien

LEES: Pretoria Sakekamer versoek toegang tot metro rekords oor forensiese ondersoeke

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button