Pretoria maatskappy se klein kernreaktor bied energie-onafhanklikheid
’n Plaaslik-vervaardigde klein modulêre reaktor mag metro’s van Eskom bevry, en bied skoon, koste-effektiewe krag.

Namate Suid-Afrikaanse stede beurtkrag en ekonomiese stagnasie die hoof bied was die soektog na onafhanklike energie nog nooit so dringend nie.
Vir die Tshwane-metro en ander munisipaliteite, is daar nou ’n nuwe alternatief met ’n klein modulêre reaktor wat deur Pretoria-ingenieurs ontwerp is, wat beloof om die manier te verander wat stede elektrisiteit opwek en beheer.
Dié opsie is onlangs bespreek en het baie aandag ontvang by die Energieberaad 2025 wat by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) gehou is.
Die doel van die beraad was om ’n slimmer energiestelsel te bou wat daarop gemik is om ’n volhoubare en inklusiewe toekoms te dryf.
Dit het alle belanghebbendes betrek wat met die groeiende aanvraag na energie worstel en onder druk is om na skoon, betroubare energiebronne te beweeg, waar die hooftema die toekoms van Tshwane se energie was.
Die reaktor wat deur die Pretoria-maatskappy Stratek Global ontwikkel is, bied ’n kombinasie van veiligheid, kostebesparings en energiesekuriteit, wat dit ideaal vir munisipale gebruik maak.
Die kernfisikus en Stratek-voorsitter vanaf Pretoria-oos, dr. Kelvin Kemm het met Rekord gesels. Hy is vol vertroue dat die reaktor munisipaliteite kan help.
“Die reaktor is spesifiek ontwerp om by munisipale vlak gebruik te word. Met hierdie stelsel kan ’n munisipaliteit soos Tshwane sy eie kernkragaanleg onafhanklik van Eskom en van geografiese beperkings besit en beheer.”
Hy het Rekord vertel dat dit ideaal is vir die metro, aangesien die reaktor anders as grootskaal kernkragaanlegte, wat ontsaglike groot infrastruktuur en toegang tot beduidende waterbronne vereis, selfstandig en hoogs aanpasbaar is.
Hy verduidelik dat swaartekrag, natuurlike verkoelingsweë en ander fisika-funksies in die ontwerp gebruik is sodat veiligheidsmeganismes natuurlik onder swaartekrag in plek is, aangesien die verkoelingsweë sonder aktiewe pompe loop.
Wanneer dit daarop neerkom of die metro sulke reaktors kan gebruik indien belanghebbende partye sou besluit om opdrag te gee dat hul gebou word, sê hy dat dit ongeveer vyf jaar sal neem om die eerste reaktor te bou.
“Hierdie eerste een sal ’n jaar na 18 maande neem vir al die wetlike nakoming, toetse en sertifisering. Konstruksie sal versnel vanaf die tweede een.”
Hy verduidelik dat die koste vir só ’n reaktor bepaal word deur hoeveel die kliënt vir elektrisiteit sal betaal.
“Die elektrisiteit van die reaktor sal ongeveer dieselfde kos as wat steenkool-aangedrewe elektrisiteit nou kos. Dit is heeltemal onwaar dat kernelektrisiteit ’n enorme klomp geld sal kos,” het Kemm uitgelig.
Hy sê dat dit groot finansiële voordele vir die metro inhou.
Tydens konstruksie sal honderde mense in goeie kwaliteit werk aangestel word, net soos by enige ander industriële konstruksie.
Konstruksie-materiaal sal ook vanaf plaaslike verskaffers bekom word. Werk soos die sny, vorm, masjinering en hoë-integriteit sweiswerk van metaalparte, moet uitgevoer en verkry word.
“Wanneer die reaktor loop, sal dit honderde mense op ’n voltydse basis in diens stel. Hulle sal wissel van ingenieurs na vaardige tegnici, konsep-vakmanne soos loodgieters en elektrisiëns. Baie privaat maatskappye sal betrokke wees, om goedere en dienste op ’n gereelde basis te verskaf.”
Volgens Kemm, het ’n verteenwoordiger van hul Pretoria-tak al twee maal na ’n land in die Midde-Ooste gereis om hul voorstel te verduidelik en argiteksontwerpe is vir dié land uitgevoer deur die Pretoria-oos argitekte, JKDA.
Vir hom is dit ’n positiewe aanduiding dat Suid-Afrika een van die oudste en ervare kernreguleerders ter wêreld het.
Hy sê dat Stratek Global ’n indrukwekkende gebou in Centurion het met 150 personeellede. “Hulle sertifiseer en gaan alle kwessies na rakende die ontwerp en konstruksie van enige kernstelsel, om die veiligheid en beskerming van mense en die omgewing te verseker. ”
Hy voeg by dat die beginsel van private of munisipale elektrisiteitseienaarskap alreeds deur die regering vir wind en sonkragstelsels gevestig is.
“Daar is g’n rede dat kernkrag anders moet wees nie. So, die metro, of maatskappygroepe in Rosslyn mag hul eie kernkrag installeer. Een reaktorkompleks sal maklik op ’n stuk grond so groot soos ’n sokkerveld pas. Sulke eienaarskap is heeltemal haalbaar. Dit is moontlik om jou eie private netwerk te hê,” sluit hy af.
LEES: Geliefde jong Pretoria man sterf in gru motorfiets ongeluk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
