’n Onvergeetlike gesinsavontuur vol sjarme en styl
Met sterk stemwerk, talentvolle akteurs, treffende stelontwerp en ’n regisseur wat weet hoe om klassieke verhale vars te hou, is 'The Wizard of Oz' veel meer as net vermaak. Dit is teater wat bekoor, vermaak én laat droom.
Op 8 Augustus is die verhoog van die Fairtree Atterbury-teater in Pretoria omskep in ’n wêreld van verbeelding, kleur en kultuur met die openingsaand van The Wizard of Oz, die klassieke fantasieverhaal van L Frank Baum.
Hierdie produksie van Full House-teaterproduksies, wat van 7 tot 17 Augustus op die planke is, is ’n kreatiewe herverbeelding van die klassieke verhaal met ’n plaaslike inkleding wat dit vars en treffend maak vir Suid-Afrikaanse gehore.
Onder regie van Niel van Niekerk, met musiekversorging en klankontwerp deur Eraneé de Beer en ’n span musikante van Pretoria, is hierdie musiekblyspel veel meer as net ’n nostalgiese hervertelling.
Vanaf die eerste bekende strofes van “Somewhere over the rainbow” word die gehoor ingetrek in die wêreld van Baum wat oorspronklik die boek The Wonderful Wizard of Oz geskryf het. Meer bekend is dalk die 1939-rolprent met Judy Garland in die hoofrol, The Wizard of Oz.

Dit is die uitbeelding van die verhaal van Dorothy Gale wat van Kansas in Amerika ingetrek word in die wêreld anderkant ’n reënboog. Dis ’n kragtoer wat staatmaak op tegniese vernuf, sterk regie en ’n sin vir spel met humor wat die gehoor meevoer op ’n magiese reis van Kansas tot by Oz deur ’n wêreld waarin kleurvolle ontwerp en sterk vertolkings saamsmelt.
Die verhoogwisselings is seepglad en foutloos uitgevoer deur ’n duidelik gekoördineerde agter-die-skerms-span. Elke toneel skuif moeiteloos in die volgende in, terwyl die beligting help om stemming en atmosfeer op treffende wyse aan te dui. Of dit nou die vaalheid van Dorothy se Kansas is of die lewendige veld van papawers of die dieptes van ’n Afrika-woud.
Die stelontwerp en kostuums is visueel ryk en treffend Suid-Afrikaans geïnspireer met kostuums hier en daar van tradisionele shweshwe-materiaal.
Van die Geel Baksteenpad tot die Emerald City, word al die stel-inkleding gedoen met ’n plaaslike inslag wat die oorspronklike eer en vernuwe.
Wat hierdie produksie egter regtig laat skitter, is die uitvoering van die karakters en veral die keuse van spelers.
Monja du Plooy, wat die rol van Dorothy vertolk, is ’n vars en opwindende talent op die Pretoriaanse teaterlandskap. Haar sjarme, spontane glimlag en toewyding aan die rol, insluitend haar deurlopende interaksie met haar hondjie Toto (’n gehoorgunsteling), maak haar ’n ware ster in wording.
Die Leeu, vernuftig met humor gespeel deur Tinus Spies, het byval gevind met sy humor en emosionele uitdrukking met ’n slim, tong-in-die-kies verwysing na The Lion King wat die volwassenes laat lag het. Sy kostuum met uitsonderlike groot pote en rooigeverfde naels word goed ingespan.
Ander uitblinkers sluit in Rainy van Zyl as die Voëlverskrikker, Kopano Serumula as die Blikman, Marina Botha–Spies as Glinda en Deirdré van Schalkwyk as die bose heks. Elkeen bring flair (veral met Van Schalkwyk se gooi van haar sleep), styl en karakterdiepte na hul rolle.

Die choreografie is vlot en dinamies en duidelik die produk van ure se repetisie en harde werk.
Vernuftige rekwisiete word behendig hanteer tydens dansnommers, en alles is verweef in ’n vloeiende produksietempo.
Die tegniese hoogtepunt kom in die vorm van die multimedia-stormtoneel, waar Dorothy en Toto in Oz beland: ’n indrukwekkende visuele oomblik wat die gehoor laat voel asof hulle ingesuig word in die wonderland.
Van Niekerk se regie balanseer klassiek en kontemporêr met spitsvondige oomblikke: van ’n Churchill-agtige kort toespraak tot klein verwysings na ander verhoogstukke en films, deurlopend subtiel en humoristies.

Hierdie tong-in-die-kies elemente wys duidelik op ’n regisseur met ’n vaste hand en ’n liefde vir verhoogvermaak.
Ook opvallend is die interaktiewe gees van die gehoor. Verskeie kinders het in kostuums opgedaag, en het só ingeleef geraak in die verhaal dat daar herhaaldelik vir karakters op die verhoog wenke uit die gehoor gegee is.
Beslis ’n moet-sien vir elke teaterliefhebber en dalk die geboorte van ’n paar nuwe sterre in die Suid-Afrikaanse verhoogkuns.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
