NewsSchools

Opgewonde leerders op pad na Europa

As deel van ‘n uitruilprogram met Óscar Romero College, vertrek ’n groep graad 11-leerders van Hoërskool Garsfontein in Oktober na België. Die program bevorder Afrikaans en kulturele begrip. Leerders sien uit na die kultuur, kos en nuwe vriendskappe.

’n Groep van graad 11-leerders van Hoërskool Garsfontein maak hulle reg om in die eerste week van Oktober België toe te vertrek as deel van die uitruilprogram tussen die skool en die Óscar Romero College in Dendermonde.

Hierdie besoek vorm deel van ’n langtermyn-uitruilprogram wat daarop gemik is om Afrikaans te bevorder en kulturele ervarings te deel.

Volgens adjunkhoof vir Akademie, Maggie Halliday, het die uitruilprogram meer as twee dekades gelede begin.

“In 2002 het ’n Belgiese leerder van die Óscar Romero College in Dendermonde, ’n Afrikaanse skryfkompetisie gewen. Deel van sy prys vir die kompetisie was ’n besoek aan Suid-Afrika vir hom en sy onderwyser. Sy onderwyser, Jan de Smedt, wat nou al afgetree is, was so beïndruk met ons pragtige land dat hy besluit het om ’n uitruilprogram tot stand te bring. Ek is nie seker hoe hy by Hoërskool Garsfontein uitgekom het nie maar dis waar ’n langtermynverhouding tussen die kollege en ons skool begin het.”

Die eerste besoek het in 2004 plaasgevind en aanvanklik elke twee jaar daarna. Sedert 2018, het dit ’n jaarlikse instelling geword, met ’n kort onderbreking tydens die Covid-pandemie.

Vanjaar is die program weer ten volle op dreef en die leerders is in Oktober in België vir die tweede fase van die uitruilprogram.

Elke leerder het reeds aan die einde van verlede jaar hul Belgiese gasvriende leer ken, en daar is oor sosiale media kontak gehou tot en met die besoek van die Belgiese studente aan Suid-Afrika in Februarie.

Nou is dit die Suid-Afrikaanse leerders se beurt om gaste te wees en ’n pragtige en geskiedenisryke deel van Europa te verken.

Die leerders is vol verwagting. Elsabé Steyn sê: “Ek het ’n passie om van ander kulture te leer. Dit sal ook lekker wees om ons eie kultuur en veral ook Afrikaans, uit te dra.”

Zelri van Wyk vertel: “My gasheer het reeds aangedui dat ons ’n konsert gaan bywoon en ek sien daarna uit maar ook na die kosse, en om ons erfenis met hulle te deel.”

George Bell is nuuskierig oor die verskille tussen die twee lande: “Ek glo dis ’n ander lewe wat ons gaan sien en ek sien veral uit om die Belgiese familie te ontmoet waar ek gaan woon. Hulle het wel gewaarsku dat hulle niks het wat met die ervarings wat ons hulle gebied het vergelyk kan word nie en veral nie juis diere nie. Maar ek sien uit om veral ook die kampus van hul skool te sien.”

Die program bied vir leerders ’n unieke kans om hul horisonne te verbreed, ander kulture eerstehands te ervaar en Afrikaans op internasionale vlak uit te leef.

Vanjaar se graad 10’s kan reeds aansoek doen om deel van volgende jaar se groep te wees.

OOK GELEES: High Court action launched over illegal building work in Meyerspark

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button