Local newsNews

“My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

In ’n roerende briefie wat by Milan Pretorius (6) se gedenkdiens gedeel is, onthou sy ouers hul seuntjie se woorde – “My hartjie slaap nog”.

Familie en vriende het Dinsdag by ’n gedenkdiens in Kameeldrift Oos afskeid geneem van Milan Pretorius (6), die Graad 1-seuntjie wat onlangs aan bakteriële meningitis oorlede is, terwyl sy ouers in ’n roerende briefie sy bekende oggendwoorde onthou het: “My hartjie slaap nog.”

Die diens is gelei deur pastoor Lean Buys en Psalm 23 is voorgelees, waarna geliefde liedere soos U is my God en Living Hope gesing is.

Familie en vriende is versoek om nie swart klere te dra nie, aangesien dit eerder ’n viering van Milan se lewe was as ’n somber, tradisionele begrafnis. Die lokaal waar die diens gehou is, is met foto’s en sy gunsteling speelgoed versier – selfs sy skoene, windbuks en rugbybal was deel van die roerende uitstalling.

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly
Sesjarige Milan se gedenkdiens is Dinsdag gehou. Foto: Verskaf

In hul boodskap het Milan se ouers gesê “dit is nie vaarwel nie maar tot weer siens”, en dat sy plekkie op aarde leeg mag wees, maar hy vir altyd in hul harte en herinneringe sal bly.

Bianca en Luard het Milan as hul “blou-oog, sesjarige seuntjie” beskryf – mamma se liefie en pappa se “Boesman” – wat van sy eerste asemteug af soos sonskyn in hul lewe geskitter het. Hulle het vertel hoe hy soggens met ’n glimlag kon sê “My hartjie slaap nog”, en hoe hy speel-speel sou vra: “Kies ’n hand,” as hy iets vir jou wou gee.

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

In die program is ook herinner aan Milan se lewenslus: sy liefde vir fietsry en skopfiets, sy remote control RC crawler en radar-karre, en sy groot opgewondenheid oor Monster Trucks.

“Sy tyd was kort, maar sy impak is vir ewig,” lui die huldeblyk, met familie wat sê hulle hou sy stories vas, al hou die hemel nou sy hart vas.

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

“My liefie…. Jou plekkie op aarde mag dalk leeg wees, maar in ons harte en gedagtes sal jy altyd bly. Ons kan so dankbaar wees vir die 6 jaar wat jy vir ons geleen was. Jy het ons geleer van onvoorwaardelike liefde, geluk en hoe om die beste weergawe van onself te kan wees.

“Ons mis jou onbeskryflik baie. Woorde en papier is te min vir alles wat ons wil sê, weet net dit is nie vaarwel nie maar tot weer siens.”

As ’n laaste simboliese gebaar het sy ouers ’n ballon losgelaat – “nie in hartseer nie, maar in liefde” – met die woorde: “Vlieg vry, ons klein Milannie.” Bywoners is ook genooi om Milan se gunsteling lekkers te neem, as ’n klein herinnering aan die seuntjie wat graag gedeel en altyd wou help.

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

“Ons liefste Milan, ons het jou nie verloor nie maar op 2 Februarie 2026het die Hemel jou kom leen.

“Jou klein voetjies het diep spore in ons lewens getrap en herhinneringe sal bly deur die jare heen.”

‘n Huilende Bianca het vertel hoe dankbaar hulle is vir al die ondersteuning wat hulle sover ontvang het.

“Die hele diens en dag was ongelooflik en ons het weereens net besef hoeveel mense agter ons staan en by ons staan. Almal wat net ingespring het en gehelp het. Ons kon regtig nie vir ‘n beter afskeid gevra het nie en dis hartseer. Ons mis hom so so baie. Ons dink van harte hy het afgekyk en hy was gelukkig saam met ons en dat hy sy groot partytjie net vir hom baie geniet het,” het Bianca snikkend gesê.

 “My hartjie slaap nog”: Milan (6) se woorde wat agterbly

Sy het vroeër vertel Milan het verlede Sondag, Febuarie 1, 2026 met hoofpyn en koors begin kla, wat hulle eers aan die hitte toegeskryf het. Later het hy lyfseer ontwikkel, nog probeer speel, maar teen die aand het hy skielik baie siek geword en begin opgooi.

Sy en Luard het hom na Montana Hospitaal gehaas waar die gesin in isolasie geplaas is nadat blou kolletjies op sy vel verskyn het. Bloedtoetse het bakteriële meningitis (meningokokke-breinvliesontsteking) bevestig, al weet hulle steeds nie waar hy moontlik blootgestel is nie.

Milan is Maandagoggend per ambulans na ’n ander hospitaal oorgeplaas vir ’n ICU-bed. Sy koors het aangehou, hy was deurmekaar, en ondanks noodbehandeling het hy kort ná aankoms verswak en ongeveer 40 minute later in sy pa se arms gesterf.

Lees ook: Klein Milan Pretorius (6) sterf in sy pappa se arms aan bakteriële meningitis

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button