Local newsNews

Skaakmat! weerklink nou in die Sinkhuis

In ’n geskiedkundige sinkhuis in Pretoria groei ’n nuwe unieke skaaktradisie waar beginners en ervare spelers saamkom om skaak vir pret met so ‘n klein geldinsentief te speel. En so, met pryse, kos en kameraadskap word Woensdagaande ’n viering van strategiese denke by Chess@Sink.

Op die hoek van ’n stil straat in die Moot, in ’n huis waar geskiedenis in die karaktervolle skilderye teen die mure fluister, en die tuin lowerryk skadu aan restaurantgangers bied, is iets besonders aan die gebeur sedert die begin van April.

Die Sinkhuis wat al sedert 1892 staan, eggo nou nie net met die geklink van borde en die gelag van gaste in die verskillende vertrekke van die restaurant nie, maar ook met die sagte tik van skaakstukke wat oor borde skuif totdat iemand ‘skaakmat!’ uitroep.

Hier, waar die verlede en die hede mekaar ontmoet, skiet ’n nuwe tradisie tans wortel.

Elke Woensdagaand kom mense van alle ouderdomme en agtergronde in ’n warm en innige vertrek bymekaar vir Chess@Sink Social Tournaments.

Wat begin het as ’n eenvoudige idee om sosiale skaak te speel, groei nou vinnig tot ’n uur of wat, waartydens mense strategies dink, ’n wenk of twee gee en mekaar oor ’n skaakbord leer ken.

Volgens prokureur Peet Grobbelaar, een van die dryfkragte agter die inisiatief, is hierdie aande nie net op wen of verloor ingestel nie.

“Die reëls is lekker gemaklik,” vertel hy. “Ons speel gewone skaak, maar een van die belangrikste reëls is raak-en-speel. As jy aan ’n stuk raak, moet jy hom speel. Dit hou almal eerlik en gefokus.”

Die aand kos deelnemers R100, wat nie net toegang tot die toernooi bied nie, maar ook vingerhappies en iets om te drink insluit.

Die kombinasie skep ’n ontspanne atmosfeer waar mededinging en kuier hand aan hand loop.

“Die wenner van die aand kry R200 en die tweede plek se wenner kry R100,” sê hy, “maar eintlik gaan dit oor die ervaring om in ’n gemaklike atmosfeer kragte te meet. Aan die einde van die jaar kry die algehele wenner R1 000, gebaseer op punte wat deur die jaar verdien is.”

Teen die mure van die Sinkhuis Restaurant hang talle skilderye en foto’s van die huis wat in 1892 gebou is en nou op die hoek van Lys- en Parkerstrate in die Moot tot ‘n restaurant en kroeg omskep is. Foto: Elize Parker

Wat hierdie byeenkomste besonders maak, is dat niemand uitgesluit word nie.

“Almal kan deelneem,” beklemtoon hy. “Beginners is net so welkom soos ervare spelers.”

Hy voeg by dat sy mede-organiseerder, Christiaan Coetzee, ’n uitstekende afrigter is wat altyd bereid is om nuwe spelers te help en rigting aan ’n potjie skaak te gee as iemand sou vashaak. Coetsee is ’n jong, energieke voltydse student.

Vir Grobbelaar is skaak diep persoonlik. Hy onthou hoe hy as kind in Pretoria-oos tot laatnag teen sy pa en broer gespeel het.

“My pa het my ook oorspronklik leer skaak speel,” sê hy. “Eintlik is skaak vir my baie sentimenteel.”

Vandag hou hy steeds sy skaakstukke in dieselfde ou kissie van eertyds, ’n stille herinnering aan die kosbare tye saam met sy pa.

Hy glimlag as hy oor sy skaakheld praat. “Magnus Carlsen. Ek bewonder sy manier van dink, en sy kalmte onder druk.”

Vir Grobbelaar is Carlsen een van die grootste skaakspelers van alle tye. Hy is ’n Noorse grootmeester wat wêreldwyd bekend geword het toe hy in 2013 die Wêreldskaakkampioen geword het, ’n titel wat hy vir jare suksesvol verdedig het.

Grobbelaar sê hy is veral bekend vir sy ongelooflike intuïsie en posisionele spel en sy kalmte onder druk, selfs in baie moeilike posisies.

“Ek wil almal wys skaak is pret, maar die spel ontwikkel ook jou denke,” sê hy. “Jy hoef egter nie professioneel en goed afgerond in die spel te wees om saam met ons te speel nie. Ons leer bymekaar.”

Coetzee se eie skaakreis het op ’n jong ouderdom begin.

“Ek het op sewejarige ouderdom by Laerskool Voorpos geleer speel, by ’n Juffrou René,” vertel hy.

Later het hy sy vaardighede by Hoërskool Oos-Moot geslyp en selfs gereeld aan Gauteng-kampioenskappe deelgeneem.

Hy lag as hy rustig praat oor hoe mense soms huiwerig is om aan te sluit by skaakklubs.

“Mense moet nie dink sosiale skaak is ’n taai uitdaging nie. Ons speel elke Woensdagaand vyf rondes, en daar is altyd iemand wat bereid is om te help.”

By die huis het hy verskeie skaakstelle, insluitend een wat aan sy oupa behoort het.

“Die stel beteken baie vir my,” sê hy en beaam soos Grobbelaar, skaak kan ook ‘erg emosioneel wees’.

Wanneer dit egter by strategie kom, raak die gesprek gou lewendig.

“Ek hou daarvan om zugzwang as ’n strategie te gebruik. Dis die oomblik wanneer jy jou opponent dwing om ’n slegte skuif te maak.”

Sy gunstelingskuifstuk is die perd. “Met die unieke manier wat die perd kan beweeg, kan jy iemand maklik vastrek op ’n manier wat hulle glad nie verwag nie. Dis eintlik jou troefstuk.”

Om skaakfiks te bly, speel hy gereeld teen sy broer, Henri, en volg internasionale spelers aanlyn.

“Levy Rozman is die een skaakspeler wat ek bewonder.”

Beter bekend as GothamChess, is Rozman, ’n Amerikaanse skaakspeler, een van die gewildste skaak-bewusmakers in die wêreld. Hy is ’n Internasionale Meester (net onder die vlak van ’n grootmeester.)

Wat werklik bewondering by Coetzee afdwing is nie net sy spel nie, maar hoe hy skaak vir gewone mense toeganklik maak. Hy is veral bekend vir sy aanlyn lesse vir beginners én gevorderde spelers

Die ontspanne atmosfeer by Die Sinkhuis Restaurant self dra by tot die unieke ervaring.

Eienaar Ryno Joubert sê hy geniet dit om te sien hoe die afgesonderde area met skaakborde en spelers lewe kry.

“Dit is goed om te sien mense hou hulself kreatief besig,” sê hy. “Ons het self kinders, Arno en Ruan, en ek hoop hulle sal ook eendag saamspeel. Ons is ’n gesin wat lief is vir speletjies, veral tydens vakansies.”

Hy wys na die mure en sinkdak. “Hierdie huis het al baie gesien. Nou sien dit hoe mense weer bymekaar kom, sonder selfone en net om saam te wees en iets prettigs te doen.”

Pieter Deyzel, ‘n ywerige sosiale skaakspeler. Foto: Elize Parker

Pieter Deyzel, ’n gereelde deelnemer, sê die skaakaande het vir hom ’n nuwe roetine in sy week gebring. Dit is vir hom nie net ’n kompetisie nie, maar ’n plek en tydjie waar hy kan ontspan en nuwe mense ontmoet.

In ’n wêreld wat al hoe meer fokus op kunsmatige intelligensie en selfoonskerms plaas, is die eeue-oue oordagte sosiale skaakspel in ’n geskiedkundige huis op ’n Woensdagaand om 18:00 beslis dalk net die regte teenvoeter teen die rotresies. En duidelik ’n geleentheid om vriendskappe te smee en ’n ou geliefde spel opnuut te ontdek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button