News

Regsaksie ná dae lange kragonderbreking

Die DA en inwoners bevraagteken die metro se noodbeplanning, kabelvoorraad en beweerde swak bestuur te midde van ernstige kragonderbrekings.

Queenswood-inwoners het regsverteenwoordigers aangestel om hul frustrasie met die metro aan te spreek nadat groot dele van die voorstad dae lank sonder elektrisiteit was ná ’n langdurige kragonderbreking wat verlede week begin het.

In ’n brief wat op 8 Mei deur die Pretoriase regsfirma Hurter Spies Incorporated namens inwoners aan die stadsbestuurder gestuur is, word die metro gekritiseer oor wat beskryf word as ’n onvoldoende reaksie op die krisis.

Volgens die brief het die onderbreking op 7 Mei omstreeks 15:25 begin. Inwoners het die fout glo deur die stad se aanlyn stelsels en oproepsentrums aangemeld, maar het volgens die regsverteenwoordigers min terugvoer ontvang oor wanneer die probleem opgelos sou word.

Gesteelde oorhoofse kabels in Kilnerpark het bygedra tot volgehoue kragonderbrekings in dele van die Moot in die eerste twee weke van Mei. Inwoners ervaar frustrasie oor die uitgerekte herstelwerk en herhalende infrastruktuurskade. Foto: Verskaf

Die brief voer aan dat inwoners meegedeel is dat tegniese spanne nie oortyd kon werk nie omdat daar glo nie voldoende fondse beskikbaar was nie.

Wian Spies van Hurter Spies Incorporated sê die gebrek aan kommunikasie en stadige reaksie het inwoners in ’n moeilike situasie geplaas.

“Teen 12 Mei het die stadsbestuurder nog geen terugvoer op ons brief verskaf nie. Inwoners is in die duister gelaat oor wanneer herstelwerk voltooi sou wees,” sê Spies.

Hoewel elektrisiteit gedurende die naweek van 8 tot 10 Mei in sekere dele van Queenswood herstel is, was daar volgens inwoners en die DA teen Maandag steeds gebiede soos Koedoespoort wat sonder krag was.

Spies sê sommige dele van die buurt het eers weer elektrisiteit ontvang nadat die regsbrief aan die metro gestuur is.

Die regsverteenwoordigers voer aan dat die metro ’n wetlike plig het om betroubare elektrisiteitsdienste te lewer en noodsituasies doeltreffend te bestuur.

Die brief verwys na bepalings van die Wet op Munisipale Stelsels en die Elektrisiteitsreguleringswet wat vereis dat munisipaliteite basiese dienste prioritiseer, infrastruktuur behoorlik onderhou en volhoubare elektrisiteitsdienste verseker.

Die hantering van die kragonderbreking word in die brief as ‘laks’ beskryf, met die bewering dat inwoners reeds ernstige skade en groot ongerief ervaar het as gevolg van die langdurige onderbreking.

Gesteelde kabels in Gemsbokstraat en Blesboklaan in die Koedoespoort Nywerheidsgebied het kragonderbrekings veroorsaak, met sommige dele van die gebied wat op 11 Mei steeds sonder elektrisiteit was. Foto: Verskaf

Inwoners word aangeraai om rekord te hou van enige finansiële verliese of skade wat met die kragonderbreking verband hou.

DA-raadslid Anru Meyer sê die situasie wek ernstige vrae oor die metro se bestuur van noodherstelwerk en voorraadbeheer.

“Een van die redes wat vir die vertraging gegee is, is dat daar nie kabels by die depot beskikbaar was om gesteelde kabels te vervang nie. Dit is iets wat inwoners nie kan verstaan nie. Hoe is dit moontlik dat noodkabels nie in ’n hoofstoor of areastore beskikbaar is om herstelwerk te doen nie?”

Volgens Meyer dui die gebrek aan beskikbare kabels op moontlike wanbestuur rondom kabelvoorraad en onderhoudsbeplanning.

Hy sê daar doen ook gerugte die rondte oor moontlike korrupsie binne die metro rakende kabels en infrastruktuurvoorrade.

“Indien daar enige waarheid in die gerugte is, dui die vlak van sofistikasie van die kabeldiefstal daarop dat dit nie bloot opportunistiese kabeldiewe of kontrakteurs is nie, maar moontlik mense met interne kennis van die metro se stelsels,” meen Meyer.

Meyer sê hy sal versoek dat senior metrobestuurders in die toekoms persoonlik verantwoordbaar gehou word vir skade wat inwoners tydens langdurige diensonderbrekings ly.

“Ek praat nie net van gewone skadevergoedingseise nie. Daar moet verantwoordelikheid geneem word vir die bestuur van stelsels en hulpbronne. Stilbly is nie langer ’n antwoord nie. Inwoners verwag ’n metrobestuur wat verantwoordelikheid neem en nie die stad in afsonderlike silo’s bestuur nie,” sê Meyer.

Die metro is vir kommentaar genader maar geen is ontvang teen publikasie nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button