Warmkombers veroorsaak brand tydens tienerpartytjie in Pretoria
'n Tienerpartytjie het in 'n noodsituasie verander toe 'n warmkombers glo kortsluiting gemaak en 'n slaapkamer aan die brand laat slaan het.
Wat as ‘n gesellige tienerpartytjie met 13 jongmense begin het, het op 19 Junie vinnig in ‘n nagmerrie ontaard toe ‘n warmkombers glo kortsluiting gemaak en ‘n slaapkamer aan die brand laat slaan het.
Danksy die vinnige optrede van die tieners, ouers, bure en vriende is die brand beperk totdat die brandweer opgedaag het.
Volgens Henning Dafel het die brand omstreeks 20:00 uitgebreek toe sy dogter, Mea, se warmkombers glo kortsluiting gemaak het en haar bed aan die brand geslaan het.
Hy vertel dat die twee brandblussers wat hy by die huis gehad het, saam met ‘n tuinslang, nie genoeg was om die vlamme te blus nie.
“Die kinders het hulle ouers gebel en Pretoria-Oos het gemobiliseer,” skryf Dafel.
Hy sê talle ouers, onderwysers, bure en vriende het met brandblussers opgedaag om te help en kon daarin slaag om die brand tot Mea se slaapkamer te beperk totdat die brandweer opgedaag het.
Hoewel die slaapkamer groot skade opgedoen het, is niemand beseer nie.
Read the English version here.
Dafel sê die ervaring het hom weer laat besef wat werklik belangrik is.
“Ons dien ‘n groot God wat ons beskerm. Niemand het seergekry nie, en niks is belangriker as mense nie.”
Hy het ook die kalm optrede van die tieners geloof en gesê hulle het vinnig op hulle voete gedink. Die partytjie is sommer na ‘n ander ouer se huis verskuif, waar sy kinders die aand oorgeslaap het.
Verder het hy sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskap wat sonder huiwering saamgestaan het, asook die nooddienste wat bereid is om hulle lewens vir ander te waag.
Dafel het grapperig afgesluit: “As jou dogter sê sy wil haar kamer oordoen, doen dit maar vinnig.”
Lees ook: KI help leer, maar onderwysers bly nodig
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
