Nóg ’n ondersoek na die dood van Sky, die polisiehond geloods

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het bevestig dat hy die omstandighede rondom die beserings en dood van die polisiehond Sky onafhanklik gaan ondersoek. Dié ondersoek kom na aanleiding van vrae oor haar versorging en die prosedures by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se K9-eenheid se dierehospitaal te Roodeplaat in Pretoria. Ian Cameron sê die ondersoek moet antwoorde en aanspreeklikheid bring.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) gaan ’n onafhanklike ondersoek instel na die omstandighede rondom die beserings en dood van Sky, ’n polisiehond van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Ian Cameron, DA-voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir die polisie, het op 21 September bevestig dat OPOD hom formeel in kennis gestel het dat die direktoraat die ondersoek sal uitvoer.

Die OPOD-ondersoek kom bo en behalwe ander ondersoeke wat reeds aan die gang is. Die SAPD het ’n interne ondersoek ingestel en ’n generaal is aangewys om dit te lei. Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NSPCA) en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad voer ook ondersoeke uit in verband met Sky se dood.

Cameron het gesê die SAPD se interne verslag word na verwagting op 9 Oktober aan die nasionale polisiekommissaris voorgelê.

Hy het op 18 September bevestig dat hy het met senior SAPD-lede vergader het oor die omstandighede rondom haar dood. Volgens hom is verskeie aspekte geïdentifiseer wat verder ondersoek moet word, waaronder die plek waar Sky aangehou is, die sorg wat gedurende die nag beskikbaar was, die beleid oor polisiehonde en of bestaande prosedures gevolg is.

Hy het aangedui dat rekords rondom Sky se dood en haar omstandighede by die dierehospitaal beveilig en oorhandig is en dat getuies ondervra is.

Hy het ook gesê die ondersoek kyk na ander polisiehonde wat beseer is, dood is of uitgesit is, om vas te stel of Sky se geval moontlik deel van ’n breër probleem was.

Cameron het verduidelik die ondersoek moet nie slegs bepaal wat met Sky gebeur het nie, maar ook vasstel of daar tekortkominge oor die sorg van polisiehonde in die groter stelsel bestaan.

Volgens Cameron is dit steeds te vroeg vir finale bevindings. Hy het beklemtoon dat die ondersoeke hul werk moet voltooi voordat gevolgtrekkings gemaak word.

Die onafhanklike betrokkenheid van OPOD plaas intussen ’n verdere ondersoekmeganisme buite die SAPD se interne proses op die saak.

Cameron het gesê die ondersoeke moet uiteindelik vasstel wie van Sky se toestand bewus was, watter besluite geneem is en of daar geleenthede was om haar te beskerm of uit die betrokke omstandighede te verwyder.

Hy het bygevoeg dat aanspreeklikheid op grond van die feite en bevindings van die ondersoeke moet volg indien daar vasgestel word dat oortredings plaasgevind het.

“Sky se dood moet aanleiding gee tot verbeterings in die stelsels en prosedures wat polisiediere beskerm,” glo Cameron.

Navrae is aan die SAPD gerig maar geen antwoorde is ten tye van publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button