Naalde klik vir hoop en herstel
Vir die Boesemvriendinne is elke prostese die resultaat van mense wat hul tyd en vaardighede beskikbaar stel om ’n ander vrou te ondersteun. Die projek se werk strek daarom verder as die vervaardiging en verspreiding van borsprosteses: dit skep ook geleenthede vir gemeenskappe om saam te werk en vroue ná borskanker te ondersteun.
Met 1 791 handgemaakte borsprosteses, duisende ure se breiwerk en die betrokkenheid van vrywilligers uit verskillende gemeenskappe het Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek aan die einde van Oktober ’n besondere mylpaal bereik.
Die projek se jaarlikse uitdeeldag by die Voortrekkermonument in Pretoria het weereens gewys hoe mense deur praktiese aksies ’n verskil in ander se lewens kan maak.
Die borsprosteses is tydens die geleentheid aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) oorhandig vir verspreiding aan vroue wat ’n mastektomie ondergaan het.
Die meer as 1 700 prosteses het ongeveer 14 328 uur se brei- en hekelwerk deur vrywilligers uit 15 streke landwyd in beslag geneem.
Die Boesemvriendinne-projek voorsien sagte, gebreide of gehekelde borsprosteses aan vroue wat nie tradisionele silikonprosteses of borsrekonstruksie verkies of kan bekostig nie.
Die prosteses bied ’n alternatiewe opsie wat gemaklik gedra kan word en vroue kan help om ná ’n ingrypende operasie weer meer gemaklik en selfversekerd te voel.
Volgens René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand, verteenwoordig elke prostese veel meer as die materiaal waarvan dit gemaak is.
Wat haar aangedaan maak, is elke borsprostese beteken iemand was bereid om tyd af te staan vir ’n vreemdeling.
“Iewers in Suid-Afrika sit daar vandag ’n vrou met ’n bolletjie wol op haar skoot en ’n hekelpen of breinaalde in haar hande. Sy werk aan ’n sagte borsprostese vir iemand wie se naam sy waarskynlik nooit sal ken nie en wie se verhaal sy dalk nooit sal hoor nie. Tog is sy bereid om van haar tyd, talent en liefde te gee,” sê Roux.
Een van vanjaar se besondere toevoegings tot die projek was die betrokkenheid van ’n groep motorfietsryers.
Hulle het met hul fietse by die Voortrekkermonument opgedaag om breipakkies met wol te kom haal sodat die projek voortgesit kan word.
Lede van die Pretoria Bikers Council, waaronder motorfietsryers wat by Pick Them Up, Unite for Jesus en Geraas van Genade betrokke is, het 20 breipakkies ontvang.
Die pakkies sal aan die inwoners van Serene Tehuis vir Bejaardes oorhandig word, waar vlytige inwoners dit kan gebruik om prosteses vir volgende jaar se uitdeeldag te brei en te hekel.
Hierdie samewerking het ontstaan nadat Radio Kansel se Hartklank-program by die projek betrokke geraak en gehelp het om Boesemvriendinne se werk verder bekend te stel.
Die motorfietsryers se deelname het ook gewys dat mense uit uiteenlopende gemeenskappe op verskillende maniere by die projek kan inskakel.
Vanjaar se geleentheid het ook die bekendstelling van Boesemvriendinne se jongste sokkiereeks ingesluit. Die projek werk saam met SOX Footwear en USN om spesiale sokkies te verkoop. Die opbrengs word gebruik om brei- en hekelpakkies aan te koop wat aan vrywilligers beskikbaar gestel word.
Chandré Joubert, projekorganiseerder van Boesemvriendinne, het aan Rekord gesê dit is elke jaar besonders om in vennootskap met die ontwerpers van die sokkies te werk, hoewel dit soms moeilik is om finaal oor die ontwerpe te besluit.
“Vanjaar het ons op die handjiesontwerpkouse besluit vir Solidariteit se betrokkenheid,” sê Joubert.
Vir Joubert is die projek se betekenis egter ook geleë in die persoonlike ontmoetings en die verskil wat dit in individuele vroue se lewens maak.
“Ek het al die geleentheid gehad om iemand in nood een keer met die prostese te help en sal altyd onthou hoe dankbaar sy was. Ek kon haar toe sommer ook van ons projek vertel. Dit is ’n projek wat mense nader aan mekaar bring,” sê sy.
Die projek se volgende mikpunt is om sy ondersteuning verder uit te brei en ook ’n groter rol in borskankerbewusmaking te speel.
“Ons sien uit om die projek uit te brei en wil saam met ’n vooraanstaande kankernavorser begin werk om bewusmaking rondom borskanker saam met die prosteses te versprei en ook ons ondersteuning aan borskankerlyers uit te brei,” sê Joubert.
Hierdie beoogde samewerking kan die projek se bestaande praktiese ondersteuning aanvul met verdere inligting en bewusmaking oor borskanker.
Dit sal ook die geleentheid skep om meer vroue te bereik en die gesprek oor die uitdagings ná ’n borskankerdiagnose voort te sit.
Helpende Hand het sy dank uitgespreek teenoor sanger Elmé Churr, Kansa, SOX Footwear, USN, Moreleta Kerk, Voelgoed Media, Dinamika Finansiële Dienste, Radio Kansel en die talle vrywilligers wat deur hul betrokkenheid tot die projek bydra.
Hoewel die prosteses vir vanjaar reeds oorhandig is, het die voorbereidings vir 2027 begin. Die publiek kan betrokke raak deur self te brei of te hekel, breipakkies te borg of die spesiale sokkies aan te koop.
Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak, besoek www.boesemvriendinne.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
