News

Resensie: Deernisvolle bundel teken verlede met sagte pen

Die bundel, Kromruggens, deur Martin van Rensburg bevat 25 kortverhale wat lesers sal laat terugverlang na die nostalgiese stories van ’n herkenbare eertydse wêreld.

Skrywer en inligtingstegnologiekenner, Martin van Rensburg, se 25 verhale in sy nuwe selfgepubliseerde kortverhaalbundel, Kromruggens, is ’n viering van die spontane vertelkuns.

In hierdie bundel van die gewilde Moot-skrywer, vind stories vol intrige, knalslotte en karakters groter as die lewe ’n tuiste.

Die verbeeldingsdorpie is “’n plek van stof en liefde”, soos die skrywer dit self beskryf, in ‘n omgewing waar die inwoners van Kromruggens, Tweeput, Sanniesherberg en Vergenoeg hul alledaagse lewens met ’n goeie porsie tipiese menslike swakheid inkleur.

Hierdie tweede boek in die reeks (die eerste was Sanniesherberg wat vroeër vanjaar verskyn het) bied die leser 25 verhale wat afspeel in ‘n dorpie wat bekend voel.

Van Rensburg beskik oor die besondere vermoë om karakters te skep wat die leser aan mense uit sy eie omgewing van veral kleintyd herinner.

Sy karakters is nie noodwendig helde nie. Allermins. Eerder mense met eienaardighede en tekortkominge. Tog word hulle met soveel begrip geteken dat ’n mens hulle nie sommer vergeet nie.

Die skrywer se gawe lê juis daarin dat hy die unieke aard van ’n individu raaksien en dit met enkele woorde vasvang.

Ampie is só ’n karakter. Hy kyk soos talle van die ander karakters op sy eie manier na die wêreld.

Die dood is ’n gereelde tema in hierdie verhale, maar sonder om somber te wees. Daaroor skryf Van Rensburg met ’n nugtere wysheid: “Daardie laaste reis wanneer jy nie bagasie nodig het nie.”

Die verhaal oor ’n karakter met geheueverlies is besonder aangrypend en eindig met ’n verrassende knalslot. Voorafgaande gebeure word hiermee in ’n ander lig stel.

Kromruggens is beslis nie ’n droewige plek nie. Die humor is volop. Die verhaal oor ’n nuwe pad in die dorp is skreeusnaaks, terwyl die vertelling oor ’n nudistekolonie, wat Van Rensburg met ondeunde woordspel ’n “kaalplaas” noem, sy fyn aanvoeling vir die komiese openbaar.

Bygelowe, dorpspraatjies en kleinburgerlike gewoontes word met ironie belig maar nooit sonder deernis nie.

Van Rensburg geniet sy karakters en veral om taal te plooi om die verhale en die leser te dien. Hy haal ou Afrikaanse woorde soos “lieplapper” uit die vergetelheid en skep oorspronklike woorde soos “sakdoekparade.”

Die byname is beskrywend, soos Hans Sespoot. “Byname is soos beloftes,” sê een van die karakters.

Van Rensburg se beskrywings is ewe oorspronklik. Tant Magda word byvoorbeeld “Radio Kromruggens” genoem.

Selfs Hertzoggies en ’n ou panelite-tafeltjie roep ’n herkenbare wêreld van gister op.

Die verhale word meestal deur ’n ek-verteller aangebied, maar die skrywer verras ook met ’n vertelling deur die oë van ’n hond (Bliksem). Die afwisseling in perspektief verleen varsheid aan die bundel.

Die dialoog is lewensgetrou en dra by tot die geloofwaardigheid van die karakters. Van Rensburg luister fyn hoe mense praat, maar veral hoe hulle hul ware self deur hul woorde weggee.

Tussen die skaterlag en skalkse waarnemings is daar ook plek vir liefde en verlies. ’n Verhaal oor ’n haarkammetjie met ’n kinkel teen die einde, wys dat die skrywer ook knap kan speel met verwagtinge van lesers oor ‘n storie se afloop.

Soos in sy vorige bundel, speel Van Rensburg met die grens tussen waarheid en verbeelding. Hy skryf met ’n oorspronklike vertellerstem en ’n besondere aanvoeling vir die ironiese in die alledaagse. Die wysheid is aards, maar nooit platvloers nie.

Kromruggens is ’n bundel wat die leser herinner aan die rykdom van Afrikaans in die na-oorlogse jare van die laat veertigs en vyftigs en aan die sonderlinge mense wat kleur aan ons bestaan gee. Van Rensburg se onvergeetlike inwoners van ’n plek sal nog lank in enige leser se verbeelding voortleef.

– Navrae oor die boek: welkom@kromruggens.com

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button