Nuwe Moot-wyksraadslede sien kans vir uitdagings
Met die verkiesingsuitslae in Tshwane gefinaliseer, begin die fokus nou verskuif na dienslewering. Van werkende straatligte en betroubare watertoevoer tot bekamping van misdaad en stedelike verval: verskeie wyksraadslede sê hulle wil inwoners se probleme daadwerklik aanpak.

Die verkiesing is verby en die aandag is nou op die werk wat voorlê. Sommige van Tshwane se verkose wyksraadslede kyk reeds na die uitdagings in hul wyke en die diensleweringsprobleme wat inwoners dringend aangespreek wil hê.
Met al die stemme getel en die proporsionele verteenwoordiging (PR)-setels sowel as wyksetels toegeken, het die DA as die grootste party in die stad na vore getree.
Volgens die OVK se verklaring van ‘n regverdige en vrye verkiesing op 8 November het die DA 74 setels en 34.37% van die stemme behaal. ActionSA het 48 setels en 22.08% van die stemme gekry. Hierdie syfers sluit sowel wyks- as PR-setels in.
Die ANC het 44 wyksetels en 20.22% steun verwerf maar geen PR-setels is toegestaan aan die party nie.
Die Vryheidsfront Plus het 17 PR-setels met 7.63% van die stemme verseker, terwyl die EFF 13 PR-setels met 5.77% behaal het.
Ander partye wat PR-verteenwoordiging in die raad verkry het, sluit die MK-party (vier), SAKP (drie) en PA (twee) in. Rise, SPPSA, AIC, ACDP, Mayibuye, ATM, Bosa, SDP en UAT het elk een PR-setel verseker.
Die kiesersopkoms was 54.42%, teenoor 44.99% tydens die 2021-plaaslike regeringsverkiesing.
Name van PR-raadslede sal binnekort aangekondig word. Raadslede sal volgens die raadsreëls binne die volgende twee weke ingesweer word.
Intussen is daar reeds duidelike aanduidings van die probleme waarop verskeie wyksraadslede hul aandag wil vestig.

Virginia Keppler-Young, DA-wyksraadslid vir Wyk 87, sê inwoners verdien werkende straatligte, stabiele elektrisiteit en water in hul krane.
Sy sê inwoners het die afgelope jare met kragonderbrekings van tot 23 dae lank gesukkel.
Volgens haar moet elektrisiteitsinstandhouding en opgraderings, beplande instandhouding, die snoei van bome en vinniger reaksietye op foute voorkeur geniet.
Sy wys ook op probleme met waterlekkasies en pompstasies wat inwoners dae lank sonder water laat.
Keppler-Young sê sy wil ook aandag gee aan skoon openbare ruimtes, die sny van gras, die herstel van slaggate en straatoppervlaktes, asook die herstel van straatligte.
Sy het onderneem om met die metropolisie saam te werk om kabeldiefstal te bekamp.
Haar boodskap aan inwoners is dat sy “sigbaar en op grondvlak betrokke wil wees”.

Elma Nel, DA-wyksraadslid vir Wyk 54, het inwoners bedank vir hul ondersteuning nadat die party 64.5% van die stemme in die wyk ontvang het.
Sy sê sy waardeer elke stem en dat inwoners op haar toewyding kan staatmaak, ondanks die stad se derde koalisieregering.
Nel meen die stad se finansies moet eers onder beheer gebring word voordat werklike herstel kan plaasvind.
Sy het ook gewaarsku dat tenderbedrog gestop moet word.
Volgens haar sal samewerking tussen inwoners en sterk leierskap noodsaaklik wees om dienslewering in Tshwane te verbeter.

Kobus Scheltema, DA-wyksraadslid wat op Wyk 53 fokus, identifiseer onder meer stadige reaksietye op kragonderbrekings, misdaad, niewerkende straatligte, besoedeling en ‘n gebrek aan stedelike vernuwing as belangrike uitdagings.
Die wyk sluit onder meer Gezina, Riviera, Rietfontein, dele van Prinshof, Villieria, Les Marais en Eloffsdal in.
“Stedelike vernuwing moet op vervalle en verwaarloosde eiendomme fokus, maar ook met infrastruktuurverbeterings gepaardgaan,” glo Scheltema.
Hy wil onder meer aandag gee aan die Melgisedek-eiendom en die moontlikheid ondersoek om huidige inwoners in ‘n meer geskikte gebou te hervestig.
Hy beklemtoon ook die belangrikheid van samewerking met gemeenskapsorganisasies om besoedeling in die Moot Suid-spruit aan te spreek.
“Ek wil vars energie en toewyding aan my wyk se inwoners bied,” sê Scheltema.

Adriana Randall DA-wyksraadslid van Wyk 52, wat Waverley, Bergtuin, Villieria en dele van Rietfontein insluit, sê sy is dankbaar vir die vertroue wat inwoners in haar gestel het.
Sy beklemtoon dat sy reeds sedert einde Maart vanjaar aktief aan diensleweringskwessies werk en dat sy die momentum oor die volgende vyf jaar wil behou.
Straatligte, krag- en watervoorsiening bly volgens haar groot bekommernisse onder inwoners.
Sy verwys spesifiek na die reservoir in die Moot waarvan die masjinerie tans met die hand bestuur moet word en sê sy wil voortgaan om langtermynoplossings daarvoor te bevorder.
Randall meen haar bestaande kennis van die wyk se probleme en ervaring met diensleweringsprosesse sal help om uitdagings in die wyk sonder onderbreking voort te sit.

Johan Cloete, die inkomende DA-wyksraadslid vir Wyk 55, sê hy aanvaar sy verantwoordelikheid met “nederigheid, integriteit en vasberadenheid”.
Sy prioriteite sluit die aanspreek van uitdagings soos swak dienslewering, krag- en wateronderbrekings, straatligte, slaggate, onwettige kragaansluitings en verwaarloosde openbare ruimtes in.
Hy wil ook veiligheid, misdaad, dwelms en bekamping van geslagsgebaseerde geweld aanspreek.
Cloete beplan om samewerking tussen inwoners, die SAPD, metropolisie en gemeenskapsveiligheidstrukture te versterk.
“Ek is nie hier vir myself nie, maar vir die gemeenskap. My deur sal oop wees vir inwoners, en ek glo in luister, optree en opvolg totdat probleme aangespreek word.”
Hy sê inwoners moet gereelde terugvoer ontvang oor probleme wat aangemeld is.

Priscilla Pannell, DA-wyksraadslid vir Wyk 1, sê een van haar grootste prioriteite is om straatligte in die wyk weer behoorlik te laat werk.
Sy waarsku dat stukkende straatligte geleenthede vir kriminele aktiwiteite, waaronder kabeldiefstal, skep.
Die dwelmprobleem onder jongmense is volgens haar besonder kommerwekkend.
Sy het reeds begin saamwerk met die Hercules-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die SAPD en beplan ook gereelde besoeke aan omliggende skole om die probleem hok te slaan.
“Die wyk het baie probleme, maar ek glo dat wanneer ons hande vat, en saamwerk, ons verandering kan bring. Spanwerk is die geheim tot sukses.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
