News

TLU SA waarsku welvaart moet geskep om verdeel te word

Landbouleier sê ekonomiese groei, eiendomsreg, veiligheid en kundige bestuur is noodsaaklik om die land se ekonomie en landbousektor volhoubaar te hou.

Suid-Afrika moet wegbeweeg van politieke ideologie en ’n kultuur van afhanklikheid na een waarin produktiwiteit, ondernemingskap, verantwoordbaarheid en ekonomiese groei vooropgestel word.

Só sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, in ’n boodskap waarin hy die land se ekonomiese uitdagings en die toekoms van kommersiële landbou onder die loep geneem het op 17 November in Pretoria waartydens toekennings ook uitgedeel is.

Die volgende wenners is ook tydens die geleentheid met Sonneblomtoekennings vereer: Beste bydrae in Klankmedia: Bulletin radio-nuusagentskap; Beste bydrae in Beeldmedia: GROOTplaas (GROOTFM 90.5); Beste bydrae in geskrewe media: Marizka Coetzer (Citizen); Beste bydrae in multimedia: Pretoria FM.

Volgens Van Zyl kan ’n land nie volhoubare welvaart skep deur bloot bestaande rykdom te probeer herverdeel nie. Die ekonomiese grondslag moet eers versterk word deur mense en ondernemings wat produseer, belê en werksgeleenthede skep.

“Welvaart word geskep, nie bloot herverdeel nie,” is die kernboodskap van sy standpunt.

Van Zyl wys daarop dat Suid-Afrika se ekonomie sterk steun op ’n relatief klein deel van die bevolking wat formeel werk, ondernemings bedryf en persoonlike inkomstebelasting betaal.

Jennifer Schoeman (inhoudsvervaardiger: Pretoria FM se Landbou-program), Mia Slabbert (landbou-aanbieder), Esmarie Yssel (hoofredakteur: Pretoria FM), James Kemp (stasiebestuurder) en TLU SA se president, Henry Geldenhuys. Foto: Elize Parker

Volgens hom betaal ongeveer 1.5 miljoen mense sowat 80% van persoonlike inkomstebelasting.

Hy meen dié produktiewe deel van die ekonomie vorm ’n belangrike fondament waarop openbare dienste, infrastruktuur en maatskaplike ondersteuning gebou moet word.

Die uitdaging is volgens hom om meer mense ekonomies aktief en produktief te maak, eerder as om die bestaande produktiewe grondslag toenemend te belas en sodoende die vermoë om verdere groei te genereer, te verswak.

Hy is krities oor beleidsrigtings wat volgens die organisasie ideologiese doelwitte bo kundigheid, prestasie en ekonomiese volhoubaarheid plaas.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA Foto: Elize Parker

Van Zyl verwys na kaderontplooiing, politieke bevoordeling, onbeheerde staatsinmenging, tenderkorrupsie en beleid wat beleggersvertroue ondermyn as faktore wat ernstige skade aan staatsinstellings en die ekonomie aangerig het.

Hy wys onder meer op munisipaliteite, Eskom, Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die spoorwegstelsel en die Poskantoor as voorbeelde waar bestuursbesluite en politieke prioriteite volgens sy beoordeling ekonomiese uitkomste negatief beïnvloed het.

Die organisasie meen geen ekonomie kan volhoubaar groei wanneer politieke oorwegings kundigheid, produktiwiteit en finansiële verantwoordbaarheid verdring nie.

“Die ekonomie funksioneer nie volgens politieke slagspreuke nie, maar volgens vertroue, investering, vraag, aanbod en volhoubare opbrengste,” lui Van Zyl se boodskap.

Hy pleit daarom vir ’n verskuiwing van ’n opeiskultuur na ’n boukultuur. Dit beteken nie dat armoede geïgnoreer moet word nie, maar dat ondersteuning mense moet bemagtig om deel van die ekonomie te word, eerder as om permanente afhanklikheid te bevorder.

Landelike veiligheid is volgens hom nie bloot ’n gemeenskapsaak nie, maar ’n direkte ekonomiese kwessie.

Thuso Mokoena, joernalis van Bulletin Radio-nuusagentskap. Foto: Elize Parker

Die organisasie waarsku dat korrupsie, georganiseerde misdaad, afpersing, veediefstal, plaasaanvalle, infrastruktuurvandalisme en geweldsmisdaad investering, landbouproduksie en werkskepping ondermyn.

Van Zyl beklemtoon dat geen ekonomie kan floreer indien mense, ondernemings, eiendom en infrastruktuur nie veilig is nie.

TLU SA vra daarom vir bevoegde en toegeruste polisiedienste, doeltreffende ondersoeke en vervolging, asook die uitroeiing van korrupsie binne wetstoepassingsinstellings.

Die organisasie beklemtoon ook die belangrikheid van samewerking tussen gemeenskappe en bevoegde private veiligheidsinisiatiewe.

Eiendomsreg en regsekerheid word eweneens as noodsaaklike voorwaardes vir ekonomiese groei beskryf. Volgens Van Zyl moet ondernemings in ’n omgewing kan funksioneer waar hulle vertroue het dat hul beleggings en eiendom beskerm word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button