Inwoners eis dringende optrede oor nog 'n stukkende metro-aanleg
Vir inwoners in die omgewing is die beskerming van die Roodeplaatdam en die herstel van aanlegte, wat die water wat daarin vloei skoon moet hou, ’n saak van toenemende erns.
Die toenemende kommer oor moontlike besoedeling van die Roodeplaatdam en die gepaardgaande gesondheids- en omgewingsrisiko’s vir omliggende gemeenskappe het inwoners, boere en ander belanghebbendes gedwing om dringend saam te staan.
’n Gemeenskapsvergadering is op 18 November naby die Zeekoegat-rioolwatersuiweringsaanleg gehou.
Inwoners in die omgewing se doel was om oplossings te bespreek en moontlike stappe te identifiseer om verdere besoedeling as gevolg van disfunksionele metro-aanlegte te voorkom.
Die ideaal van die inwoners was ook om ’n georganiseerde gemeenskaplike groep te vestig wat groter aanspreeklikheid deur die metro en ander owerhede kan bevorder.
Die vergadering volg nadat videomateriaal versprei is wat volgens betrokkenes glo wys hoe besoedelde water vanuit die rigting van die Zeekoegat-rioolwatersuiweringsaanleg in die Roodeplaatdam se opvangstelsel invloei.
Die oorsprong en samestelling van die water in die beeldmateriaal is nie onafhanklik deur enige rolspelers bevestig nie.
Dit het egter hernude kommer onder inwoners oor die toestand van die rioolinfrastruktuur en die moontlike vrystelling van onvoldoende behandelde afvalwater in die natuurlike waterstelsel laat ontstaan.
Leanne de Jager, die DA se Gautengse woordvoerder oor omgewingsake, meen die situasie moet nie langer as ’n gewone munisipale instandhoudingsprobleem beskou word nie.
Volgens haar moet die metro die probleme by die Zeekoegat- en Baviaanspoort-rioolwatersuiweringsaanlegte as ’n noodgeval hanteer.
“Die twee rioolwatersuiweringsaanlegte wat sukkel verander die Roodeplaatdam in ’n oop rioolstelsel,” waarsku De Jager.
Sy voer aan dat kragonderbrekings, ’n tekort aan chloor en ander behandelingschemikalieë, tot die probleme by die aanlegte bydra.
“Wanneer rou of gedeeltelik behandelde rioolwater vanaf die aanlegte in die Pienaarsrivier beland, vloei dit uiteindelik na die Roodeplaatdam,” sê De Jager.
Die Zeekoegat-aanleg is op Gedeelte 142 van die plaas Zeekoegat 296-JR geleë, by Koedoeweg, naby die Moloto-pad (R573), in Streek 5 van die metro.
Die ligging, in die omgewing van Kameeldrift-Oos en Roodeplaat, maak die toestand van die aanleg belangrik vir omliggende gemeenskappe en landboubedrywighede.

Beskrywing: Vloeiende water
Hierdie rolspelers is van die Pienaarsrivier en die dam se opvangstelsel afhanklik.
Volgens metrobronne sluit die aanleg se opvanggebied onder meer dele van Mamelodi, Eersterust, Silverton, Meyerspark, Waltloo, Derdepoort, Jan Niemandpark, Montana, Doornpoort, Sinoville en Kameeldrift in.
Die moontlike gevolge van besoedeling kan egter verder as die onmiddellike omgewing van die aanleg strek.
Gemeenskappe in Kameeldrift-Oos naby East Lynne, Roodeplaat, Wallmannsthal en omliggende landelike gebiede kan geraak word indien besoedeling deur die waterstelsel stroomaf versprei.
De Jager wys ook daarop dat boere wat water uit die Pienaarsrivier vir besproeiing of om vee van drinkwater te voorsien gebruik, moontlik aan die gevolge van waterbesoedeling blootgestel kan word.
Die omvang van enige moontlike blootstelling sal deur toepaslike watergehaltetoetse en ondersoeke bepaal moet word.
De Jager waarsku dat die huidige teenwoordigheid van opsigtelike vlakke van alge-opbloei en waterhiasinte, ernstige aandag verg en tekens van besoedelde water is.
“Kinders, inwoners, boere en vee kan gevolglik in gevaar wees indien hulle aan besmette water blootgestel word,” sê sy.
Die teenwoordigheid en konsentrasie van nadelige organismes vir menslike gesondheid in die Roodeplaatdam en die Pienaarsrivier kon egter nie deur onafhanklike toetsuitslae vir hierdie berig bevestig word nie.
Die toestand van die Roodeplaatdam wek ook vrae oor die moontlike uitwerking op die breër drinkwatervoorsieningstelsel.
De Jager beklemtoon dat Zeekoegat ’n rioolwatersuiweringsaanleg is en nie huishoudings direk van drinkwater voorsien nie.
Water wat vir drinkwaterbenutting aangewend word, moet toepaslike behandelingsprosesse ondergaan voordat dit aan verbruikers versprei kan word.
“Indien die rouwaterbron ernstig verswak, kan dit die behandeling daarvan bemoeilik en moontlik druk op die drinkwatervoorsiening plaas,” sê De Jager.
Daar is tans geen onafhanklik bevestigde inligting wat daarop dui dat drinkwater wat aan huishoudings voorsien word, onveilig is nie.
Sy raai aan inwoners moet die amptelike watergehalteresultate en kennisgewings van die verantwoordelike waterowerhede raadpleeg indien dit enigsins beskikaar is.
Onder haar voorgestelde ingrypingsmaatreëls is die onmiddellike beskikbaarstelling van voldoende rugsteunkragopwekkers by albei aanlegte om te verseker dat suiweringsprosesse tydens kragonderbrekings kan voortgaan. Sy stel ook ’n toegewyde instandhoudingsbegroting voor om noodsaaklike herstelwerk te finansier, die herstel en behoorlike instandhouding van omleidingspunte en gereelde, verkieslik weeklikse, watergehaltetoetse stroomop en stroomaf van die aanlegte.
Wyk 87 raadslid Virginia Keppler-Young het aan Rekord gesê: “Hierdie is persoonlik vir my omdat dit my wyk is. Ek gesels gereeld met inwoners wat bang geraak het toe die twee aanlegte gebreek het en die riool ingevloei het in die dam en omgewing. Ouers is bekommerd oor hul kinders se blootstelling aan die water en dis nie reg nie. Niemand hoef te wonder of die water rondom hul huis hul gesinne siek maak nie.”
Sy glo inwoners kan verwag dat die metro dit as ‘n noodgeval moet hanteer.
“Die water moet onafhanklik getoets word en hulle moet die resultate publiseer sodat inwoners die waarheid kan weet. Ek sal aanhou om druk op die metro te sit en ook by die provinsiale owerhede aandring op aksie totdat ons water weer veilig is.”
Die metro en die Gautengse Departement van Omgewingsake is om kommentaar oor die bewerings, die toestand van die betrokke rioolwatersuiweringsaanlegte en die moontlike uitwerking op die waterstelsel genader. Geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel