News

Leeu-en tierwelpies nou by dieretuin ná klopjag

’n Ondersoek deur die Groen Skerpioene het hulle na beweerde onwettige wildhandel gelei. Die diere is nou by Pretoria-dieretuin. Drie verdagtes verskyn op 19 November in die hof.

Drie leeu- en twee tierwelpies, bakoorjakkalse en rooikatte is by ’n privaat woning in Pretoria in East Lynne in die Moot aangetref en op beslag gelê tydens ’n klopjag.

Die diere is nou tuis by die Pretoria-dieretuin terwyl die kriminele sake daarrondom afgehandel word.

Drie verdagtes sal op 19 November in die hof verskyn na inhegtenisnemings op 17 November.

Dit volg op ’n ondersoek deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) se omgewingsbestuursinspekteurs, bekend as die Groen Skerpioene, wat op 17 November met ondersteuning van Gauteng se Groen Skerpioene en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer is.

Volgens die department het die ondersoek begin nadat ’n informant die departement ingelig het oor wild wat op sosiale media te koop aangebied is.

Kommunikasie met die persoon wat die diere geadverteer het, het aangedui dat leeuwelpies, tierwelpies, muskeljaat- en rooikatte glo te koop aangebied is.

’n Ondersoek is gemagtig met toestemming van die Noord-Gautengse Direktoraat van Openbare Vervolging ingevolge artikel 252A van die Strafproseswet, 1977.

Drie leeuwelpies, twee tierwelpies, bakoorjakkalse en rooikatte is tydens ’n klopjag op ’n private eiendom in East Lynne, Pretoria, aangetref en op beslag gelê. Die diere is na Pretoria-dieretuin geneem, waar hulle versorg sal word terwyl die strafregtelike ondersoek voortduur. Foto: Verskaf

Die diere is tydens die operasie gekonfiskeer nadat die verdagtes nie permitte kon toon wat die beperkte aktiwiteite met die betrokke spesies magtig nie.

Minister David Maynier, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, het die operasie as ’n voorbeeld van geïntegreerde omgewingswetstoepassing beskryf.

“Dit is ’n uitstekende voorbeeld van geïntegreerde omgewingswetstoepassing in aksie. Onwettige wildhandel bedreig beskermde spesies en ondermyn Suid-Afrika se bewaringspogings. Sterk samewerking tussen omgewingsowerhede en wetstoepassingsagentskappe is noodsaaklik om hierdie misdade te ondersoek en vermeende oortreders voor die hof te bring,” het Maynier gesê.

Hy het ook die informant bedank wat die inligting aan die departement verskaf het.

“Individue wat bereid is om geloofwaardige inligting te deel, kan ’n belangrike bydrae lewer tot die beskerming van ons wildlewe. Ons moedig enigiemand met kennis van vermoedelike onwettige aktiwiteite aan om dit deur die toepaslike kanale aan te meld,” het hy gesê.

Die beslaglegging plaas die kollig op die handel in grootkatte en die omstandighede waarin jong diere in die kommersiële bedryf en onwettige handel beland.

Fiona Miles, direkteur van die dierewelsynsorganisasie Four Paws, sê die organisasie kan nie bespiegel oor die oorsprong van die spesifieke welpies wat in Pretoria beslag gelê is nie, aangesien die polisieondersoek nog aan die gang is.

“Ons navorsing toon egter dat die wettige bedryf en die onwettige handel nie twee afsonderlike wêrelde is nie. Ons het netwerke geïdentifiseer wat groot teelfasiliteite bedryf wat rondom openbare interaksie met grootkatte gebou is, terwyl hulle ook lewende diere en bene verhandel, asook ander wat ’n begin-tot-eindbestemming-diens aanbied, van aankoop tot wettige en vervalste dokumentasie en vervoer,” het Miles gesê.

Volgens haar dien die wettige handel as dekmantel vir ’n groeiende onwettige handel in grootkatte. “Of hierdie welpies van ’n geregistreerde plaas of ’n agterplaasoperasie afkomstig is, die onderliggende oorsaak is dieselfde: die kommersiële teel van grootkatte.”

Miles sê Suid-Afrika se regulering van tierhandel is besonder gefragmenteerd, omdat tiere nie inheems aan die land is nie en as uitheemse spesies geklassifiseer word.

“Four Paws se navorsing het bevind dat elke provinsie grootkatte anders reguleer en, in sommige gevalle, glad nie. Toe ons in 2022 navraag by die provinsies gedoen het, het Gauteng aangedui dat geen permit nodig was om tiere aan te hou nie, terwyl Limpopo gesê het tiere word nie deur sy omgewingswetgewing gereguleer nie,” verduidelik Miles.

Sy glo die gebrek aan ’n verpligte nasionale register vir getalle, geboortes, sterftes en bewegings maak dit moeilik om die omvang van die handel vas te stel.

“Niemand, insluitend die Suid-Afrikaanse owerhede, weet presies hoeveel tiere in die land is nie. Gefragmenteerde regulering beteken dat tiere relatief maklik geteel, doodgemaak en verhandel kan word.”

Miles sê die vraag na grootkatwelpies word deur verskeie markte gedryf, waaronder toerisme- en interaksiebedrywighede, private aanhouding en internasionale handel.

Volgens haar word welpies wat vir interaksie met toeriste gebruik word, dikwels kort ná geboorte van hul ma’s geskei.

“Op teelplase word welpies gewoonlik binne dae ná geboorte van hul ma’s weggeneem. Welpies wat met die hand grootgemaak word, mis die noodsaaklike voedingstowwe, sosialisering en leerproses wat slegs hul ma kan bied.”

Sy sê dié diere kan voedingsgebreke, verswakte immuunstelsels en gedragsprobleme ontwikkel, terwyl onvoldoende inentings en ontwurming, asook inteling, verdere gesondheidsprobleme kan veroorsaak.

“’n Deeglike veeartsenykundige beoordeling is daarom krities,” volgens Miles.

Haar uitgangspunt is dat grootkatte wat in gevangenskap gebore en grootgemaak is, kan nie in die natuur vrygelaat word nie en behoort eerder in ware toevlugsoorde (sanctuaries) versorg te word waar hulle lewenslange sorg ontvang, nie geteel word nie en nie deur mense hanteer word nie.

Die organisasie doen al lank ’n beroep op die volledige beëindiging van die kommersiële grootkatbedryf in Suid-Afrika, met ’n gefaseerde uitfasering van teel- en handelsbedrywighede, ’n sentrale register vir tiere en sterker toesig oor aanhouding en beweging.

“Four Paws se standpunt is duidelik: wilde diere is nie troeteldiere nie. Hulle het ingewikkelde behoeftes wat voeding, ruimte, gedrag, klimaat en sosiale strukture insluit, wat nie in ’n huis bevredig kan word nie,” voeg Miles by.

Sy waarsku ook dat openbare interaksie met welpies, insluitend stap- en selfie-geleenthede, die kommersiële teelbedryf ondersteun.

“Ons boodskap aan die publiek is eenvoudig: moenie vir ’n speel-en-streelsessie met ’n leeuwelpie, jagluiperd of tierwelpie gaan nie, want jy word deel van die probleem.”

– Gebruik Four Paws se aanmeldings-gereedskap om enige onrus wat jy het rondom die koop en verkoop van grootkatte aan te meld: https://www.four-paws.org/campaigns-topics/campaigns/ruthlesstrade/big-cat-reporting-tool

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button