Inwoners in Moot kla oor herhaaldelike rioolprobleme
Inwoners in verskeie Moot-wyke kla oor herhalende rioolstortings uit mangate en pype, stadige reaksie op klagtes en onvolledige opruimwerk nadat die metro herstelwerk gedoen het.
Inwoners in verskeie Moot-buurte kla oor herhaaldelike rioolstortings, verstopte mangate en onvolledige herstelwerk nadat munisipale spanne rioolstelsels skoongemaak het.
Hulle beweer dat munisipale spanne nie altyd betyds opdaag nie en soms vertrek sonder om die riool en besoedelde gebiede behoorlik skoon te maak.
Inwoners van onder meer Jan Niemandpark sê riool beland herhaaldelik in erwe wanneer mangate oorloop.
Virginia Keppler-Young, DA-raadslid vir die betrokke wyk, het die riool wat uit ’n munisipale mangat by ’n eiendom in Voetpadnekstraat stroom, as ’n ernstige gesondheidsrisiko beskryf.
Volgens haar is die mangat op munisipale grond geleë en het inwoners langer as ’n week gewag sonder dat die probleem opgelos is.
Sy sê riool het intussen oor die hele erf gestroom. “Een van die kinders is tans só siek dat sy nie eens haar kop kan lig nie. Haar ma het vroeër aan my gesê dat sy nie eers water kan binnehou nie,” het Keppler-Young gesê.
Sy het die metro se reaksietyd bevraagteken en gesê dit is onaanvaarbaar dat inwoners so lank aan ’n moontlike gesondheidsrisiko blootgestel word.
Volgens haar het munisipale werkers op die terrein aangedui dat hulle nie die riool in die erf kon behandel nie omdat hulle nie oor die nodige chemikalieë of chloor beskik het nie.
Keppler-Young sê ’n groot masjien is ook nodig om die mangat oop te grawe, aangesien groot klippe of bakstene daarin vasgesit het en die werkers dit nie kon verwyder nie.
Sy sê die rioolprobleem in die straat is intussen herstel, maar dat die besoedeling op die eiendom agtergebly het.

Inwoners beskryf die reuk as oorweldigend en sê dit maak dit moeilik om in hul huise te bly en hul gewone daaglikse aktiwiteite voort te sit.
Mense van 28ste Laan in Villieria het ook herhaaldelik rioolprobleme aangemeld, veral weens riool wat uit ’n mangat stroom op die veld langs die laan, naby die kruising met Terblanchestraat.
Volgens inwoners was daar aanvanklik geen reaksie van die metro nie.
Een inwoner het gesê die probleem keer telkens terug, soms binne twee weke nadat munisipale werkers die stelsel skoongemaak het. Hy verkies om anoniem te bly.
Die inwoner het ook beweer dat sy seun weens die onaangename reuk begin braak het.
Inwoners beweer verder dat munisipale spanne nie altyd die riool behoorlik opruim nadat ’n verstopping verwyder is nie.
Volgens hulle word die oorblywende riool soms agtergelaat om droog te word, terwyl die onaangename reuk nog weke lank voortduur.
Een inwoner het later bevestig dat die riooloorloop afgeneem het, maar dat die riool van twee vorige voorvalle steeds nie opgeruim of behandel is nie.
DA-raadslid Adriana Randall het bevestig dat die rioolprobleem in 28ste Laan intussen hanteer is. Sy sê verdere herstelwerk is egter steeds nodig. “Die herstelwerk ná ’n gebarste pyp ’n paar maande gelede moet nou gedoen word,” het Randall gesê.
Die metro is om kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie op die navrae reageer nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel