News

Misdaad styg skerp in Eersterust en Villieria

Misdaadsyfers vir die tweede kwartaal van 2026/27 toon ’n kommerwekkende styging in Eersterust en Villieria.

Misdaad in Eersterust skiet met 26% die hoogte in, terwyl Villieria met rooftogte worstel.

Die tendense in die Moot-area wys in die jongste kwartaallikse misdaadstatistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wat op Vrydag, 20 November bekendgemaak is.

Die syfers dek die tweede kwartaal van die 2026/27-boekjaar, van Julie tot September 2026.

Die syfers skets ’n wisselvallige prentjie van misdaad landwyd.

Hoewel verskeie kategorieë van ernstige geweldsmisdaad landwyd afgeneem het, bly misdaad ’n groot bron van kommer, wys die syfers.

Daar is ook beduidende verskille tussen provinsies en individuele polisiestasies se gebiede.

Die bekendmaking van die statistiek volg te midde van verskeie massaskietvoorvalle.

Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, het gesê 5 590 mense is gedurende die verslagtydperk van drie maande vermoor. Dit beteken gemiddeld sowat 60 mense is elke dag in die land vermoor.

“Die gebiede waar geweldsmisdaad die meeste voorkom, is dié waar ras, klas, marginalisering, onderontwikkeling en ’n gebrek aan hulpbronne ’n rol speel. Dit is die gemeenskappe wat die swaarste deur die plaag van geweldsmisdaad getref word,” het Cachalia gesê.

Motorroofvoorvalle het landwyd met 16.8% afgeneem, terwyl vragmotorrooftogte met 27.9% gedaal het. Rooftogte by woon- en sakepersele het elk met 7% afgeneem. Aangemelde seksuele misdrywe het ook met 2.7% afgeneem.

Gauteng staar steeds groot uitdagings in die gesig, veral wat moorde tydens rooftogte en georganiseerde misdaad betref.

Die provinsie het landwyd die meeste moorde aangeteken wat met rooftogte verband hou.

Generaal Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die afname in verskeie misdaadkategorieë verwelkom, maar beklemtoon dat die stryd teen misdaad nog lank nie verby is nie.

Die jongste syfers skets ’n wisselvallige prentjie van misdaad in Pretoria se Moot-area.

Eersterust en Villieria het toenames in aangemelde ernstige misdaad aangeteken, terwyl die Moot-polisiestasiegebied ’n geringe afname getoon het.

Die grootste toename van die drie betrokke polisiestasiegebiede in die Moot-area was in Eersterust, waar ernstige misdaad met 25.8% gestyg het. Die aantal aangemelde gevalle het van 306 in die tweede kwartaal van 2025 tot 385 in dieselfde tydperk vanjaar toegeneem.

Villieria het ook ’n toename aangeteken, met ernstige misdaad wat met byna 12% gestyg het.

Daarteenoor het ernstige misdaad in die Moot-polisiestasiegebied met 4.1% afgeneem. Met ontleding wys dit egter dat die algehele afname verbloem egter toenames in verskeie belangrike misdaadkategorieë, veral misdade teen persone en huisbraak.

Gauteng bly vir die polisiebestuur ’n besondere bron van kommer, aangesien die provinsie die meeste moorde tydens rooftogte in die land aangeteken het.

Misdade teen persone het in die Eersterust-gebied met 35% toegeneem. Eiendomsverwante misdaad het ook met 34.9% gestyg.

Die aantal moorde het van een tot drie toegeneem, terwyl roof met verswarende omstandighede van 32 tot 35 gevalle gestyg het.

Dwelmverwante misdaad het ook toegeneem en bly een van die prominente misdaadkategorieë in die gebied.

Daar was wel enkele afnames. Seksuele misdrywe het van ses tot drie gevalle gedaal.

Die Villieria-polisiekantoor se gebied het meer as 500 ernstige misdade aangeteken.

Een van die opvallendste toenames in die area was in roof met verswarende omstandighede. Huisbraak het ook skerp gestyg, met ’n toename van 60.7%.

Diefstal uit motorvoertuie het eweneens in die area toegeneem, terwyl diefstal wat nie elders in die verslag vermeld word nie, ook ’n styging getoon het. Die aantal seksuele misdrywe het verdubbel. Kontakmisdaad het ook toegeneem terwyl eiendomsverwante misdaad tot meer as 130 gevalle gestyg het.

Daar was wel afnames in sekere misdaadkategorieë, waaronder gewone aanranding.

Die Moot-polisiestasiegebied het 324 ernstige misdade aangeteken, teenoor 338 in die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar.

Die afname moet egter teen die agtergrond van toenames in sekere misdrywe beskou word.

Kontakmisdaad het toegeneem, terwyl dwelmverwante misdaad ook gestyg het. Huisbraak het van 21 tot 30 gevalle toegeneem.

Roof met verswarende omstandighede het onveranderd op nege gevalle gebly.

Aan die positiewe kant het eiendomsverwante misdaad afgeneem. Diefstal wat nie elders vermeld word nie, asook handelsmisdaad, het ook gedaal.

Die breër misdaadprentjie vir die Tshwane-distrik is meer bemoedigend.

Ernstige misdaad by die distrik se 36 polisiestasies het van 25 393 gevalle tussen Julie en September 2025 tot 23 787 in dieselfde tydperk van 2026 afgeneem. Dit verteenwoordig ’n daling van 6.3%.

Moordvoorvalle het afgeneem, terwyl roof met verswarende omstandighede en seksuele misdrywe ook gedaal het.

Nie alle misdaadkategorieë het egter verbeter nie. Poging tot moord het van 294 tot 316 gevalle toegeneem in die hele Pretoria-distrik.

Die polisieverslag waarsku dat die syfers slegs misdade weerspieël wat by die polisie aangemeld en deur die polisie aangeteken is. Dit is dus nie ’n aanduiding van alle misdade wat werklik gepleeg is nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button