Waterrekeninge meer as 30% hoër as drie jaar terug
Pretoria-inwoners betaal sowat 31.6% meer vir water as in 2023/24, terwyl die metro se nie-inkomste-water 45.6% beloop. Die stad skat die finansiële waarde hiervan op R2.76 miljard.

Pretoria-huishoudings wat gemiddeld 20 kiloliter (kl) water per maand gebruik, betaal volgens die metro se tariefvergelyking vanjaar sowat 31.6% meer vir water as in die 2023/24-finansiële jaar.
Die metro se tariefberekeninge vir ’n huishouding wat 20kl water oor ’n 30-dae-faktureringstydperk gebruik, toon dat die totale waterrekening (insluitend die netwerkheffing, maar sanitasie en BTW uitgesluit) onder vlak 1-tariewe van R475.08 in 2023/24 tot R625.25 in 2026/27 gestyg het. Dit is ’n toename van R150.17, oftewel 31.6%.
Onder vlak 2-tariewe het die rekening van R560.47 tot R737.82 gestyg, ’n verskil van R177.35 of 31.6%.
Vlak 3-tariewe het van R707.70 tot R931.49 gestyg, ’n toename van R223.79, wat ook ongeveer 31.6% beloop.
Hoewel die persentasieverhoging oor al drie tariefvlakke dieselfde is, betaal huishoudings verskillende randbedrae ekstra, afhangend van die vlak waarop hulle gefaktureer word.
Die Tshwane metro se tariefstelsel werk op ses glyskaal-verbruiksvlakke (van ’n gratis basiese blok van 0–9kl vir residensiële verbruikers tot bo 60kl per maand, waar hoër verbruik duurder per kiloliter is) sowel as verskillende beperkingsvlakke na gelang van die druk op die waternetwerk.
Vlak 1 is die normale verbruikstarief, terwyl vlakke 2 en 3 stygende straf- of beperkingstariewe tydens watertekorte verteenwoordig. Vir hierdie vergelyking word slegs dié drie standaardvlakke gebruik.
Die verbruikskoste, sonder die netwerkheffing, het eweneens met ongeveer 31.6% gestyg.
Die netwerkheffing, ’n vaste bedrag wat deel van die waterrekening vorm, het in dieselfde tydperk van R154.80 per 30 dae tot R203.70 gestyg.
Dit is ’n verhoging van R48.90, oftewel 31.6%. Die heffing word afsonderlik bereken van die koste van die water wat ’n huishouding verbruik.
Die tariefberekening toon ook hoe die verhoging per liter lyk.
’n Huishouding wat 20 000 liter per maand gebruik, het op vlak 1 gemiddeld sowat 2.38 sent per liter in 2023/24 betaal, teenoor ongeveer 3.13 sent per liter in 2026/27.
Dit sluit die netwerkheffing in en verteenwoordig die gemiddelde rekeningkoste per liter, en wel nie die amptelike tarief vir elke individuele liter nie.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê “die huidige wateruitdagings word veroorsaak deur ’n vraag na water wat die beskikbare aanbod oorskry”.
Volgens hom bewys die hoë vraag dat inwoners nie genoeg aandag aan waterbesparing gee nie.
Mashigo verduidelik die metro het reeds in 2019 met ’n navorsingstudieprojek besef dat as hulle verbruikers laat betaal om al die ekstra kostes van waterverliese, verouderde pype en noodwater te dek, die tariewe eenvoudig te duur en onrealisties vir gewone inwoners sal raak.
Hy het egter nie aangedui hoeveel van die 31.6%-verhoging nou tóg gebruik word om vir die krisiskostes te betaal nie.
Die munisipaliteit se waterverliese bly ook ’n verdere finansiële uitdaging.
Volgens die metro se syfers vir September beloop nie-inkomste-water 45.6% in die verspreidingstelsel.
Dit verteenwoordig ’n verlies van meer as 174 miljoen kl per jaar. Die metro skat die finansiële waarde van hierdie nie-inkomste-water op meer as R2.7-miljard.
Nie-inkomste-water verwys na water wat in die munisipale verspreidingstelsel beland, maar waarvoor die stad nie inkomste ontvang nie. Dit beteken nie noodwendig dat al die water fisies verlore gegaan het nie. Dit sluit onder meer fisiese waterverliese in, soos water wat deur lekkende pype, gebarste waterleidings en ander infrastruktuur lek. Dit sluit ook water in wat deur onwettige aansluitings gebruik word, asook water wat wel verbruik word maar weens meterprobleme of ander redes nie korrek gemeet of gefaktureer word nie.
Mashigo sê die metro pas verskeie programme toe om waterverliese te verminder, waaronder die Thiba Di Leaks-program, wat lekkasies in al sewe streke herstel. Die stad verhoog ook waterproduksie vanuit sy eie bronne en verwyder onwettige aansluitings. Volgens die metro is 88 onwettige aansluitings in die huidige finansiële jaar verwyder. Dit het ook aansporingsprogramme ingestel om inwoners met agterstallige munisipale rekeninge te help om hul skuld te vereffen.
Hy sê waterbeperkingsvlak-tariewe geld vir ’n tydperk van 30 dae en sal, indien nodig, ná afloop van die geldigheidstydperk hersien word. Die afsnydatum is 16 Desember vir die waterbeperkingstariewe wat tans geldig is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
