Motorfietsklubs span kragte saam om koue hok te slaan
Tydens die Blanket Run is meer as 600 komberse ingesamel om hulpbehoewendes hierdie winter warm te hou.

Die Helpende Hand Pretoria-Noord-tak het onlangs sy tiende jaarlikse Blanket Run in samewerking met die Helpende Hand Motorfietsklub gehou.
Meer as 30 motorfietsklubs van regoor Gauteng en verskeie besighede, kerke en die publiek het met hulle kragte saamgesnoer vir dié jaarlikse kombersinsameling wat op 13 Mei gehou is.
Tydens die geleentheid is meer as 600 komberse ingesamel om hulpbehoewendes hierdie winter warm te hou.
Volgens Corrie van der Merwe, voorsitter van die Pretoria-Noord-tak, is hulle baie dankbaar vir elke motorfietsklub, organisasie en individu wat hulle die laaste tien jaar met hierdie projek ondersteun het.
“Sonder ons ondersteuners sou dit nie moontlik gewees het nie.
“Ons sien daarna uit om nog tien jaar met almal hande te vat om nog meer in die gemeenskap te kan doen,” sê Van der Merwe.
Verskeie gesinne en organisasies waar daar nood is, is vooraf geïdentifiseer.

Die komberse wat ingesamel is, is deur die tak gesorteer en gaan in die volgende paar dae aan dié gesinne en organisasies geskenk word.
Lavender Kontrei Mark het die geleentheid ook ondersteun deur te reël vir stalletjies wat eet- en drinkgoed verskaf het.
Francois van Rensburg, sanger en aanbieder by Groot FM, was die seremoniemeester en het heerlik saam met die ondersteuners gekuier terwyl Drommedaris Drum Duo hulle met musiek vermaak het.
Volgens Mariana Kriel, streeksorganiseerder van Helpende Hand Pretoria-streek, is dit van kardinale belang dat lede van die gemeenskap moet betrokke raak by gemeenskapsorganisasies sodat daar ’n volhoubare verskil in die gemeenskap gemaak kan word.
“Vat vandag nog as vrywilliger hande met een van Helpende Hand se takke en neem deel aan die opbou van mense en gemeenskappe.
“Jy kan hoop skep daar waar hoop al verlore is,” sê Kriel.
Besoek gerus www.helpendehand.co.za vir meer inligting.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.