Local news

Kundige sê regte stoftrappers is nodig vir paaie in onherbergsame gebiede

'n Viertrekvoertuigsafari kan gou in ’n nagmerrie ontaard as jy nie die nodige paklyste, bande en rygenote het nie.

Die viertreksafari-geesdriftige van Pretoria-oos, André de Villiers (60), hou daarvan om na plekke in sy viertrekvoertuig te gaan waar min mense kom.

Die bekende gesig op TV- avontuurreekse se mees onlangse reis na die Tankwa-Karoo duskant Sutherland op die grens van die Wes-Kaap en Noord-Kaap, het hom weereens ’n paar lesse geleer… maar die viertrekbekoring bly!

“Sulke bestemmings is die ongerepste en mooiste plekke. Veral die landskap en oop vlaktes van die dorre Tankwa, wat baie reën ontvang het hierdie jaar, was ’n trekpleister. Ek wou sien hoe die veld daarna uitsien nadat dit ’n bietjie water gekry het,” vertel die vriendelike viertrekker.

Vir hom gaan dit ook oor die onherbergsaamheid van ’n landskap.

“Dis altyd asemrowend mooi om verlate plekke te sien soos deur ons Skepper gemaak. Mens raak dan stil, dink diep oor alles en maak jou vry van die wêreld se gebeure,” vertel die vriendelike voertuigontwikkelingsingenieur.

Die langpad roep dikwels vir viertrekvoertuigontwikkelaar van Pretoria-oos, Andre de Villiers, wat glo jy pak nooit ‘n pad in onherbergsame areas alleen aan nie.

Hy pak nooit sy togte alleen aan nie.

“Ek ry altyd met ’n plaaslike gids wat die area goed ken. My vriend Ben Naudé was die bestuurder van die tweede voertuig met my onlangse tog.”

Maar natuurlik vir ’n viertrekvoertuigkundige draai alles nie net om die landskap nie, maar hoé die voertuig hom in uiterste omstandighede gedra.

De Villiers voel die twee viertrekvoertuie op sy onlangse tog, met die boskaravane boonop daaraan gehaak, het hulle baie goed van hul taak gekwyt.

“Die grootste uitdaging is altyd die moeilike duine, maar daar was ook ’n paar rotsagtige hindernisse wat die vastrap behoorlik beproef het,” vertel die kundige De Villiers.

Viertrekvaartuigontwikkelingsingenieur, André de Villiers, het onlangs suksesvol deur die Sederberge op onherbergsame paaie gereis met karavane gehaak aan viertrekdubbelkajuitbakkies.

Die Tankwa-Karoo is nog lank nie sy eerste en enigste onlangse uitdaging met stoftrappervoertuie nie.

Na die reis na hierdie droë Karoo-gedeelte, is De Villiers en sy span na die Richtersveld. Hier het hy in ietwat van ’n penarie beland.

“Die viertrekvoertuigpad het verspoel. Dan moet jy jou eie pad maak waar die pad vantevore geloop het na die verspoelings. Ek het karavaan gehaak en die banddruk was vir die klipterrein afgeblaas na 1.5 bar. Die sonnetjie het lekker gebak en derhalwe die banddruk opgejaag na minstens 1.8 tot 1.9 bar. Ek het vasgeval in die rivierloop met die sagte dik sand wat daar gespoel het. Eers na vele probeerslae het ek die viertrekvoertuig met die karavaan daar uitgekry,” vertel hy.

Hierdie area tesame met gedeeltes van Namibië is die ongerepste waar hy nog was.

“Daar in die ongerepte woestyn kan jy ver sien en oor die vlaktes kyk met geen voertuie of mense wat jou uitsig belemmer nie, “ vertel De Villiers met verlange na die afgehandelde emmerskoplysbestemming.

Hy glo om die rit ’n plesier vir almal te maak, is dit ook belangrik dat elkeen weet wat sy taak en verantwoordelikhede is.

“Elkeen moet ook spaarsamig wees, want jy kan nie alles dubbel inpak nie. Die spasie is ook beperk en jy kan nie die voertuie oorlaai nie, want dit belemmer vaardighede en brandstofverbruik,” waarsku hy.

Ten spyte van sulke en ander uitdagings, bly die langpad weer en weer vir De Villiers roep, ook oor die bekoring snags as hy agteroor langs die kampvuur kan sit.

“Om een te raak met die natuur is om van jou aardse bekommernisse ontslae te kan raak,” meen hy.

Viertrekvoertuigontwikkelaar, André de Villiers, het al in ‘n paar penaries tydens sy viertreksafari’s beland en kan wyse raad gee hoe om daaruit te kom.

De Villiers se wenke vir viertrekreise na ongewone en onherbergsame bestemmings:

– Viertrekvoertuie het ’n altyd ’n beter vermoë as wat jy dalk dink, mits die voertuig reg aangewend word.

– Jy moet jou eie voertuig leer ken deur meer viertrekroetes te ry. Mens raak nie viertrekroetes se komende uitdagings baas in die stad nie.

– Bande en banddruk maak ’n groot verskil aan viertrekvoertuigtraksie. Hierdie faktor kan die voertuig erg benadeel indien verkeerd benader. Dit kan veroorsaak dat die viertrekvoertuighindernis nie voltooi kan word nie. Dus moet die regte tipe band vir verskillende landskappe gebruik word.

– Maak seker met bande dat jy die beter bandvervaardiger asook die regte banddruk gebruik vir die terrein waar gery word. Bande speel ’n geweldige belangrike rol – nie net op ’n viertrekhindernis en grondpad nie, maar ook op teer. Verkeerde bande kan die veiligheid van die voertuig en sy insittendes erg benadeel. “Praat dus met kundiges as daar bande gekies moet word en koop die regte bande en nie die regte prys bande nie!”

– Dis ook belangrik om die voertuie reg toe te rus vir die area en omstandighede waarin jy gaan wees. Hierdie beplannning is net so belangrik soos die paklyste, want ’n oningerigte voertuig kan dinge bemoeilik. Jy moet voorsiening maak vir pakplek, vrieskaste, batterykragstelsels, herwinningstoerusting, kosmaakgeriewe, toilette en storte en vele meer.

– Die verkeerde toerusting kan die voertuie se vaardighede benadeel, veral indien die voertuig te swaar gelaai is en nie die regte suspensie het nie.

– Daar is talle risiko’s met so ’n uitstappie na die onbekende en onherbergsame gebiede, maar die grootste risiko is wanneer ’n voertuig breek en jy kan nie verder beweeg nie asook nie teruggaan na vanwaar jy kom nie. Jy is op jou eie en die mense om jou aangewese. Daar is ook dikwels nie selfoonopvangs om te bel vir hulp nie; derhalwe moet jy altyd twee voertuie wees sodat iemand kan gaan hulp soek as jy nie regkom nie.

– Dis raadsaam om ’n satellietfoon saam te neem sodat jy hulp kan inroep sou dit nodig wees in ’n ernstige ongeval. Verkieslik moet jy ook jou beplanning en datums van waar jy wanneer gaan wees vir iemand in die beskawing gee.

Meer wenke oor viertrekvoertuigbestuur : 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button