Wild-natuurreservate moet droombestemming vir toeriste word
Volgens die Gauteng LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Tasneem Motara moet toerisme op wild toegespits word en die publiek moet bewus gemaak word van die toerismejuwele op hul voorstoep.
“Wildtoerisme het die potensiaal om die toerismemark in Gauteng te ontsluit en daarom moet daar van tegnologie soos opsporingstegnologie vir die bewaring en beskerming van bedreigde spesies gebruik gemaak word.”
So sê die lid van die uitvoerende raad van die Gautengse regering verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling, Tasneem Motara.
Motara en haar span het op 20 November die inplanting van ’n hoë-frekwensie opsporingstelsel in ’n vyfjarige renosterbul se horing in die Dinokeng-reservaat bygewoon.

Die opsporingsapparaat, sowel as die mikroskyfie waardeur hy geïdentifiseer kan word, is tegnologie wat deur die anti-stropingspan gebruik word om stroping te bekamp.
“Ons sal graag wil toesien dat die geriewe in die reservaat en die diere volhoubaar gebruik en ontwikkel word vir toeriste- en navorsingsdoeleindes,” sê Motara.
“Hierdie bewaringspanne en navorsers doen nie net prysenswaardige werk plaaslik en in Gauteng nie, maar bewaar bedreigde spesies vir die hele wêreld. Hulle moet ons ondersteuning geniet,” beklemtoon Motara.
Sy sal graag die reservaat se bywoning deur die plaaslike Gauteng-publiek tot nuwe hoogtes wil neem.
“Die Gautengers moet weet van hierdie bate op ons voorstoep. Dit moet op veel meer platforms bemark word,” sê Motara.

Dr. Shaun Beverley, veearts van die Lammermoor Veterinêre Kliniek, sê hy is gelukkig met die inplanting van beide die opsporingstelsel en die mikroskyfie.
“Elke enkele renoster is ’n individu wat op sy eie benader moet word. Ons kon ook vandag bloed trek om te sien wat die gesondheidstoestand van die bepaalde dier is. Hy was ook ’n bloedskenker vir die renoster-bloedbank by die Universiteit van Pretoria se department van Veeartsenykunde. In die geheel gesien, werklik ’n goeie dag,” sê Beverley.
Die renoster word geblinddoek om hom te kalmeer. Beverley wys daarop dat die diere gewoonlik sensitief vir verdoofmiddels is. Hierdie middel moet dus omsigtig met die vooraftoediening gebruik word sowel as met die toediening na die prosedure om hom weer op sy pote te kry.

Video 1: Voorbereiding vir die inplanting van die opsporingtoestel
Die bestuurder van die reservaat, David Boshoff, sê dat meer as R1-miljoen reeds aan voorkomende maatreëls soos tegnologie uitgegee is om veral die bedreigde diere soos renosters in die reservaat veilig te hou teen stropers.
Vanjaar is daar in die hele Suid-Afrika 11% minder renosters as verlede jaar gestroop, volgens syfers wat deur die Department van Bosbou, Visserye en die Omgewing in Augustus vrygestel is.
Altesaam 231 renosters is egter steeds in die eerste ses maande van vanjaar vir hul horings doodgemaak in Suid-Afrika.
’n Woordvoerder van die department, Peter Mbelengwa, het tydens die vrystelling daarop gewys dit kom voor asof renosterstropery vanaf parke bestuur deur Sanparke na privaat-bestuurde parke geskuif het.
Reservate moet dus ook volgens die departement meer as vantevore op tegnologie, soos opsporingstegnologie, vir anti-stroping staatmaak.

Een so ’n opsporingsapparaat se battery het ’n leeftyd van 18 tot 24 maande en moet dan vervang word.
Die eerste stap met ’n inplantingsprosedure is om die geïdentifiseerde renoster in die 19 000 hektaar reservaat via ’n helikopter op te spoor.
Daarna word die dier verdoof met ’n verdoofpyl. ’n Veearts word met die takie gewoonlik vanaf die helikopter toevertrou.
Wanneer die renoster tot ruste gekom het en aan die slaap is, word daar ’n gat in sy horing geboor by wyse van ’n boor.
Die opsporingstoestel word ingeplant in hierdie holte, waarna dit met kleefdeeg toegemaak word.
Video 2: Die skyfie en toestel word ingeplant

“Die kleefdeeg sorg dat die toestel in plek bly en voorsien langtermynbeskerming vir die horing,” sê Boshoff.
Die prosedure is vinnig en veroorsaak geen pyn vir die renoster nie aangesien die horing inderwaarheid saamgeperste hare oftewel keratien is.
Na ’n ruk word hy weer wakker gemaak en kan voortgaan om te wei of sy omgewing te verken.
Video 4 : Die renoster word wakker en verken sy gebied.
Sowel as om te help om die kom en gaan van die renoster per radiosein te monitor, kan die toestel ook veldwagters waarsku van ’n ongewone beweging van die renoster, of indien hy dit buite die reservaat waag.
’n Reaksiespan kan dan reageer op die alarm van die toestel.
Vantevore is nek- en poothalsbande met toestelle ook gebruik, maar beide word dikwels òf deur die dier afgedwing òf kan breek indien dit teen rotse of boomstompe gestamp word.
Die voorsitter van die Dinokeng-reservaat bestuursvereniging, Hartogh Streicher, verduidelik dat deel van die anti-stroping ook deurlopende heiningpatrollies is.

Die patrollies word gedoen om lokstrikke en slagysters te verwyder en bestaanstroping van veral wildvleis en bosslaghuise te voorkom.
Daar word ook van hommeltuie gebruik gemaak wat moontlike stropers en striksteller kan opspoor en die stel van strikke kan bekamp.
“Die aantal sterftes onder die diere as gevolg van lokstrikke en slagysters het die afgelope drie jaar gedaal,” sê Streicher.
Die sukseskoers om die dooie diere van die strikke te oes as moontlike vleis, is ook laag.
“Die dooie diere word gewoonlik deur die anti-stropingspanne verwyder voordat die strikstellers die diere bereik,” bevestig Streicher.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.