Groep roei indringerplante uit om natuur te bewaar
Met sy byna 500 lede is die Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat druk besig om in te gryp waar die stadsraad nie kan nie om hierdie natuurjuweel vir toekomstige geslagte te behou.
Die Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat het op Sondag, 17 Augustus indringerplante verwyder wat ’n bedreiging inhou vir die reservaat se inheemse plantegroei.
Die groep, wat in 1991 gestig is, het tans ongeveer 470 lede.
“Ons beoog ons op die bewaring en beskerming van die Faerie Glen Natuurreservaat en die stadsraad (aan wie die reservaat behoort) by te staan waar hulle tekort skiet,” sê voorsitter, Louise Kritzinger.
Die idee is om die reservaat te beskerm teen ontoepaslike ontwikkeling, misdaad en agteruitgang.
Dit prioritiseer uitroei van indringerplante deur maandelikse uitroei-aksies met lede van die publiek, asook weeklikse uitroei-aksies met vrywilligers en betaalde arbeid.
“Sondag se ‘hack’ is een van ons maandelikse ‘hacks’ wat ons reël saam met ons lede en lede van die publiek. Ons verwyder grootliks Kategorie 1b indringerplante (hoofsaaklik Lantana camara), wat ’n bedreiging inhou vir die reservaat se biodiversiteit en inheemse en endemiese plantspesies,” sê Kritzinger.
Sy sê hul verwyder die lantana-struike se wortels en takke met sogenaamde ‘tree-poppers’.
Dié geel toestelle word gebruik om bome en struike met vlak wortelstelsels te verwyder. Dit kan ’n bos se wortel en tak deur middel van hefboomkrag uittrek.
“Enigeen wat al ’n ‘hack’ bygewoon het, sal ook weet dit is uitstekende oefening in die buitelug,” sê sy.
Die groep dryf en befonds infrastruktuurprojekte soos rivieroorgange, anti-erosie beheer, en heining-instandhouding.

Dit bevorder ook bewusmaking van die reservaat se fauna, flora en geskiedenis deur uitstappies op hierdie gebied te reël.
Die Vriende se volgende aktiwiteit word beplan vir Sondag, 7 September om 08:00 vir Boomplantdag.
“Die boom wat ons gaan plant sal opgedra word aan die stigter van die Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat wat onlangs oorlede is, Anton Jansen. Hy het ook detyds ’n groot rol gespeel daarin dat die area ’n reservaat sou word.”
Die reservervaar was aan die begin nie omhein nie en het geen wetlike beskerming gehad nie.
“Raak betrokke om te help omsien na die natuurjuweel op julle voorstoep,” moedig sy die plaaslike inwoners aan.
“Dit is ’n voorreg om ’n 120ha natuurreservaat te hê hier in die residensiële area van Faerie Glen. Die stadsraad het ongelukkig nie genoeg befondsing om behoortlik om te sien na die reservaat nie. Deur lede van die Vriende te word, kan ondersteuning direk of indirek gegee word om seker te maak die reservaat is daar vir toekomstige generasies.”
LEES OOK: Pretoria-man kry titel wat niemand wil hê nie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
