Vroue vier hul krag en rol in onderwys
Gassprekers Adele van der Merwe en dr. Carolien van Heerden het hul rol in onderwys beklemtoon, met fokus op hoop, inklusiwiteit, gelykheid en die voorkoming van uitbranding.
Meer as 200 onderwyseresse, almal lede van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se Gauteng-tak, het onlangs by Laerskool Magalieskruin in Pretoria byeengekom om Vrouemaand te vier.
Die geleentheid was nie net ’n viering van vroue se plek in die onderwys nie, maar ook ’n inspirerende dag van erkenning, bemagtiging en trots.
Die SAOU bestaan tans in Gauteng uit meer as 10 700 vroulike lede en hul teenwoordigheid in die onderwys is deurslaggewend.
Sprekers het beklemtoon in skole regoor die land dra vroue as ’n groep by tot die vorming van jong leerders en die skep van ’n kultuur van leer en sorg.
Hulle bevorder inklusiwiteit en gelykheid en staan dikwels aan die voorpunt van verandering, ten spyte van jare se uitdagings en diskriminasie rondom bevordering en promosie.
“Dames in die onderwys se rol kan nooit onderskat word nie. Hulle bring verandering en hoop. Dis werklik ongelooflik wat vroue kan vermag wanneer hulle saamstaan,” het Adele van der Merwe van Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging tydens die byeenkoms gesê.

Van der Merwe is die SAOU-voorsitter van die Gauteng-tak.
Haar woorde is met instemming deur die gehoor begroet en het die kern van die dag se boodskap onderstreep.
Een van die groot temas wat deurgaans beklemtoon is, is die gevaar van uitbranding.
Van der Merwe het daarop gewys vroue in die onderwys is geneig om hulself ten volle te gee aan hul leerders asook aan kollegas, ouers en die gemeenskap.
Sy het beklemtoon hoewel hul toewyding bewonderenswaardig is, is die risiko van uitputting groot.
Die boodskap van die dag was dus duidelik: vroue moet bemagtig word om hul invloed te gebruik sonder om hul eie welstand prys te gee.

Dr. Carolien van Heerden, hoof van Laerskool Magalieskruin en gasvrou van die dag, het ’n boodskap van inspirasie gebring.
Sy het sterk klem gelê op die waarde wat elke vroulike opvoeder tot die onderwys bring.
“Vroue in die onderwys moet nooit aan ’n gevoel ly dat hulle nie genoeg het om aan die bedryf te bied nie, want hulle het soveel om te bied,” glo sy.
Behalwe vir die ernstige gesprekke en inspirerende toesprake, was daar ook plek vir ligter oomblikke.
Die dag is afgesluit met ’n vertoning deur die bekende kunstenaar Desiré Gardner. Haar eenvrouvertoning het die gehoor laat lag en dink met anekdotes oor die fiktiewe karakter Magda Louw. Deur hierdie karakter het sy ’n universele blik op die lewe van vroue gebied: hul drome, uitdagings en die alledaagse vreugdes en frustrasies waarmee hulle hulself kan vereenselwig.

Die viering was ’n herinnering dat vroue in die onderwys nie net opvoeders is nie, maar ook draers van wysheid en bouers van hoop.
Hulle is diegene wat generasies van leerders begelei, vorm en inspireer. Soos een spreker dit gestel het: “Wanneer vroue hulle stem gebruik, praat hulle nie net vir hulself nie, maar namens hul gemeenskappe”.
Lees: Metro vat Kleinfontein hof toe oor ‘ongeldige’ soneringsaansoek
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
