EntertainmentLocal news

Jong man ontvang hooptoekenning by LIG-konsert

Koben Hofmeyr het sy pyn in hoop omskep – en is tydens die AfriSkuld LIG-konsert met die Mathys Roets-toekenning vereer vir sy boodskap van veerkrag en inspirasie.

Die motiveringspreker Koben Hofmeyr van Louis Trichardt is Vrydag tydens die AfriSkuld LIG-konsert in die AfriForum Teater in Pretoria met die Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer.

Hofmeyr het in 2018 op 16-jarige ouderdom sy nek tydens ’n rugbywedstryd in Bela-Bela gebreek. Hy het desondanks merkwaardig herstel en het sy verhaal omskep in ’n boodskap van inspirasie as motiveringspreker en aanbieder.

Die Mathys Roets-toekenning is in 2022 ingestel. Roets is ná ’n motorfietsongeluk in 2009 gedeeltelik verlam, maar het nooit sy geloof of sy musiek laat vaar nie.

In Augustus 2022 het Roets verder sy vasberadenheid gewys toe hy, ná sy motor wat op ’n grondpad in die Karoo onklaar geraak het, alleen met sy rolstoel ’n lang stuk grondpad aangedurf het om hulp te kry. Hierdie gees van volharding en hoop lê aan die kern van die toekenning.

Dirk Venter (tolk), Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand oorhandig die toekenning aan Koben Hofmeyr en Prop.

Vorige ontvangers van die toekenning sluit in:

– Mathys Roets, vir sy lewenslange inspirasie en veerkrag ná sy ongeluk in 2022

– Prop, vir sy rol en aanhoudende bydrae in die Afrikaanse musiekbedryf in 2023

– Simoné Kruger, paralimpiese diskusatleet wat internasionale prestasies behaal het in 2024.

Die LIG-konsert, nou in sy vyfde jaar, is aangebied deur Solidariteit Helpende Hand en AfriSkuld. Vyf kunstenaars het die verhoog gedeel: Prop, Chris “Plakkies” Steyn, Die Ventertjies, Kosie Beukes en Arnold de Wet. Die konsert was toeganklik met rolstoelgeriewe, gidshonde en die bydrae van Dirk Venter, ’n gebaretaaltolk.

Chris Steyn, oftewel Plakkies, het die gehoor vermaak.

Die konsert ondersteun jaarliks ’n student met ’n gestremdheid deur middel van ’n rentevrye Solidariteit Helpende Hand-studielening. Tot dusver het onder meer ’n siggestremde regstudent en ’n student met gehoorverlies reeds van hierdie fonds gebruik gemaak.

René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, sê: “Die Mathys Roets-toekenning beklemtoon mense wat hulle beperkinge omskep in ’n bydrae tot ander. Dit is die hartklop van LIG.”

Kosie Beukes en Prop en sy seuntjie Adriaan het die gehoor vermaak.

Volgens Roux wys die ontvangers van 2022 tot 2025 ‘hoe veerkrag, talent en diensbaarheid saam hoop wakker maak in ons gemeenskappe’.

Sy het ook al die borge bedank wat die geleentheid moontlike gemaak het.

Om betrokke te raak by Helpende Hand se projekte vir mense met gestremdhede, besoek helpendehand.co.za/nasionale-takke/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button