EntertainmentLocal news

Pretorianer maak groot deurbraak met ATKV-Crescendo GOUD

Lizl Simoes is gekies om deel te wees van die ATKV-Crescendo-program, waar sy haar talent as sanger, liedjieskrywer en klavierkunstenaar sal uitstal.

’n Jong musiekkunstenaar van Pretoria, Lizl Simoes, het ’n groot deurbraak in haar loopbaan gemaak toe sy gekies is om deel te wees van die ATKV Crescendo GOUD-program, een van Suid-Afrika se mees prestigeryke musikale ontwikkelingsinisiatiewe.

Hierdie program, wat vier talentvolle kunstenaars vanaf Oktober ’n platform gee om hul musikale drome na te jaag, het haar die kans gebied om nie net haar eie musiekloopbaan te bevorder nie, maar ook om as mentor en inspirasie vir ander opkomende kunstenaars te dien.

Simoes se insluiting in hierdie eksklusiewe groep is ’n erkenning van haar talent en ook ’n bewys van haar deursettingsvermoë en haar passie vir musiek.

Lizl Simoes Foto: Verskaf

Sy is tans ’n klavierjuffrou, meestersgraadstudent, liedjieskrywer en sanger.

Volgens haar ma, kon sy sing nog voor sy kon praat.

Op vyfjarige ouderdom het die gebore en getoë Pretorianer met klavierlesse en op nege met sanglesse begin. Op die verhoog, met ’n mikrofoon in die hand, is waar sy werklik tot haar reg kom.

“My eerste sangjuffrou het daarin geglo om haar leerlinge soveel geleenthede moontlik te gee. Van kleins af het ek die voorreg gehad om die binnekant van ’n opnamestudio te beleef.”

Dit is egter eers nadat sy op hoërskool ’n betowerende uitvoering van Grieg se klavierconcerto in A mineur deur die pianis Olga Kern gehoor het dat Simoes geweet het sy moet haar passie ná skool uitleef.

In 2024 voltooi sy haar B.Mus.-graad.

Op die oomblik is sy besig met haar meestersgraad in musiek aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek wil soos daardie eerste sangjuffrou van my alles doen om my leerders na hoër hoogtes te lei. My musiek is vir my soos ’n oop dagboek vir almal om te sien, hoor en voel.”

Sy vertel dat sy altyd op soek is na ’n musikale avontuur.

“Ek kan nie weg om my reis saam met ATKV Crescendo aan te pak en met nuwe style en genres te eksperimenteer nie.”

Simoes woon vandeesmaand die finale slypskool in voorbereiding vir ATKV Crescendo GOUD-sesproduksie op 4 Oktober by, ’n produksie waar sy saam met 2026 se drie ander opnamekunstenaars aan gehore bekendgestel gaan word.

ATKV Crescendo
Petronel Baard, sanger en mentor in die ATKV-Crescendo-GOUD kompetisie. Foto: Verskaf

Die ander drie kunstenaars is: Mark Pekeur, ’n Paarliet wat aan die Musical Theatre Masterclass studeer; Salvador Mouers, ’n hiphop- en R&B-kunstenaar al die pad uit Windhoek, Namibië; en Tamryn Paulse, ’n pastoor en ma van drie van die Paarl.

Hulle sal op 4 Oktober deur sanger Petronel Baard, Craig Lucas en die Crescendo-orkes onder leiding van William Jacobs aan Suid-Afrika bekendgestel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button