Vandale beskadig beelde, plaas replikas dringend vra kenner
Beelde by die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein is gevandaliseer. Die Erfeniskomitee stel voor om die oorspronklikes met replikas te vervang en beter nagbeskerming in te stel. Fondswerwing word oorweeg om hierdie historiese erfgoed te bewaar en verdere skade aan die beeldgroep te voorkom.
’n Ontstellende voorval van vandalisme op Kerkplein in die middestad van Pretoria het weer die dringendheid beklemtoon van beter beskerming vir dié historiese ruimte en die beeldegroep wat daar staan.
Een van die bronsbeelde rondom die bekende Paul Kruger-standbeeld is vanoggend gevandaliseer gevind, met die voet van een van die burgerbeelde wat afgesaag is en ander wat skade opgedoen het, soos die beelde wat met beskadigde geweerlope aangetref is.
Sakkie du Plooy, voorsitter van die Pretoria Erfeniskomitee, het aan Rekord meegedeel dat ’n metro-amptenaar die skade op die oggend van 26 September vroeg ontdek het.
Dit blyk dat die heining rondom die beelde beskadig is om toegang tot die beeldegroep te vind.

“Dit is duidelik dat meer as een beeld gevandaliseer is. Ek dink nie dit is polities gemotiveer nie. Dit is eerder mense wat die koper probeer steel. Ons weet daar is snags slapers op die plein,” sê Du Plooy.
Hierdie voorval vind plaas in dieselfde jaar waarin Paul Kruger se 200ste geboortedag op 10 Oktober herdenk word en verskeie vieringe daarrondom gereël is.
“Wat ’n treurige situasie. Ek dink Oom Paul sou met hartseer kyk na wat om sy beeld gebeur. Dis jammer want die standbeeld en beeldegroep is deel van ons erfenis,” voeg Du Plooy by.
Volgens hom is dit nou noodsaaklik om ernstig te besin oor die toekoms van die Paul Kruger-beeld op Kerkplein.
Daar word voorgestel dat die oorspronklike bronsbeeld vervang word met ’n replika, en dat streng nagbeskerming deur die metropolisie en polisie ondertussen by Kerkplein by die beeldegroep ingestel word.
“In Europa word sulke historiese beelde dikwels vervang met replikas, en die oorspronklikes word veilig bewaar. Ons moet dieselfde oorweeg. Die beeldegroep hier is eenvoudig te kwesbaar,” sê Du Plooy.
Hy het namens die Pretoria Erfeniskomitee aan organisasies soos die FAK en die Krugergenootskap ’n beroep gerig om te oorweeg om fondswerwing vir die beskerming van die beeldegroep en die maak van ’n replikabeeld te doen.
“Ons moet besin oor wat ons met die beeld van Oom Paul op Kerkplein gaan doen. Gaan ons toelaat dat hy verder so verniel word?”
Hy wil ook voorstel dat ’n replika van die Kruger-beeld, soortgelyk aan dié wat op Erfenisdag vanjaar van die Voortrekkermonument na Orania geneem is, in die plek van die oorspronklike op Kerkplein geplaas word. Hierdie replika, tans op reis na sy nuwe tuiste, is reeds twee jaar gelede gemaak.
“Ons is dankbaar dat die metro die plein skoon en veilig hou in die dag, maar die aande se beskerming bly ’n probleem. Metropolisie is aan diens tot hul skof eindig, en dan is daar genoeg tyd vir oortreders om skade aan te rig. Dit is nie net skade aan metaal nie, dit is erfenisskade,” waarsku Du Plooy.

Die metro en polisie is reeds betrokke om die veiligheid van die plein te verbeter, veral vir toeriste wat bedags die historiese middestadbestemmings soos Kerkplein besoek.
’n Toekomsvisie sluit nou ook in: veilige nagpatrollies, beter beligting, en ’n ernstige oorweging om die oorspronklike beelde elders veilig te bewaar en slegs replikas op die plein te vertoon.
“Ons vertrou dat die publiek, sowel as instansies, sal help om die nodige fondse bymekaar te bring. Hierdie beeldgroep is nie net ’n historiese bestemming vir toeriste nie, maar deel van Pretoria se nalatenskap aan die inwoners van die hoofstad en Suid-Afrika,” het Du Plooy afgesluit.

Die beeldegroep is ook vantevore gevandaliseer toe van die fries-bronsplate by die voetstuk gesteel is.
– Kommentaar is van die metro aangevra oor die moontlikheid om nagbeskerming aan die beeldgroep te bied en sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.
LEES OOK: Omstrede Afrikaanse film gaan temperature laat styg
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
