Local news

Ecoglen bou groen erfenis al vir 21 jaar

Ecoglen het sy 21ste bestaansjaar gevier met 120 mense langs die Moreletaspruit. Aktiwiteite het ’n skattejag, slangdemonstrasie en boomplanting ingesluit. Aimee Ginsberg noem dit ’n droom wat waar geword het. Die gemeenskap wil verder saam aan ’n groener en meer volhoubare toekoms in Pretoria-oos bou.

Onder die skadu van hoë bome langs die Moreletaspruit het inwoners van Lynnwood Glen en buurte in Pretoria-oos sowel as Mamelodi op 13 September bymekaar gekom vir bewaringsorganisasie Ecoglen se 21ste-herdenkingsdag vol pret en plesier in die buitelug deur om piekniek te hou en met pryse en toepassing van praktiese natuurkennis vir oud en jonk.

Aimee Ginsberg, bestuurslid en woordvoerder van Ecoglen, sê: “Hierdie dag gaan nie net oor ’n mylpaal nie. Dis ’n viering van die hardwerkende natuurliefhebbers se toewyding wat dit moontlik gemaak het om 21 jaar die natuur te dien. Die 21 jaar van die organisasie se bestaan wys wat gebeur wanneer ’n gemeenskap saamwerk om iets moois en kosbaars te bewaar.”

Ecoglen (www.ecoglen.org.za) is ’n gemeenskapsgebaseerde, nie-winsgewende ‘vriende van’-vereniging van die landwye eko-bewaringsgroep, die Wildlewe- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika (WESSA).

Ecoglen, in vennootskap met die metro en plaaslike bewaringsgroepe, sorg vir die bewaring van die natuurpark en groenstrook langs die Moreleta- en Waterkloofspruite.

Een van die hoogtepunte van die dag was ’n skattejag vir kinders van alle ouderdomme. Deelnemers het leidrade gekry om legkaartstukke op te spoor, en die wenspanne het uiteindelik die prent ontsyfer van ’n Kaapse kloulose otter, Suid-Afrika se mees wydverspreide otterspesie wat goed aard in gesonde rivier-ekosisteme.

Teuns Diemont van die Lynnwood Glen Village Huiseienaarsvereniging het met kenmerkende gasvryheid vir gaste en besoekers sappige boereworsrolle voorberei.

Dit was die Slangbewustheids- en Demonstrasiesessie deur Access Professional Development wat die aandag van oud en jonk vasgevang het.

Nick van der Walt, met sy unieke talent om wetenskaplike kennis vermaaklik aan te bied, het basiese slangbiologie verduidelik, belangstellendes touwys gemaak oor watter spesies slange gevaarlik is en watter nie, en nuttige wenke gegee vir slangbyt-voorkoming.

Sy kalm hantering van lewende slange in ’n beheerste omgewing het selfs die bangstes laat nader staan en in sommige gevalle, laat aanraak.

Geen verjaardag is egter volledig sonder koek nie. Tuisgebakte lekkernye deur Berenice van der Merwe en Lorenda Beaumont het vinnig verdwyn. Niemand het hulself twee keer laat nooi nie!

Daar was ook groot opgewondenheid toe die wenners van Ecoglen se logo- en slagspreukkompetisie aangekondig is: Oliver en Gabriel de Klerk.

As ’n simboliese gebaar van hoop en volgehoue sorg, het die Ecoglen-gemeenskap ook ’n geelhoutboom geplant.

Die boom is volgens Ginsberg ’n beskermde Suid-Afrikaanse spesie wat vir dekades skadu, kos vir voëls en grondstabiliteit sal bied langs die spruit.

Gaste is bederf met geskenksakkies wat klein kompospakkies ingesluit het sodat elkeen kon help om ’n ekstra bietjie groei in die grond te sit tydens die aanplant van plante in die groen stroke.

Ander pryse en bydraes is met waardering ontvang van Chamberlain Waterkloof Glen, Lots of Pots, Plantland en Karoo Café Nursery, wat ook ’n mooi verskeidenheid plante ten toon gestel het wat geskik is vir voëls, bye en skoenlappers.

“Hierdie was só ’n lekker dag in die natuur en ’n droom wat bewaarheid is vir die mense wat vir jare al hul harte en hande gee om hierdie groen strook lewendig te hou,” het deelnemer Lorraine Badenhorst gesê.

Vir Ginsberg en haar bestuurspan en groen aktiviste is daar ook ’n dieper boodskap agter die vieringe gewees.

“Die wêreld staan vandag voor werklike risiko’s. Die verlies van die natuur het direkte gevolge vir werksgeleenthede, gesondheid en die veerkragtigheid van stede soos Pretoria. Om groen stroke en plekke te bewaar, help nie net om ons riviere skoner en ons woonbuurte koeler te hou nie. Dit gee ook ons kinders ’n plek om van die natuur self te leer. Om vir ons plaaslike groenstroke te sorg, is een van die eenvoudigste, maar kragtigste maniere om ons toekoms te beskerm,” sê Ginsberg.

– ’n Goeie eerste stap om hande te vat as natuurliefhebbers is om aan vanjaar se Great Southern BioBlitz van 24 tot 27 Oktober 2025 deel te neem. Al wat jy moet doen, is om buite te stap, ’n foto te neem van enige wilde plant of dier, en dit op iNaturalist op te laai. Elke waarneming help wetenskaplikes en grondbestuurders van die owerhede en nie-winsgewende natuurorganisasies soos Ecoglen en WESSA om beter besluite te neem.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button