Gemeenskapsdruk dwing metro tot aksie om lekkasie te herstel
Die metro het uiteindelik ’n aanhoudende rioollekkasie en reuseslaggat in Pretoria-Noord herstel. AfriForum het fondse ingesamel om self die werk te doen, maar die metro het skielik ingespring.
Danksy volgehoue druk van AfriForum en die betrokke gemeenskap is ’n gevaarlike ondergrondse rioollekkasie in die noorde van Pretoria uiteindelik deur die metro herstel.
Die lekkasie het ’n reuse-gat in Rachel de Beerstraat onder die duikweg veroorsaak, wat vir meer as nege maande verkeer ontwrig het en ’n gesondheidsgevaar vir inwoners ingehou het.
Die metro het op 5 Oktober met die herstelwerk begin en dit ’n dag daarna voltooi. Dié herstelwerk volg op vier vorige onsuksesvolle pogings, wat elke keer slegs tydelike verligting gebring het.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is die onderliggende probleem verouderde en swak onderhoude infrastruktuur, telkens net gedeeltelik aangepak, eerder as om die pyplyn volledig te vervang.
“Dis eers ná die gemeenskap en AfriForum se druk dat die metro tot aksie oorgegaan het. Net toe ons met die metro begin reëlings tref om die werk professioneel en deeglik te laat doen, daag hulle skielik op en begin haastig met herstelwerk,” sê Hemmens.
“Dit was egter duidelik ’n poging sonder behoorlike beplanning of kommunikasie. Niemand het geweet wat om te doen nie en die gehalte van die werk laat baie te wense oor.”
Volgens hom het die reuse-gat, van ongeveer 2m in deursnee en net so diep, talle motoriste se voertuie beskadig, terwyl die rioollekkasie self ernstige gesondheidsrisiko’s vir inwoners ingehou het.

Hy verduidelik ná maande se frustrasie het AfriForum se Noord van die Berg-tak besluit om self op te tree.
’n Fondsinsameling is op sosiale media van stapel gestuur en binne drie weke is R130 000 ingesamel, genoeg om ’n privaat kontrakteur aan te stel vir die herstelwerk.
Ironies genoeg het die metro kort daarna onverwags met herstelwerk begin, sonder om van AfriForum se beplande hulp gebruik te maak.
Hemmens vra waarom daar eers opgetree is nadat die publiek hul stem begin dik maak het.
“Dit wys duidelik dat die metro eers reageer wanneer die gemeenskap hulle aanvat. Ons sal die situasie monitor om seker te maak dat die herstelwerk volgens standaard gedoen is en nie net as ’n haastige poging gedoen is om kritiek stil te maak nie.”
Hoewel AfriForum die herstel verwelkom, sê hulle dat hulle steeds toesig gaan hou oor die kwaliteit van die werk.
Die geld wat ingesamel is, sal nou gebruik word om ander infrastruktuurprobleme in die noorde aan te spreek, veral die toenemende aantal slaggate.
Hemmens het die inwoners bedank vir hul betrokkenheid en steun.
“Gemeenskapskrag werk en dít is hoekom ons aanhou druk toepas.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
